{ARGIEF}

Lydenstyd kan soms sy trefkrag verloor as die kruis net elke jaar voor in die kerk staan. Die kruis mag nooit “goedkoop” gemaak word of so gebruik word dat ons dit nie meer “ervaar” of raaksien nie. Klein simbooltjies van Lydenstyd kan ook saam huis toe gestuur word. Voorbeelde hiervan is: Elke huisgesin kry by die deur gedurende die sewe Lydensweke ‘n piepklein simbooltjie wat dan tuis uitgestal word en tydens huisgodsdiens bespreek kan word. Ons het ses simbooltjies gemaak.

Dit klink na baie werk vir die Simboliekspan, maar dit is regtig haalbaar en lekker om te maak. Begin net betyds! Indien die simbooltjie op die bulletin vasgekram kan word, is dit makliker. Tydens Lydenstyd is ‘n klein blokkie bo aan die regterhoek van die bulletin omraam sodat spykertjies sommer deur die bulletin se hoek gesteek kan word.

WEEK 1: Die Kruis IS die belangrikste. Voor in kerk staan die kruis met ‘n rooi doek en elke gesin kry ‘n houtkruisie (los uitgedeel) gemaak van roomysstokkies / dokter se AAA-keelstokkie. Elke kruisie bestaan uit een en ‘n half stokkie.

WEEK 2: Wit doring vasgeplak op swart kaartjie met teks by: Matt 27:29. Doringkroon om kruis se top.

WEEK 3: Piepklein spykertjie deur bulletin gesteek met teks: Joh 20:25.

WEEK 4: Lam – slegs prentjie in Lydenstyd-blokkie op bulletin se regterhoek. Teks: Joh 1:29. Groot draadlam voor kruis

WEEK 5: Sponsie aan bulletin vasgekram met teks: Joh 19:28. Lang riet met spons teen kruis.

WEEK 6: Rooi kaartjie met sent (vrygekoop) vasgeplak: 1 Kor 7 :23

WEEK 7: Palmsondag – slegs palmtakke kan op die vloer gegooi word sodat almal oor dit stap. (Geen simbooltjie uitgedeel.)

GOEIE VRYDAG: Swart doeke oor kruis

OPSTANDINGSONDAG: Swart vervang met wit en goud. Blomme en liggies teen kruis.