{ARGIEF}

deur Mariëtte Steyn
Elkeen van ons se lewe leef ons op ‘n unieke manier en skryf so dus ons eie storie. Elkeen se storielyn is uniek en ons hoofstukke verskil dikwels baie.
Soms is daar mooi dele: groen berge, branders wat inrol, kinders se lag, mense se omgee. Ander kere is daar gate in die pad, alleentye, seerkry-tye, te hoë berg- toppe … Onsekertye kom in almal se lewens, in veranderinge wat mens soms doelloos laat ronddobber, in nuwe uitdagings wat wag!
In ‘n mate is ons bediening ook nou, na die Sinodale Konferensie, by so ‘n onsekertyd. Die konferensie is verby en ons kan terugkyk na ‘n wonderlike dag waarin vroue verskillende ervarings gehad het. Vanaf p4 vertel ons vroue ‘n klompie stories en foto’s beskryf die verhaal van 3 Junie.
Maar nou lê ‘n nuwe pad vir ons voor met ‘n nuutverkose taakspan. Ankia, ons is opgewonde oor jou en sien uit na die pad saam met jou, Riana, Nelda en Liezl. Ons glo dat ons taakspan binnekort nog sal uitbrei. Uitdagings gaan daar beslis wees, want die ervare rolspelers se tyd het uitgeloop. Esther van ons kantoor groet ons ook aan die einde van Julie en soms wil-wil ek benoud raak as ek dink waar is al die ervaring ewe skielik heen.
Maar, dan onthou ek skielik die verhaal van die Emmaüsgangers wat moedeloos was oppad terug huis toe. Ja, hulle het geglo Hy was die Een wat sou kom, wat die dood sou kom oorwin en nou is Hy al drie dae “dood”. Maar dan stap Iemand skielik saam met hulle. Iemand wat hulle a g v hul hartseer, ongelukkigheid of wanhoop nie herken nie. Totdat Hy hul oë oopmaak.
Ek glo dus dat God ook saam met ons nuwe span gaan stap en vir ons sal help met die pad vir ons Vrouebediening.
Ons lees in hierdie Interaksie van ons nuwe voorsitter se entoesiasme en opgewondenheid vir die tyd wat voorlê. Ons lees die mooi verhale wat uit die sinodale byeenkoms kom en ons lees pragtige stories van wat in gemeentes en in ander afdelings van die kerk gedoen word waar veral vroue Jesus se hande en voete is.
Ja, dis winter in die Kaap en hier rondom ons in Durbanville is lanings bome kaal gesnoei. Lelik! Maar, hierdie “seerkry” van ons natuur gaan eersdaags ‘n metamorfose ondergaan. Die bome gaan weer bot en daar gaan weer nuwe “groei en lewe, bloeisels en blomme” voortspruit. So glo ons gaan daar ook baie nuwe dinge voortspruit uit ‘n nuutverkose taakspan en ons is opgewonde.
Ons dank ons Hemelvader vir seisoene in ons lewe – waar ons soos die natuur, moet rus sodat ons met nuwe ywer in die volgende lente kan ontwaak.
m sign
mariette foto