{ARGIEF}

‘n Dankbare Jaar
Vir die vrouelidmate van Swellendam was 2012 ‘n dankbare jaar met wonderlike geleenthede. Ons eerste algemene vergadering gaan oor die liefde. Johannes 13:24 “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê.” Kyk na ander mense deur Jesus se oë.
Vrydagoggende het ons ‘n vrouebiduur en Bybelstudie-groepies in blokke word aangemoedig. ‘n Groot groep dames brei graag vir Herberg Kinderhuis en ook vir kinders in ons gemeenskap. Geslete denims of denim materiaal word ingesamel en 24 ou komberse is toe oorgetrek met denim laslappe. Toiletware word gevra vir die ouetehuis of behoeftiges in die gemeente. Daar is nie-bederfbare kos ingesamel vir die sopkombuis.
Twee binneshuisversierders het vir ons ‘n pragtige Valentynstafel vir twee leer dek. Ons eet heerlike soet poeding saam met liefde in Mei. Gedurende ons Pinkstertyd bedien ons sop en broodjies. Ons bedel geldjies om vir laerskoolkinders warm baadjies aan te koop en word oorweldig deur die meelewing van gemeentevroue want ons kon aan vier laerskole baadjies voorsien. Cooperstraat-kinderprojek word ook gehelp met die aankoop van skoolklere.
Gedurende Augustus het ons ons Vrouelidmate dankoffer-insameling gehad. Wonderlik om te kan gee! Op 4 Augustus het ons ook ‘n heerlike vroueontbyt gehad wat deur ons leraar en manslidmate gereël is kompleet met koerantpapier as tafeldoeke.
Ons vrouelidmate is ook elke Sondag verantwoordelik vir vars blomme of ‘n mooi potplant voor in die kerk.
Van die blokke se dames besoek ook ons plaaslike ouetehuis waar eetgoedjies uitgedeel word. Gedurende onthale vir bejaardes doen elke vrouelidmaat haar deel.
Ons afsluiting het gehandel oor vernuwing. Ons is eers herinner dat ons harte moet vernuwe en daarna het ‘n haarkapster, ‘n skoonheidsterapeut en ‘n laser- spesialis vir ons demonstrasies gehou. Matriekdogters het hul afskeidsrokke vir ons gewys.
Na afloop hiervan is aan 120 dames die pragtigste wafeltjies en tee bedien.
Verskeie Kersfeesdonasies is in 2012 aan die volgende instansies gemaak:

•             Vrouediens van NGK in SA

•             Huis Adaliah Sorg

•             Cooperstraat-projekalt

•             Dienssentrum

•             Huis AA Tomlinson

•             Badisa

•             ACVV Swellendam

•             Kerkraad van NG Kerk Swellendam

•             Herberg Kinderhuis

Een van die projekte waarmee ons tans besig is, is om ons kerksaal se kombuis op te gradeer.
So is ons op ‘n drafstap deur die jaar, maar met ‘n innige afhanklikheid en dankbaarheid aan ons Hemelse Vader wat alles moontlik maak.