{ARGIEF}

p1
deur Pieter van Jaarsveld
Het jy die afgelope tyd jou eerste geluksaktiwiteit nl. Dankbaarheid, beoefen? Wens ek kon by elkeen hoor hoe dit gegaan het!
Voordat ons inklim met ons volgende aktiwiteit, eers weer net vinnig die volgende: Onthou God het ons geskape om gelukkig te wees (Joh.10:10). Jammer dat so baie Christene so ongelukkig is. As jy dink dat meer as 80% van Suid-Afrikaners hulself Christene noem, dan is daar iewers fout as jy na die volgende kyk: Die nuutste Geluksindeks van die VN, waar die geluksvlak van 156 lande aangedui is, is SA 113de, twee plekke bo Zimbabwe. Hartseer dat ons sedert 2013 vanaf 96’e plek na 113 afgeskuif het. Ai, tog! En dit nog voor “loadshedding”!
Goeie nuus! As ek en jy ons gedagtes verander, verander ons emosies en kan ons reeds ‘n verskil in ons omgewing maak. Jy onthou mos nog dat jou gevoelens ander binne 2-16 minute beïnvloed tot 3 meter van jou af? Ja, selfs oor ‘n foon?
So, ek en jy, gaan ons kant bring en hier kom Aktiwiteit no. 2 (hierdie een aktiwiteit is juis belangrik omdat dit ons geluk wegvreet):

Geluk Aktiwiteit No 2: DIE VERMYDING EN AFLEER VAN OORMATIGE OORPEINSING (TOB) EN SOSIALE VERGELYKINGS

Sommige mense kan herkou en herkou aan ‘n gedagte totdat daardie ou koutjie ‘n bitter smaak het! Oormatige oorpeinsing is presies wat dit sê, naamlik om dit te oordoen, onnodiglik, die oorpeinsing van waaroms, oorsake, gevolge en jou probleme: “Waarom is ek so ongelukkig, wat gaan gebeur as ek aanhou om dinge uit te stel” of “wat gaan gebeur as ek nie hierdie werk kry nie”.
Hierdie tipe van oorpeinsing gee nie net aanleiding tot ongelukkigheid nie, maar dit dreineer jou energie, dit verminder jou motivering en verbreek jou konsentrasie.
Ek het ‘n jongman in ABSA op ‘n kursus ontmoet. Sy pa is oorlede toe hy vyf jaar oud was en sy babasussie       8 maande. Hy het my vertel hoe hy steeds omgee vir sy sussie wat toe reeds tweede jaar op universiteit was. Sy was deurmekaar met dwelms en hy het kronies daaroor getob. Sien, hy het “omgegee” vir haar, maar haar probleem was konstant in sy gedagte en hierdie “oormatige omgee” het nou ‘n bekommernis geword met al die slegte effekte op sy liggaam.
Jy onthou mos nog dat 5 minute van bekommernis (of enige negatiewe emosie) ‘n invloed op jou immuunsisteem het en jou kan siek maak?

SOSIALE VERGELYKING

Ai, dit is so menslik om die groot motor van die bure raak te sien terwyl jy in jou Nissantjie rondry! ‘n Mens kan nie help om op te let dat jou vriende, jou familie, jou spanlede, ryker, opgewekter, meer intelligent, meer aantreklik, as jy is nie. Dit is so menslik om op Facebook te kyk en ‘n ou skoolmaat te sien en ewe skielik te voel dat sy eeue jonger as jy lyk. Meer nog, sy is ‘n vennoot in ‘n groot besigheid en ry nog by dit alles ‘n spoggerige Mercedes ook! Jy kan die foto’s van hulle onlangse skivakansie in Oostenryk ook nie miskyk nie. Julle kon nie eens vanjaar Hartenbos bekostig nie! Die groen jaloesie steek nou lekker sy kop uit. Dit lei ongelukkig soms tot gevoelens van minderwaardigheid, ongelukkig-heid en mismoedigheid. Ek moet darem bysê dat dit ook ‘n mens soms kan inspireer om jou lewe te verbeter.

