{ARGIEF}

deur Margot Steenkamp
Ek ervaar die Vrouebediening in ons gemeente as ‘n wonderlike saambindende faktor tussen  ons vrouens. Ons leer mekaar ken, ons dek saam tafels, ons leer om vir mekaar om te gee, ons help mekaar en ons dra mekaar se belange op die hart. Nuwelinge wat in spesifieke diensterrein geplaas word, leer gou by die meer ervare vrouens. Hoe meer betrokke ons raak, hoe meer maak ons ‘n verskil. Dan, en dan alleen, word ons vroue met vlerke en veral vroue wat wil vlieg!
Hoog op ons agenda is oumense wat alleen of siek is, kinders wat nie genoeg toiletware of ‘n tekort aan klere en skoene het en kinders wat nie Bybels het nie.
calvinia
Fondse word ingesamel vir die projekte op verskeie maniere o.a ‘n gemeente-ete, wat elke jaar op Moedersdag plaasvind. Ons vrouens bederf die mans!  Dit is sommer ‘n spoggerige geleentheid. Die werk word versprei na al die wyke en so maak vele hande min werk. Kaartjies word verkoop.
Die jaarlikse uitdeel van Bybels aan alle Graad-1 leerders in al die skole in en om ons dorp, word ook hierdeur befonds. Bydraend het Johletta Archer, ons leraarsvrou, ‘n netjiese groot Bybel gemaak asook vele klein Bybeltjies uit vuurhoutjiedosies. Gemeentelede en besoekers kan dan die klein Bybeltjies neem, dit  vul met note of kleingeld en dit in die groot Bybel in die kerk gooi. Omdat ons almal Bybels besit, besef ons nie altyd die waarde daarvan nie. Dis werklik ‘n onvergeetlike ervaring om die uitdeel van die Bybels by die verskeie skole by te woon. As die kinders dit oopmaak, staan elkeen se naam voor in hul Bybel.
Ons koekieprojek net voor Kersfees, word in samewerking met Calvinia Moedergemeente gedoen. Die vrouens bak soms saam-saam by mekaar se huise. Die verpakking word  in die kerksaal gedoen. Dit word ‘n heerlike kuieroggend waar die twee gemeentes se vroue mekaar beter leer ken. Ons skenk dit aan die inwoners van Sorgvliet Tehuis vir Bejaardes.
En so probeer ons as ‘n gemeente, ‘n verskil in ander mense se lewens te maak. En kom ons tot die besef dat wat ons doen, ook ‘n verskil in onsself maak. Want, om te gee is beslis saliger as om te ontvang.