{ARGIEF}

Jubelvroue van Bergsig

 Het jy al ooit gewonder hoekom jy nou eintlik hier op aarde is? Rick Warren sê in sy boek, Die Doelgerigte Lewe, ons is hier om God te behaag deur elke geleentheid te gebruik om aan ander goed te doen. Waak daarteen om Sondag na Sondag ‘n passiewe toeskouer by die eredienste te wees – word ‘n betrokke lidmaat by jou plaaslike kerk se aktiwiteite en bedieninge, want God het aan elkeen van ons gawes en talente gegee waarmee ons ander kan “bedien”. Daar waar jy in jou gemeente staan, wil God hê jy moet sy hande, sy voete, sy oë en sy hart wees – dit is hoekom God jou so spesiaal geskep het. Die oomblik wat jy vir die Here sê “hier is ek God, gebruik my” word die eie-ek al kleiner en GOD al groter. Die Jubelvroue van Bergsig het betrokke geword – Loof God hiervoor – en uit die volgende bydraes wil ons ander vroue ook begeester om die geestelike vervulling van betrokkenheid te ervaar.

TGIF

Goeie geselskap, lekker koffie, selfs ‘n uitbundige gelag nog voor ses in die oggend. Dit is die atmosfeer in die kerksaal waar die vroue bymekaarkom vir TGIF. Today God is First! Dit is die hartsgesindheid van die oumas, mammas en dogters wat elke Dinsdagoggend die Here vereer in gehoorsaamheid, deur te gaan luister na gewone mense se getuienisse en belydenisse oor God se werking in hulle lewens.

Ons hoor van kragtige ingrypings tot bemoediging in ‘n fluistering en deur alles besef ‘n mens: God is groot, altyd in beheer en betrokke in selfs die onbenullighede van ons lewens. Al wat ons hoef te doen is om te sê: “Hier is ek, verander my en help my om Jesus se karakter in my lewe te openbaar.”

Dankie aan die span vrouens wat deur die Here se leiding die byeenkomste beplan, sodat ons ander dit net kan kom geniet. Dit is ‘n wonderlike ervaring om voor vyf op ‘n Dinsdagoggend te kan opstaan met die wete dat God mens die krag gee om gehoorsaam te wees en saam met ander vrouens in God se teenwoordigheid te verkeer.

Elke Dinsdagoggend kry ons geestelike pitkos om saam te neem na ons huis, werk en skool, sodat ons soos Paulus, God se volle wapenrusting kan aantrek om op ons poste as vrouens van die gemeente te bly staan, ondanks die lustige aanslae van die duiwel. Alle eer aan God!

Vrouekamp

 

Ons het die naweek van 13-15 April heerlik saam gekamp by Bridgetown, Moorreesburg. Die tema van hierdie jaar se kamp was: Kroon van God se Skepping. ‘n Paar vrae waarby ons stilgeraak het was oa: “Wat is die dinge wat my laat naak voel voor God en mense en wil laat wegkruip vir God? Wat doen dit aan my om te weet ek is na God se beeld geskep?” Louise Theron het op haar unieke rustige manier ons gelei deur die naweek en dit was ‘n besonderse ervaring om ontbloot voor God te staan en tot die besef te kon kom dat God vir elkeen van ons iets in gedagte gehad het toe hy ons geskep het. Om so weg van huislike verpligtinge rustig te raak en net weer jou skoonheid as vrou te ontdek, was ‘n voorreg.

Jesus Can-projek

Teen die agtergrond van stukkende mense wat hulself oorgegee het aan die een of ander vorm van verslawing, wat geen menswaardigheid meer oor het nie, wat die bergies of straatmense genoem word, het hierdie projek sy ontstaan gehad. ‘n Tydelike tuiste is ingerig vir hierdie moedeloses en die geleentheid om weer hul lewens op koers te kry en die liefde van God deur ander te ervaar, word hier gebied. Ons sien suksesverhale, maar ook die hartseer wanneer iemand weer terugval na die ou weë, maar wie is ons om te oordeel? God vra dat ons gehoorsaam sal wees en sal volhard in ons ondersteuning. Ons het almal genade nodig, want ons struikel en val ook en dan het ons behoefte aan ‘n gemeenskap van betrokkenes.

Magdalenahuis

Ons sien dikwels hoe ‘n stukkende wêreld van ‘n jong meisie weer stuk vir stuk aanmekaar gelap word deur mense wat ‘n passie het om ‘n verskil te maak. Ons almal weet die werklikhede kan nie weggewens word nie. Hierdie meisies se omstandighede verskil almal. Dit kon ‘n verkeerde keuse gewees het, maar ook ‘n verkragting wat terselfdertyd verwerk moet word. Ons het betrokke geraak deur hierdie meisies besig te hou met sinvolle handwerk-aktiwiteite, noodsaaklike herstelwerk in die huis en ondersteuning aan die onderwysers, want die meeste van die meisies is nog skoolgaande. God gebruik elke vrou wat hier betrokke is om Jesus se groot liefde en begrip te wys en om weer ‘n toekoms vir die meisies te wys en drome in hul oë te sit.

Die toewyding en betrokkenheid van elke vrou in haar gemeente, hoe gering sy dit ookal mag skat, kan ‘n geweldige impak op ‘n ander se lewe hê. Dít is jou bediening en God het jou die gawes en die opdrag gegee: “Hy het ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het!” Word betrokke … dit is so vervullend!