{ARGIEF}

 

Lê die lewe hard en lelik voor jou? Dan is dit tyd dat jy jou begin verwonder.

Om jou te verwonder, beteken om sag na die lewe te kyk en skoonheid daarin raak te sien.

Die lewe is maar hoe jy daarna kyk. Kyk jy met ‘n sug na alles om jou, dan sug die lewe terug. 

Maar sê nou maar net jy kan dit regkry om met verwondering na die lewe te kyk. Dan nooi die lewe jou met mooi oë in.  Sê nou maar net jy kyk om jou, en jy sien nie net dinge en liggame en probleme raak nie. Jy kyk met verwondering … en jy sien hoe verander die alledaagse in die ongewone. Jy sien skielik die oneindige mooi in gewone dinge.

En dis tog God wat ‘n mens so laat kyk. Ons verwonder ons aan Hom. Die Bybel noem Hom nie verniet Wonderbaar nie.  En dis die Wonderbare wat vir ons die oë gee om ons mee te verwonder.

Eintlik het alle groot dinge begin omdat iemand hom of haar aan iets verwonder het. Ja, verwondering is die begin van ‘n diep gedagte, ‘n boek, ‘n gedig, ‘n lewensuitkyk. Sonder verwondering sou daar nie eers teologie kon wees nie. En sou ons nie oor God kon dink of praat nie.

Ons lees so baie in die Bybel van vroue wat sterk en gesond geword het, omdat hulle hulle kon verwonder aan God se teenwoordigheid. 

Ek dink aan Eva, wat haar verwonder het aan God se genade nadat sy uit die paradys die wildernis ingestuur is. En daarom vir haar kinders name gegee het wat aan God se genade herinner het, en nie aan sy straf nie (Genesis 3).

Ek dink ook aan Hagar (Genesis 16) wat haar aan God verwonder het toe sy Hom in die woestyn leer ken het. Sy verwonder haar aan dié God wat Hom aan haar openbaar toe sy en haar kind besig was om van dors te sterf. En in haar verwondering noem Hagar God “die Een wat my sien”.

En dan is daar natuurlik Rut, wat haar verwonder het aan die God van moontlikhede. Dié God wat altyd weer nuwe deure oopmaak en nuwe hoop bring. Die God wat jou verantwoordelikheid vir jouself laat neem. En jou die genade gee om die lewe by die horings te pak.

En wat van Hanna? Hanna sing ‘n lieflike lied (1 Samuel 2) waarin sy haar verwonder oor God wat ‘n mens se alledaagse behoeftes raaksien. Haar diep behoefte om ‘n kind te hê, was nie vir God onbenullig nie. Hieroor verwonder Hanna haar. Sy sien God se sorg in die kind wat Hy vir haar gegee het.

En dan is daar nog die vrou van Hooglied, wat haar verwonder aan die skoonheid van die man wat God haar gegee het. Sy verwonder haar aan die liefde, en hoe lus dit ‘n mens vir die lewe maak. 

Die Nuwe Testament is vol verwonderde vroue. Daar is die vroue rondom Jesus (Lukas 8) wat hulle verwonder het aan sy woorde van liefde en genesing. Daar is Lidia en Priscilla wat hulle so verwonder het aan Jesus se boodskap van verlossing en hoop, dat hulle in huise en tente sy kerk gestig het.