{ARGIEF}

deur Gerda van Schoor
piketberg-okt14-1
Spatsels rooi baadjies, serpe, krale en rooi servette op elke tafel het ons herinner aan Adri-Louise van Reenen wat nog verlede jaar ons Vroueverrykingsgeleentheid aangebied het. Maar, dit het ook ‘n warm gevoel in die saal gegee.
‘n Georganiseerde chaos het uitgebreek toe elkeen ‘n “vriendelike vreemdeling” moet soek om die middag jou storie mee te deel.  Toe ons eers weer ons sit gekry het,  dis so lekker om te gesels, moes ons eers ontdek wie hierdie persoon langs my is. LUISTER en moenie inmeng nie, was die opdrag. Gesels oor jouself (persoonlik), nie oor ander nie (veralgemeen). Dit is nie so maklik nie. Dit neem ‘n mens uit jou gemaksone om te deel met ‘n “vreemdeling” en tog het dit gevoel asof ons mekaar reeds lankal ken.
Waar is ek op die oomblik in my geloofslewe? Met die lees van Eva se gebed was daar vassteekplekke waar ek wou sê stop – hierby moet ek eers stilstaan. Dit is wat ons moet doen. Die Here neem ons op ‘n reis saam met Hom – deur goeie en slegte tye, Hy wat my voorberei vir iets groter as myself. En deur dit alles sorg die Here ook vir ons menswees. Hy gee sy Gees om my sterk te maak, die hoop en lewe te dra en boonop gee God vir my mense wat my liefhet.
Maria het die grootste verrassing van haar lewe gekry toe die engel Gabriël voor haar staan en aankondig dat sy ‘n baba gaan kry. Uit die gedeelte van  Lukas 1:26 – 38 kon ons sien hoe sy gereageer het op hierdie aankondiging. Sy het gehoor dat sy die Begenadigde is, dat die Here by haar is,  dat sy nie bang hoef te wees nie, en wat sy die ou babatjie moet noem – Jesus, die Seun van die Allerhoogste, Hy sal koning wees oor die nageslag van Jakob, en daar sal geen einde aan sy koningskap wees nie. Die Heilige Gees het in haar hart kom werk en sy het haarself  tot beskikking van die Here gestel.  Die Here het vir haar ook ‘n “vriendin” gegee, ‘n tweede moederhuis, in die gestalte van Elizabeth. By God is niks onmoontlik nie.
Ons kon vandag LUISTER, ons kon bewus raak van die Gees van God en hoe Hy ons vorentoe sal voorberei vir groter dinge.
Waar het ek vandag vir God raakgesien? Hoor ek Hom as Hy iets van my vra?  Die liefde wat Hy vir my het, gee ek dit terug?
“Ek is vrou, uniek geskep deur God” wil ek net vir ‘n oomblik indrink en ek wil ‘n bietjie gaan stilsit by God se voete en in verwondering net dáár wees.
piketberg-okt14-2