{ARGIEF}

deur Madelein Horn
ViX (Vroue in Christus) in Citrusdal het besluit om ons slagspreuk “GEE, GLO EN GROEI” weer uit te leef in alle projekte. Met hierdie “logo” in gedagte het die volgende projekte reeds vanjaar plaasgevind.
Citrusdal2
Praise & Worship
Ons tema vanjaar sluit aan by ons gemeente se visie vir  2014  “maak dissippels…”
Tydens ons somerbyeenkoms was ons opdrag ”wees sout vir die wêreld” en gee smaak aan ons daaglikse bestaan met al sy probleme deur die verskil wat net jy kan maak. Ons het ‘n paar gelowige moeders uit Oranjeville genooi wat ernstige probleme met hul eie kinders het agv dwelmafhanklikheid. Hul getuienis was vir baie van ons ‘n openbaring van die houvas van sosiale euwels soos Tik en drank op ons eie gemeenskap se jeug. Saam het ons gehuil en voorbidding vir hulle en vir ons gemeenskap gedoen.
Ons winterbyeenkoms se tema was “wees wierook en versprei ‘n aangename geur”.
Gebruike van wierook en die simboliese waarde daarvan in die Ou en Nuwe Testament is deur ons groepleier, Susan Mostert, gedeel. Terwyl die geur van wierook die saal gevul het, het ons lofsang en aanbidding opgeklink tot eer van God. Annatjie Mouton het kom getuig oor hoe sy haar wierookgeur versprei deur gemeenskapsbetrokkenheid by die slagofferondersteuningsdiens aan die SAPD en die verskaffing van toebroodjies aan pasiënte by ons plaaslike kliniek. Dikwels word daar lang ure gewag op mediese sorg  agv die groot getal seisoenwerkers wat Citrusdal gedurende die sitrusoestyd  binnekom. Sy het ook kragtig getuig van die vrede wat sy ervaar het en die merkwaardige herstel na haar onlangse operasie. Ons het afgesluit met heerlike pannekoek wat sy eie geur van nostalgie meegebring het!
Vrouekamp
Ons jaarlikse kamp het vanjaar weer plaasgevind by die pragtige rustige “De Vlei” – ‘n kampplek langs die Olifantsrivier – rustig, sonder enige geraas – net ons, ons Skepper en die pragtige natuur rondom ons. Die kamp is vanjaar bygewoon deur 20 vrouens (ouderdomme het gewissel van 23 tot 60) – die aanbieder was  Amanda Versfeld van die Bright Star-program. Die tema van die kamp was “Skitterende Verhoudings” en “Skitterende Leierskap” waar ons onder andere konflikhantering, kommunikasie, is ek ‘n voorbeeld wat ander wil navolg, ens. behandel het.
Die vrouens is in vier groepe ingedeel met ‘n mentor. Met ons aankoms by die kamp, het elke vrou ‘n “geskenkpakkie” ontvang en binne die geskenkpakkie was  die mentor se naam – geen vrou het dus voor die tyd geweet wie is haar mede-groepslede of mentor nie.  Dit was net vir ons wonderlik om te sien hoe was God se hand ook in hierdie indeling vir die groepe – vrouens wat bymekaar “gehoort” het, het bymekaar uitgekom.  Tydens hierdie kamp is daar weer baie gelag, maar ook baie gehuil.
Weer eens was hierdie kamp ‘n geestelike belewenis vir die 20 vrouens wat dit bygewoon het. Hegte vriendskappe is gesmee en ‘n ondersteuningsnetwerk is opgebou, sodat hierdie 20 vrouens ook in die gemeente van Citrusdal ‘n verskil kan maak. Ons vrouens kan nie meer wag vir 2015 se kamp nie!!
Citrusdal1
Dankbaarheidsprojekte
Gedurende die jaar het ons verskeie dankbaarheids-projekte waar ons die mense in ons gemeente wat ‘n onbaat-sugtige diens lewer, bederf  met heerlike eetgoedjies. So is daar bv polisie, onderwysers, dokters, verpleeg-personeel, klinieke, hospitaal, bybelskool-fasiliteerders, Jeugkerk-personeel, BADISA-personeel, kerkpersoneel, omgeegroepe, peuterkerk personeel, kleuterkerk tannies/ooms, kerkkoor, voorsanggroep en kategete.
Die dankbaarheid waarmee hierdie eetgoedjies ont-vang word, is net absoluut wonderlik en ‘n mens besef net weer eens wat beteken die woordjie “dankie” …
Citrusdal3Ander projekte

  • Die Wêreldbiddag vir Vroue wat aangebied word vir alle vroue in Citrusdal oor kleurgrense en kerke heen, is weer baie goed aangebied deur Amanda Versfeld en vrouens uit die Citrusdal gemeente wat met sang en gebed gelei het.
  • Kwartaalliks word Ons Huis (ouetehuis) ook bederf met heerlike eetgoedjies, bv. vrugte, paaseiers, plaatkoeke, pannekoeke, ens.
  • Elke wyk kry ook ‘n beurt vir ‘n noodkospakkie wat in ‘n wyk ingesamel moet word om te help met die behoeftige gesinne/persone in die breë gemeenskap
  • Gedurende Pinkster word die gemeente elke aand heerlik bederf met sop en broodjies direk na die Pinksterdiens
  • Sondag 8 Junie kon ons mammas en pappas agter-oor sit en ‘n heerlik ViX-ete kom koop vir die gesin

Komende projekte vir 2014

  • Einde Julie word die kerkdiens gelei deur ‘n vroueprediker, Lettie Buchner, van Wellington – die hele kerkdiens word georganiseer en gelei deur die ViX bestuur
  • November is ons jaarlikse kersmark met ‘n gaskunstenaar – indien enigiemand ‘n stalletjie by die kersmark wil beman, kontak ons gerus.
  • Ons afsluiting vir die jaar is die ViX Kersete waar die gemeente heerlik kan saambraai in ‘n kersfeesatmosfeer met Kersvader, gedekte Kerstafels, ens.

ViX in Citrusdal pak alles met ‘n blye gemoed aan, want  alles wat ons doen, doen ons tot eer van God wat ons elke dag die krag gee om diensbaar vir Hom te wees. Mag die Here ook, vir die res van 2014, Citrusdal se vrouens en vrouens wêreldwyd seën sodat ons oë altyd op Hom gerig sal wees.