{ARGIEF}

Die natuur om ons

CLF1
Nuut in CLF se reeks pamflette is twee onderwerpe wat verband hou met die natuur. Diere in die Bybel is ʼn interessante waarneming van die rol wat diere in die Bybel gespeel het. Prof Jannie du Preez lig op sy kenmerkende manier die belangrikheid van diere in die Bybel uit. Hy wys op God se deernis in die sorgvuldigheid waarmee hy elke dier geskep het, dat God deernis en sorg wys selfs vir ʼn mossie en ʼn swaeltjie.  Hy verwys ook na Martin Luther wat gesê het: “Wys my hoe jy jou hond behandel en ek sal jou sê watter soort mens jy is!”
Prof du Preez vra ten laaste – “As die diepste doel van die hele skepping dan is om lof aan die Skepper en Verlosser te bring, dwing dit ons om te vra: Is dit nie die heerlike plig en voorreg van die mens, wat as beeld en verteenwoordiger van God oor die aarde en sy diereryk aangestel is, om teenoor diere só op te tree dat ook hulle die doel van húlle bestaan steeds beter sal kan verwerklik nie?”
Hierdie vraag is weliswaar ook van toepassing op die pamflet wat handel oor ekologie. Ons woon in die aarde, geskryf deur prof Dons Kritzinger, maak dit baie duidelik dat hierdie ‘huis’, hierdie aarde waarin ons woon, in groot moeilikheid is.CLF2
God se skeppingsdoel was juis dat mense – geskape na God se beeld, medeverantwoordelikheid moet neem vir God se skepping. Die mens is bedoel om die skepping te bestuur, maar oral is die bewyse dat ons jammerlik hierin faal. Die pamflet lig tasbare voorbeelde van hierdie probleme uit en gee dan aan die hand van Christenwees riglyne wat ons kan doen om anders op te tree, te leer dink en doen om die hartseer stand van sake te probeer beredder.
Hierdie pamflette is soos altyd gratis, maar in beperkte hoeveelhede beskikbaar by CLF. Vir meer Inligting, besoek www.clf.co.za of stuur ʼn e-pos aan info@clf.co.za. U kan ook ʼn bestelling plaas deur 021 873 6964 te skakel.