{ARGIEF}

deur Joanie Pretorius
Entoesiasme sonder end! Ons Vrouediens geniet die lewe. Ons kom een keer per kwartaal sosiaal bymekaar en reël dan vir ‘n spreker of demonstrasie. Dit is ‘n ekumeniese geleentheid waar vriendinne uit ander kerke, selfs Engelssprekendes, genooi word vir ‘n saamkuier en kenmekaar in die kerksaal. Die opkoms is gemiddeld 30 vroue per keer, waarmee ons baie tevrede is. Die atmosfeer is ontspanne en gesellig en so leer ons mekaar buite wyksverband ken. ‘n Nuwe intrekker het hierdie kwartaal gedemonstreer hoe om ‘n sjokoladekraag om ‘n kolwyntjie te sit – asemrowend mooi en heel maklik.
riversonderend1
Die Wêreldbiddag vir Vroue was ‘n luisterryke geleentheid met al die vroue en dogters se lieflike samesang. Die voorgestelde toneeltjie is opgevoer en het baie byval gevind. Ons bring dan ook (buiten die kollekte vir die Wêreldbiddag) onbederfbare of bevrore produkte vir ons gemeente se Diens van Barmhartigheidskas.
Ons het die Saterdag ‘n fondsinsameling gehou deur Storm in A-G Cup as sprekers te nooi. Die goedgeklede vrou se voorkoms is immers baie afhanklik van wat sy onder haar klere dra. Vroue kon ook agterna “opgemeet” word (of “bekyk” word) om te bepaal wat hulle grootte is. Daar was heelwat gelag en geskerts en lekker weggelê aan die pragtige versierde kolwyntjies en die geurige quiches.
Die Bybelstudiegroepe word getrou bygewoon en daar voel ons soos ou vriendinne. Danksy insette van Vroue met Vlerke, geniet almal die nuwe metode van Bybelstudie baie.
Tabita Boetiek floreer. Ons verkoop mos goeie tweedehandse klere in die apteek. Die winkel het Saterdag saal toe verskuif en ons het rekordverkope gehad. Ons vrywillige werkers in Tabita werk baie hard en is raakvatters wat eienaarskap vir Tabita aanvaar. Ons het al amper 250 donateurs!!!  80% van die “verkoopgeld” word aan die donateurs uitbetaal en 20% hou ons vir die Vrouediens. Ons kan ons Diens van Barmhartigheidskas opgradeer en kon al klere vir Badisa, die Hospice en ‘n plakkerskamp vir behoeftige mense gee.
‘n Kreatiewe werkswinkel word in Oktober aangebied, waarna almal baie uitsien. Dit word ook baie goed ondersteun. Verder sien ons uit na ons gas wat in die vierde kwartaal sal praat oor die verlies van haar seun en ons uiters gewilde Kersmark in November.  Die Vrouediens hanteer die kafee.
Party wyke kuier gereeld in wyksverband. So eet Bokrivierwyk (plaaswyk) gereeld saam en wyk 2 (dorpswyk) doen een maal per maand handwerk saam (soos geïnisieer deur ‘n wyk 2-inwoner – dit hoef mos nie altyd die wyksleidster te wees nie.)
riviersonderend2
Een van ons Bybelstudielede (Estha Singeling) is eintlik gereformeerd, maar skakel by ons in, ook as vrywillige werker by Tabita.  Haar kerk is in Bredasdorp.
Ons het ook ‘n hele klomp jong vroue, wat nie lyf wegsteek nie.  Hulle kom met oulike voorstelle en het selfs die moederskamer in die kerk mooi kindvriendelik gemaak. Ek is trots op ons Vrouediens.  Hulle lewer DIENS.