{ARGIEF}

port1
deur Marelise Treurnicht

PA & DOGTERBAL

port4

28 November 2014

November 2014 het die NG Kerk Porterville Vroue-bediening ‘n perd van ‘n ander kleur opgesaal. Daar is besluit om ‘n Pa-en-Dogter-BAL te hou. Vir ons plattelandse dorpie, ‘n vreemde gedagte, maar ons staan soos gewoonlik nie terug vir iets nuuts nie.
Die idee vir die geleentheid, was om juis ‘n tyd en ruimte te skep waar Pa en sy dogter/s sosiaal kon verkeer, maar dié keer formeel aangetrek en onder die bekwame leiding van Riekert Botha en sy span van Vredendal.
Die noodsaaklikheid van ‘n gesonde verhouding tussen Pa en Dogter en die geweldige impak wat hierdie verhouding op die lewe en lewensbeskouing van ‘n dogter het, was die “ma’s” se dryfveer vir die geleentheid. Ons nooi toe al die pa’s met dogters van 14 tot 44. Ma’s is opgewonde, hulle kom koop kaartjies, beplan aandrokke en bid. Ons bid saam en God kom in sy Grootheid en bederf ons met sy Goedheid. Ons staan verstom hoe dinge gebeur.
Die formaat was soos volg:
Die Vrydagaand gesels Riekert net met die pa’s. Hy daag hulle bietjie uit. Vertel van stukkende dogters – daar is verskillende redes – maar baie keer is dit omdat vaders nie besef die rol wat hulle speel om hulle dogters geestelik te begelei nie.  As ‘n pa nie fisies, emosioneel en geestelik deel van haar lewe is nie, hoe moet sy glo dat Vader God haar liefhet en haar aanvaar en na haar luister?
Riekert het ook gevra dat die pa’s nie met mekaar mag praat die Saterdagaand nie, hulle moet net aan hul dogters aandag gee en verkieslik net met hulle praat. ‘n Paar manne het bietjie ongemaklik rondgeskuif, veral toe Riekert sê dat daar ‘n paar knie-sessies gaan wees en dit het niks met rugby te doen nie. Dit is jy en jou dogter wat met julle knieë teen mekaar sit, in mekaar se oë kyk en julle harte deel.
Ma’s getuig opgewonde later hoedat die pa’s die Saterdagoggend Paarl toe gery het, aandpakke gaan huur het, juwele en blomme gekoop het. Die dogters self was baie opgewonde! Hare, grimering en skeppings is beplan. Hulle en hul moeders het geoefen met grimering, danspassies en afsprake gemaak by skoonheidplekkies en haarkappers. Die dorp het ook hulle hart oopgemaak en waar daar nood was, is gegee en voorsien.
En daar is gebid … en gewag … en Vader God het opgedaag!!
Die Saterdagaand se Bal het behels ‘n viergang-maaltyd, afgewissel met ‘n prettige ysbreker (ja – dit is darem nie ‘n alledaagse geleentheid nie), lag, dans-dans-dans, begeleide gespreksessies tussen pa en dogter en ‘n praatjie deur Riekert Botha.
Hyself is deur sy tienerdogter vergesel. En nee – Porterville se pa’s/mans is geensins anders as ander nie – by party het die idee maklik posgevat, maar by ander moes Ma (en dogter) maar bietjie meer aanmoedig … maar luister na die getuienis van ‘n pa: “BAIE BAIE DANKIE!!! Ek dink nie julle besef wat gisteraand vir my en baie ander pa’s beteken het nie. In een aand is baie meer gedoen as ‘n duisend preke!! Ek het gisteraand vreeslik geniet!! Baie dankie!!!”
Die Bal was ‘n reuse sukses en pa’s en dogters het stralend – en stokflou gedans – laataand met nuwe vuur en diepte in hul verhouding, huis toe gegaan … na uiters nuuskierige ma’s. En ja – ons gaan verseker weer so ‘n aand reel.