{ARGIEF}

c1
 
deur Madelein Horn
VIX (Vroue in Christus) in Citrusdal het besluit om ons slagspreuk “GEE, GLO EN GROEI” weer uit te leef in alle projekte. Met hierdie “logo” in gedagte, het die volgende projekte reeds vanjaar plaasgevind.
 

c3PRAISE & WORSHIPc2

VIX se  somer  Lofprysing en Aanbiddingsbyeenkoms  was in heerlike warm weer op die NG Citrusdal  kerkterrein se grasperk aangebied.
Die tema “Klankfamilie” het aangesluit by die Kerk se kwartaaltema “Geloofsfamilie”. Daar is gesels oor die  musiekinstrumente van die Bybelse tyd soos in Ps 150 genoem. Die vroue het lekker saamgesing en met hul eie klankinstrumente deelgeneem. Elkeen het ‘n plastiek pillehouertjie met springmieliepitte daarin ontvang – versier met die VIX-logo. Dit is as “shaker” gebruik en is vrolik, op maat van die musiek, geskud. ‘n Kitaar en Afrika-trommetjie is ook gebruik vir die buitelug-byeenkoms. Ons gemeente se Finalejaar Teologiestudent, Etresia, het haar roepingsgetuienis gelewer en dit was wonderlik om in hierdie jong vrou se entoesiasme te kon deel.
Tydens die  Herfsbyeenkoms was die tema Geloofsgesin. Daar het Susan Mostert vertel hoe die voorbeeld van haar ouma en ma as sterk geloofsvroue,  haar geïnspireer het in haar eie donker tye.
Ilze Rontgen het haar getuienis gegee oor haar eie  lewensreis onder moeilike omstandighede en almal net weereens laat besef dat die meeste van ons al met die die wintertye van die lewe kennis gemaak het, maar dat ons altyd by die kruis kan gaan kniel met ons laste.

KERSMARK

c5
c4
Op 7 en 8 November 2014 het VIX vir die eerste keer die Citrusdal Kersmark aangebied. Hierdie mark het 4 jaar gelede begin as ‘n wyksprojek.
Daar was ‘n verskeidenheid stalletjies waar jy vir die hele gesin iets kon koop vir Kersfees: tuisgebak, klere, pragtige mooimaakgoed vir die kinders, baie bederfies vir Mamma, boeke, rame, ens. Die kosstalletjies op die kerkterrein het almal se dors en honger geles. Hope vermaak vir die kinders het aan Ma en Pa tyd gegee om rustig alles te besigtig. Vrydagaand het gesinne saamgekuier op die kerkgronde onder die maanlig en was die gewilde broers, Christo en Cobus, beslis een van die hoogtepunte van die naweek. Saterdag was besoekers vermaak met plaaslike sangtalente asook Citrusdal se ballerinas.
Beplanning aan die 2015-mark is reeds aan die gang en ons kan solank met baie opwinding noem dat Ricus Nel hierdie jaar ons Vrydagaand-vermaak gaan doen.
Vir verdere inligting kontak Nicole@ccellars.co.za of besoek ons Facebookblad (en “like” dit) CITRUSDAL KERSMARK.

DANKBAARHEIDSBLIKKIES

Gedurende 2014 het ons drie verskillende soorte dankbaarheidsblikkies in die gemeente uitgedeel nl. Senior Vriende (verjaarsdae, onthaal, Heuwelrus ouetehuis), Nood in die gemeenskap (crèches op plase, CARE, Sterretjies, Noodkospakkies) en Geestelike Groei (Vrouekamp, Wêreldbiddag vir Vroue, Praise & Worship, Xhosa-uitreik). Lidmate kon kies vir watter projek hulle blikkie aangewend moes word. In 2015 word hierdie blikkies se gelde aangewend vir bogenoemde projekte en dit is ‘n absolute belewenis om die opgewondenheid te ervaar waarmee hierdie instansies die bydraes ontvang. VIX het besluit om nie die geld vir die instansies te gee nie, maar om iets daarvan te koop bv vir die Heuwelrus Ouetehuis het ons vir elke inwoner ‘n kombersie, seep, waslappie, koffie en suiker gekoop.
c6

WÊRELDBIDDAG VIR VROUEc8

Met die Bahamas as die land van die Wêreldbiddag, het ons vir Leilani le Roux van Wellington as spreker gehad. Haar lewe is letterlik en figuurlik in stukke geskeur op Sondag 26 Desember 2004 tydens hul wittebrood op die idilliese eiland, Khao Lak in Thailand. Sy en haar man sou Maandag 27 Desember 2004 op die eiland getrou het, maar ‘n kragtige Tsunami wat meer as 350 000 lewens verwoes het, het hulle twee vroegoggend uit hulle Villa geruk. Die Le Roux-egpaar is twee van tien mense by hulle vakansieoord, wat die Tsunami oorleef het.  Leilani maak van elke geleentheid wat op haar pad kom, gebruik om die wonderwerk van 2004 te verkondig  tesame met dat ons ‘n LEWENDIGE, AMAZING GOD en VADER HET.
Om ons biddag af te sluit, het die dames Nagmaal gebruik. Tydens hierdie biddag moes alle vrouens wit aantrek en dit was ‘n ongelooflike gesig – al die wit klere. 2015 se Wêreldbiddag was vir Citrusdal ‘n wonderlike ervaring!
c7
 

ANDER PROJEKTE

• Die wyke in Citrusdal bederf Ons Huis ouetehuis een keer per kwartaal met items soos vrugte, paaseiers, plaatkoeke, pannekoeke, ens.
• Elke wyk kry ook ‘n beurt vir ‘n noodkospakkie wat in ‘n wyk ingesamel moet word om te help met die behoeftige gesinne/persone in die breë gemeenskap
• Gedurende Pinkster het die wyke die gemeentelede heerlik bederf met sop en broodjies in die kerksaal – die kragonderbrekings het die honger en entoesiasme nie gedemp nie!
• Vanjaar het ons vir die eerste keer ‘n Vroue “retraite” gehou, waar vrouens van Citrusdal die geleentheid gehad het om op ‘n Saterdag uit te ry na een van die mooiste plase in ons Vallei en net rustig saam met God in die natuur te verkeer het.
• Sondag 7 Junie kon ons mammas en pappas agteroor sit en ‘n heerlik VIX-ete kom koop vir die gesin
• Die naweek van 24 – 26 Oktober is Citrusdal se “vroue-naweek” met Jana du Plessis van Bloemfontein, as ons gas vir die naweek. Die Saterdagoggend is ons VIX afsluitingsfunksie vir die jaar, met haar as gasspreker, die Sondagoggend is VIX Sondag in ons kerk waar sy weer sal optree en na die erediens gaan gemeentelede deelneem aan die KANSA pretloop en lekker saambraai by die skool se swembad.
• Ons probeer om soveel as moontlik vrouens in die gemeente te betrek by projekte deur middel van ‘n VIX vraelysie wat elke vrou moes invul. Hulle moes aandui waar hulle in 2015 betrokke wil raak. Dit is ongelooflik om te sien hoe bereidwillig die vrouens is om te help.
VIX in Citrusdal pak alles met ‘n blye gemoed aan, want ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons almal is vir Hom SPESIAAL!! In 2015 het ons al op verskeie maniere die onbeskryflike spesiale liefde van God    ervaar … en dit is alles Godsoomblikke!!