{ARGIEF}

deur Elmien de Wet
knysna-okt14-1BABY POWER  – ‘n projek wat uitreik na pasgebore babas en hul mammas.
“Ek het ophou tel – daar is al oor die 400 babatruitjies ontvang uit ons gemeente.”
Wat ‘n wonderlike antwoord om te kry op my navraag oor hoeveel truitjies al vir die ‘Babatruitjie’-projek klaar gebrei en geskenk is!
Leoni van Rooyen het die projek bekendgestel in ons gemeente (NG gemeente Knysna) en oud en jonk is aan die brei aan babatruitjies wat dan aan pasgebore babatjies in hospitale reg oor die land uitgedeel word. Ons het ook op ons gemeente se webwerf oor die projek vertel en het al truitjies uit die Karoo, Wellington en die Kaap ontvang.
Babatjies word oral gebore en die projek skep geleentheid om die Evangelie van Jesus te verkondig … in Judea, Samaria en tot aan die uiteindes van die aarde.
Wat die projek so spesiaal maak, is die samewerking tussen die verskeie kerke in Knysna.
Elza Kellerman (van die Vineyard Kerk) vertel dat die bediening onder beskerming van die Knysna Vineyard Kerk staan maar dis interkerklik. Dit word tans ondersteun deur lede van die Baptiste, NG en Vineyard kerke en ons droom van meer! Sy sê die bediening is gebaseer op ‘n passievolle geloof in die krag van ‘n seëngebed.
Met die mamma se toestemming lê ons hande op die baba en spreek in die naam van Jesus net lewe, vreugde en liefde oor hom of haar uit. Ons vertel vir die baba en mamma dat hy of sy perfek geskape is na God se beeld. Ons bevestig dat hy of sy spesiaal is en dat God reeds voor die oomblik van konsepsie sy of haar naam geken het. God het ‘n plan met die baba se lewe.
Hulle gesels ook met die mammas en pappas oor hoe belangrik dit is dat hulle vir hul kinders bid. Ons maak nou ook hangertjies, borspelde of armbande wat die mamma kan dra om haar te herinner aan die seën wat oor hul kindjie gespreek is en om hulle aan te moedig om voort te gaan daarmee.
Elza en haar man is afgetree en wanneer hulle rond- toer deur die land, stop hulle gereeld langs die pad by hospitale om truitjies uit te deel en die Evangelie van Jesus te verkondig.
Wat ander sê oor die projek…
“…ek brei elke keer ‘n stukkie as ek by die skool in die kar sit en wag vir die kinders om uit te kom. Dit is lekker om te voel jy doen iets wat ‘n verskil maak aan iemand anders se lewe”
“… my ma is mal oor brei, sy sal dit geniet om vir die babatjies iets te kan maak.”
“… dit is moeilik om tyd te vind om deel te wees van ‘n uitreikprojek, maar dié projek het dit vir my moontlik gemaak om ook ‘n bydrae te maak. Ek het die vorige vakansie in die kar oppad Kaap toe en terug, ‘n truitjie klaar gebrei.”
“… ek bid vir die babatjie terwyl ek aan die trui brei.”
Pinterest
‘n Paar vroue van NG gemeente Knysna het ook ‘n Pinterest-bord geskep met hope inspirasie en idees vir gehekelde hangertjies en armbande. Gaan kyk gerus en hekel saam!
http://www.pinterest.com/knysnakerk/hekel-en-brei-inspirasie/
knysna-okt14
As jy graag wil help met die brei of hekel van truitjies, hangertjies of armbande, skakel Leoni by 084 990 0064.

Skakel Elza Kellerman by 082 578 8514 indien jy graag verder betrokke wil raak met die uitdeel van die truitjies of ander bydraes wil maak.