Hoe om sosiale vergelyking en tob af te skud.

Sosiale vergelyking: In plaas daarvan om met begerige oë na ander te kyk, kyk na jou eie lewe en of jy volgens jou eie waardes en beginsels lewe.
Vra vir jou die volgende af:
• As jy aan die einde van jou lewe kom, wat moet vir jou uitstaan van jou lewe?
• Wat wil jy graag in jou lewe verbeter en verander?
Lewe dan daardie lewe en ander mense kan weer hulle lewe leef. Later wanneer ons oor passie, doel en doelwitte praat kan jy meer aandag hieraan gee.
As dit een van die aktiwiteite is wat jy wil kies, kies een van die volgende om van tob ontslae te raak. Een wat jy weet by jou sal pas.

Tob en oorpeinsing:

Druk dit in die kiem dood:
Eerstens: Jy moet die nare gewoonte van om te tob, uit jou lewe weer. Lei jou gedagtes dadelik af wanneer jy oor dinge soos die volgende tob: “Hoekom is my rol so klein in die toneelstuk; Ek gaan nooit ‘n verhoging kry nie; Mense ignoreer my altyd.” Fokus dadelik jou aandag op iets wat vir jou lekker is, soos gaan draf vinnig (vinnige hartklop doen wondere), gaan lees ‘n lekker boek, gaan kyk na ‘n snaakse video-“clip” of gaan drink tee saam met ‘n vriendin. Doen dus iets wat jou aandag ten volle in beslag gaan neem.
Tweedens: Sê hardop vir jouself “Stop!” of “Nee!”. Later kan jy dit dan net saggies in jou gedagtes sê as jy weer besig is om te tob.
Derdens: Sit ‘n rekkie om jou arm en sodra jy weer met die “tobbery” begin, trek die rekkie en laat dit vinnig terugskiet. Nogal lekker seer manier om daarvan ontslae te raak! Sommige skryf in groot rooi letters op ‘n kaart “STOP” en dra dit orals rond. Indien hulle in die versoeking van tob verval, ruk hulle net hierdie rooi kaart uit. Dit klink amper soos sokker/rugby!
Vierdens: Sit vir jou elke dag 10 minute opsy wanneer jy jouself toelaat om te tob. Wanneer die gedagte dus in jou kop kom waaroor jy wil tob, sê vir jouself jy gaan dit gedurende die tyd doen wat jy daarvoor opsygesit het.
Vyfdens: Praat met iemand wat jy kan vertrou oor daardie dinge wat jou pla en probleme veroorsaak. Dit is ongelooflik dat as ‘n mens dit met iemand bespreek, die negatiewe emosies sommer makliker verdwyn. Daar is groot waarde daarin om dit te bespreek!
Sesde: Skryf dit wat jou pla, neer. Maak nie saak of jy dit op die rekenaar tik nie, sommer op ‘n weggooistuk- papier neerskryf, of wat ook al nie. Daardeur orden jy jou gedagtes en mag jy dan tot ander insigte kom. Meer nog, die neerskryf laat jou ontslae raak van jou negatiewe gedagtes.

Hanteer die probleem:

Kyk na die dinge waaroor jy tob en besluit hoe jy dit gaan oplos.

Kyk na die groter prentjie:

Kom ons sê jy tob oor: “My bestuurder neem meer notisie van Wilma”, of “ Ek is die enigste een wat nie na die partytjie toe genooi is nie!”, of wat ook al. Vra jouself af of dit nou werklik belangrik gaan wees oor ‘n jaar!
As dit egter iets is wat tog oor ‘n jaar wel saak sal maak, vra jou dan af wat leer jy hieruit. Hoe kan dit jou help om dit te oorkom of verbeter?
Nouja, volgende keer gesels ons verder.
Groetnis, en vind jou geluk!
Pieter