{ARGIEF}

deur Yvonne Neethling
APRIL interaksie
Op Saterdag 9 Augustus 2014 het ons Vrouedag gevier. Die vrouediens het besluit om hierdie dag ‘n spesiale poging aan te wend om die vroue van ons gemeente, asook die vroue van ons omgewing, saam te bring om in geloof versterk te word, mekaar te leer ken, vir mekaar te bid en hande uit te reik na die persoon langs jou. Riana Vosloo het as verteenwoordiger van Vrouebegeleiding, Wes- en Suid-Kaap, gehelp om hierdie dag vir ons moontlik te maak.
Die byeenkoms is deur ongeveer 80 vroue bygewoon – wat ‘n vreugde!!! Die tafels was pragtig versier en daar was ligte verversings, maar die belangrikste van alles was dat ons hier was om as vroue saam aan die Here se voete te kom sit en luister wat Hy vir ons wil sê. Elkeen het geleentheid gekry om stil te word en te luister na wat God vir hul in besonder wil sê. Daar is intensief gekyk na Markus 5:21-34, die gelykenis van die vrou wat
aan bloedvloeiing gely het.
Dit is die vrouediens se begeerte dat ons as vroue sal handevat en onsself beskikbaar sal stel om uit te reik na ander, om mekaar lief te hê met die liefde waarmee Jesus ons liefhet. Jy kan jou kwellinge na Hom toe bring. Wees spesifiek, soos die vrou in die gelykenis. Vra Hom om jou te genees van jou seer en vertrou Hom, of loof Hom vir dit wat Hy reeds in jou lewe gedoen het. Ons hou in die tweede kwartaal ‘n opvolgfunksie en vertrou dat ons ons vroue se belewenisse saam kan deel en dra!!!
Groete vanuit Langebaan