{ARGIEF}

redakteurMotivationOns stap nou ‘n vinnige afdraend na die einde van die jaar toe en wie kan dit glo: nog ‘n jaar is besig met sy laaste spatsels …
Dit laat my weer onwillekeurig dink aan alles wat hierdie jaar ook in my lewe gebeur het. Daar was wonderlike tye en baie slegte tye. Tye wat ek wou wegwens en tye wat ek wou vashou.
‘n Feit wat hierdie afgelope jaar net weer baie helder en duidelik voor my kom staan het, is dat ons geen beheer het oor dinge wat na ons toe kom of wat met ons gebeur nie. Hetsy siekte, hartseer, vrees, ens. Ons Hemelvader gee egter vir ons ‘n keuse. Ek het beheer oor hoe ek oor dinge voel, hoe ek reageer op wat met my gebeur en wat ek doen met die balle wat na my gegooi word.
Ek het die keuse van hoe ek toelaat dat slegte dinge my affekteer. Is dit vir my nuwe geleenthede of laat ek toe dat dit my vernietig, depressief maak, onderkry. Ek het die keuse hoe ek toelaat dat goeie dinge wat met my gebeur vir my werklik vreugde bring of hoe ek dit net eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar. My hante-ring van dit wat na my toe kom, bepaal dus aan die einde wie en wat ek is en word.
My wense vir julle almal is dus dat julle in hierdie Feestyd wat voorlê werklik sal kan terugkyk op ‘n jaar waarin jy, ten spyte van die slegte dinge wat oor jou pad gekom het en sonder die hoogmoed oor die goeie dinge wat met jou gebeur het vreugde, vrede en geluk sal ervaar. Dat jy elke dag in dankbaarheid sal kan leef ten spyte van wat verkeerd gegaan het of van hartseertye. Dat jy kan opkyk en weet: ons Vader dra jou, ondersteun jou, maak jou sterk, is net ‘n gebed ver.
Ek is onlangs by ‘n damesoggend en uit die hele oggend staan die volgende twee aanhalings vir my uit: “Don’t give in to your fears. If you do, you won’t be able to talk to your heart.” En die tweede stelling klink so: “We don’t see things how they are. We see things how we are.”
Dit het my net weereens laat besef hoe magtig die brein en daarmee saam, ons gedagtes, ons positiewe ingesteldheid, ons besluite en ons keuses is. Die Here gee vir jou die wíl en die kán. Gryp dit aan met alles wat jy het.
Met hierdie kwartaal se Interaksie het die Here hierdie waarhede weer aan my bevestig. Met die gaan sit en uitsorteer van al die artikels, besef ek dat hier nie genoeg stof is vir ‘n uitgawe nie. (vandaar die rede dat  Interaksie hierdie kwartaal bietjie laat is.) Ons kon in sak en as gaan sit of ons kon die Godstories gaan soek. Dankie aan elkeen wat op my versoek reageer het. Ek dink hierdie Interaksie vertel die mooiste en wonderlikste stories wat die afgelope drie maande in ons sinodale gebied gebeur het. Vroue met Vlerke vlieg behoorlik in alle dele: by die Moderamen, lisensiaat-studente, Herbertsdale, Tableview, Albertinia, Bergsig, Durbanville Moedergemeente, Tafelberg gemeente, Kraaifontein en Onrus. En dan is die stories van Bonteheuwel en Van Rhynsdorp nog nie vertel nie en moet hulle wag vir ‘n gaatjie in die volgende Interaksie. Ons juig, want ons Heiland is sooo ongelooflik!!!
Ons is dankbaar dat Antoinette en Bossie veilig terug is van hul vakansie oorsee en dat Esther lekker getoer het. Ons sê dankie vir Amanda wat gesorg het vir die mooiste gedigte waarvan ons ongelukkig nie almal kon plaas nie. Ons sê dankie vir elkeen wat ‘n beriggie versorg het – wat meewerk aan God se koninkryk.
Besoek asb die Communitaswebwerf vir wonderlike artikels. Lees en leer meer van dit waarmee ons diensgroep in gemeentes besig is. Ons pragtige Vroue met Vlerke brosjure asook ‘n volledige Communitas brosjure is by Communitas se kantore beskikbaar. Kontak vir Esther by haar nuwe eposadres, estherb@sun.ac.za, as jy dit wil bestel.