{ARGIEF}

waarderingsOnthaaldeur Esther Blackaller
Die Waarderingsonthaal het sy ontstaan in die 1970’s/1980’s met die doel om waardering te betuig teenoor afgetrede dames van die Vrouesendingbond wat onontbeerlike werk binne die Kerk se sendingaksies verrig het.  Mettertyd is getroude sendelinge ook genooi.
Dit sluit ook persone in wat in kerklike diens was in, soos die Kweekskool, Minnie Hofmeyr Kollege, Hugenote Kollege en afgetrede personeel in sinodale diens (afgetrede predikante uitgesluit).
Die Waarderingsonthaal het hierdie jaar op  30 Oktober 2013 by NGK Strand-Noord se saal plaasgevind. Dit was ‘n kuiergeleentheid om genooides wat mekaar min sien, die kans te gun om saam te kuier.
Antoinette Muller, voorsitter van die sinodale taakspan vir Vrouebegeleiding, het die gaste kortliks begelei in die geloofsreis met die lees van Eva se gebed.
‘n Pianis, Ria van Wyk, ook ‘n afgetrede dame van die Strand het pragtige klank verleen aan die heugelike geleentheid.
Elke gas word baie spesiaal trakteer en ontvang ‘n roos aan die einde van die onthaal.
Hierdie geleentheid was veral besonders vir ds Johan en mev Joan Venter van Wellington. Tannie Joan het vooraf versoek dat haar man so graag nog híérdie geleentheid wil bywoon, tsv die feit dat hy baie siek is aan Parkinson’s se siekte. En so het hul dogter Hannarie en die versorger hul vergesel. Ds Johan, was jare lank in diens van die NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika Olifantshoek en Deben terwyl hulle woonagtig was op Sishen en Kathu. Tannie Joan (néé Laubscher), gebore in Bellville het haar Sendingkursus in 1951 aan die Hugenote Kollege voltooi. Die Vrouesendingbond (VSB) stuur haar uit na Mochudi-sendingstasie in Botswana, waar sy vir elf jaar verantwoordelik was vir die kantoorwerk van die sendingstasie en die Deborah (Borrie) Retief Memorial Hospitaal, asook die geestelike sy van die werk soos Sondagskool, katkisasie en bidure.
Tannie Joan skakel twee weke later en noem dat, ds Johan op 11 November 2013 oorlede is.  Sy bedank ons innig vir die kosbare geleentheid waar hulle só bederf was en vir oulaas kon saamkuier met ou bekendes.  Hulle is ook dankbaar teenoor ds Christo Alheit, oud-saakgelastigde wat vir soveel jare die persoon namens die predikante Pensioenfonds was, wat ook met hul ‘n tafel kon deel.  Ds Johan Venter (VDM) se naam is verewig in ons gasteboek en harte.
Hierdie geleentheid is elke jaar ‘n belangrike datum op elkeen se kalender.  Die gaste het groot waardering vir die feit dat hulle elke jaar onthou word en belangrik genoeg geag word om te bederf, as ‘n blyk van waardering vir hul diensbaarbeid in koninkrykswerk.
waarderingsOnthaal2