{ARGIEF}

Emosionele intelligensie gee jou kind selfvertroue.

‘n Emosionele intelligente kind is ‘n kind met selfvertroue! ‘n Kind wat ‘n sukses van sy skoolloopbaan, sy verhoudinge en sy lewe sal maak!

Dit is makliker as wat dit klink. Jy hoef geen opvoedkundige speelgoed te koop nie! Maak net ‘n paar aanpassings in jou opvoedingstyl deur die volgende in gedagte te hou:

Beskikbaarheid en betrokkenheid. Tyd wat saam met jou kind spandeer word, programmeer in hulle verstand dat hulle belangrik is. Dit verhoog die selfrespek, selfwaarde en selfvertroue van ‘n kind.

Zig Ziglar, een van VSA se topmotiveerders, sê: ” For a child, love is spelt T-I-M-E”! Hy vertel van ‘n regter wat die seun van ‘n bekende in die regswêreld moes vonnis. Hy wou die seun se gewete aanspreek deur hom na sy beroemde vader te vra: “Wat onthou jy van jou wonderlike vader?” “Ek onthou een keer, Edelagbare, toe ek raad wou vra dat hy gesê het hy is nou baie besig, want hy moet nog hierdie boek klaar skryf.” So het die seun aangegaan met voorbeelde. “U onthou ‘n briljante regsgeleerde. Ek onthou ‘n verlore vriend!” Stof tot nadenke vir ons met ons besige programme!

Jy kan op verskeie maniere weer beskikbaar word:

  • Skakel af die TV en trek weer bordspeletjies en kaarte nader; • Gaan stap saam as gesin – park of museum toe; • Vang weer vis, al wil hulle nie byt nie; • Bespreek weer Sondag se preek, die hoofopskrifte van die koerant.
  • Stop en toets jouself: Hoeveel tyd spandeer jy individueel aan elke kind per dag?
  • Betoon liefde. Kinders wat intieme verhoudings met ouers het, het groter selfrespek, maar ook beter verhoudings. Die saamwees skei ‘n baie belangrike hormoon in die liggaam af wat noodsaaklik vir positiwiteit en gelukkigwees is!
  • Sê met opregtheid “Ek het jou lief” male sonder tal per dag! Wys dit ook nie-verbaal met ‘n drukkie, stoei weer, vroetel met die hare (net nie met die tiener se gejelde hare nie!) Die tiener het ook aanraking nodig, maar wel op ander maniere.

Iemand van betekenis. Die ouers is die spieël vir die kind waarin hy sien hoe ander mense na hom kyk. Indien ons gedurig skel of kla oor sy optrede, dan voel die kind nikswerd nie.

Bill Glass, wat die afgelope 30 jaar onderhoude met gevangenes in die VSA gevoer het, sê dat meer as 90% van hulle van hulle ouers gehoor het: “Jy gaan nog eendag in die tronk beland!”

Stop en toets jouself: Wat het jy die afgelope week gesê en gedoen dat jou kind soos iemand van betekenis kan voel? Hoeveel keer?

Ontwikkel ‘n sin van prestasie. Die gevoel dat die kind in beheer is, is belangrik vir sy selfmotivering.

Elke keer wat die kind self vir ‘n antwoord vir ‘n projek moet soek of self ‘n manier moet vind om die fiets te koop in plaas van te hoor “Wag tot jou volgende verjaarsdag”, kry hy die boodskap dat hy op sy eie inisiatief kan staatmaak. Die kind moet dus reeds vroeg leer om doelwitte, lang-, medium- en korttermyn, te stel.

Lof en kritiek. Lof is belangrik, maar ook nie te veel daarvan nie. Onthou om altyd te fokus op wat die kind gedoen het en die uitwerking op die ander: “Dankie dat jy gehelp het met die skottelgoed. Nou kan ek ook lekker met ‘n boek ontspan.”

Kritiek moet ook gefokus word op wat die kind gedoen het en nie op sy persoon nie, bv wanneer die kind peuter met die telefoondraad terwyl jy praat is dit verkeerd om te sê: “Jy’s nou irriterend” (sleg vir die selfbeeld). Nee, liewer: “Dit pla my as jy met die telefoondraad peuter, want nou kan ek nie hoor wat ouma sê nie”. Nou weet die kind wat hy doen, is verkeerd.

Geen “rocket science” nie! Net ‘n paar klein dingetjies wat navorsing bewys het ons elkeen kan doen, en bekostig, om ‘n emosioneel intelligente kind met selfvertroue groot te maak. Sterkte!