Ons voorsitter gesels

Written by Mariette Steyn on . Posted in Interaksie, Vrouelidmate

voorsitter voeltjies

voorsitter

deur Ankia du Plooÿ

Dit voel asof ek moet begin met “Aangename kennis!”, dus “Aangename kennis, liewe Vroue!”.  Hierdie “aangenaam” is nie maar net ‘n afgesaagde frase vir my nie, maar dis werklik vir my heerlik “aangenaam” om vir julle hallo te sê en kennis te maak.

Ek en Dolf, my man, woon nou ‘n jaar in Stellenbosch. Hy is verlede jaar na Stellenbosch-Sentraal gemeente toe beroep. Voor dit was ons agt jaar in De Aar. Ons was altwee predikante in NGK De Aar en met ons koms hiereen het ‘n nuwe reis vir my ook aangebreek.

Ek het regtig intens vir God begin vra: “Waar is dit waar U my NOU wil hê?” Moet ek begin aansoek doen vir poste, moet ek eers net rustig by die huis wees of wat?

Met ons koms na Stellenbosch het daar ‘n heerlike geleentheid vir my oopgegaan in die vorm van navorsingsprojekte by die Eenheid vir Innovasie en Transformasie by Ekklesia. As ek nou daaraan terug-dink, is dit as gevolg van die navorsing dat my pad met dié van Antoinette gekruis het en ek deelgeword het van die Sinodale Taakspan vir Vroue.
 

Vroeër die jaar kuier ek en Dolf by ‘n vriendin in Alexanderbaai en sy vra my: “Ankia, as jy nou enigiets kan doen, wat sal dit wees?” Sonder om te dink, het ek dadelik geantwoord: “Ek sal graag tussen, saam en met vroue wil werk en wandel.”  Ek was self verbaas oor my antwoord, want tot op daardie stadium het ek hierdie groeiende gewaarwording nog nooit aan iemand genoem nie. 

En ‘n paar maande later bring God my by ‘n plek waar hierdie gewaarwording in my binneste ook in die strukture van die kerk ‘n werklikheid word. Natuurlik is ek bewus daarvan dat dit nie die enigste manier is nie, maar ek glo dat God my roep om NOU, veral saam met vroue, my geloofsreis aan te pak. 

Ek is opgewonde en opnuut verras deur die Lewende God wat mense roep. My roeping het ek nog altyd verstaan as iemand wat God se helende en genesende genade, oorvloedig moet en wil uitdeel aan gebrokenes.  In my eie lewe het ek al soveel keer beleef dat God my gebrokenheid heelmaak, en omdat ek hierin glo, WIL ek dit ook oor alle grense heen uitdeel. Op hierdie stadium van my reis beleef ek dat God my roep veral na vroue.

Ek is so dankbaar vir hierdie plek op my reis. Ek glo dis waar ek nou moet wees. Ek sien uit om dit saam met julle te reis. 

‘n Nuwe begin vir my en vir ons as taakspan, beteken egter ook ‘n afsluiting van ‘n hoofstuk vir Antoinette en Amanda. Ons sal julle mis, maar reis ook verder saam.  Dankie vir julle menswees, dit wat ons by julle geleer het en dit wat julle nalaat. Ons waardeer julle!

Teen hierdie tyd weet die meeste van julle seker ook dat Esther ons gaan verlaat. Ons verlies is beslis Durbanville Gemeente se wins. Baie sterkte vir hierdie nuwe hoofstuk van jou reis, Esther. Dankie dat jy vir 22½ jaar die vroue van ons kerk op jou besondere manier gedien het. Ons waardeer jou!

Dis werklik vir my ‘n “aangename” eerste ontmoeting. Ek sien uit na die reis saam met julle.
Ankia 

 

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment