{ARGIEF}

welgelegen
Die volgende projekte is weer eens vanjaar met groot ywer aangepak.
1. Winterwarmte-projek: Pragtige truitjies, serpe, mussies en handskoene word deur gemeentelede gebrei en aan verskillende kinderhuise gestuur.
2. Herfsmark: Ons Herfsmark word jaarliks gehou. Die “Arts en Crafts”-tafel het vanjaar weer ‘n ruim bedrag ingesamel danksy ywerige vingers en goeie ondersteuning. Die inkomste word aan minderbevooregtes geskenk.
3. Ruyterwacht Seniors: Ons gemeente is sedert 2000 betrokke by seniors van Ruyterwacht. Dr Michiel Strauss, een van ons predikante, dien op die Beheerraad. Hy besoek die sentrum gereeld en bied geestelike ondersteuning aan die personeel en seniors. Inkomste verkry uit die verkoop van klere en huishoudelike items, word ook aan die Sentrum geskenk.
4.  Uitreikmark: Vanjaar se Uitreikmark was weereens ‘n groot sukses. 21 Instansies het deelgeneem. Deelnemers verkoop handgemaakte artikels, kry blootstelling en verskaf inligting aan die publiek. ‘n Restaurant word ook tydens die mark bedryf.
5. Mengelmoeskardoes is ons kerk se eie winkel.  R120 000 word per jaar ingesamel en aan behoeftiges geskenk.
6. Klein Akker is ‘n plakkerskamp waar die nood hoog is. Daar is geen elektrisiteit, lopende water of dienste nie. Ons gemeente is sedert die begin van die jaar daar betrokke. In samewerking met Hough Koen van De Bron gemeente, word klere, kos, babamelk en ander noodsaaklike items geskenk.
Elke kind sal ook vanjaar ‘n Kersgeskenk ontvang. Deur bemiddeling van ‘n gemeentelid is ‘n skeepshouer aan Klein Akker geskenk. Dienste word Sondae daar gehou. Die inwoners se harte is oop vir die Verlossingsboodskap en groot seën word ondervind.
Ons dank ons Hemelse Vader vir ons gemeentelede se entoesiasme en talente. Die ywer waarmee almal saamwerk, strek Hom tot eer.