{ARGIEF}

reenboogGod wag vir jou in elke oomblik: om Hom te loof en te prys – om vir Hom te vertel hoe lief jy Hom het.
“Kom prys die Here, al julle volke! Loof Hom, al julle nasies! Hoekom? Want Hy is baie lief vir julle; ja, die Here se liefde vir julle sal nooit ophou nie. Kom prys die Here! (Psalm 117 Die Boodskap)
Tableview en Bloubergstrand se Vrouebegeleiding het ons vroue ingenooi om saam met hulle op die geloofsreis, Vroue met Vlerke, te gaan. Vir my is dit 1½ uur se ry hier vanuit die Overberg na Tableview waar ons geloofsreis begin het. Met die indraai vanuit die plaaspad op die teerpad, verf die eerste reënboog ‘n streep deur die persblou berg links van my, Hermanus se kant toe. oomblik gryp my asem vas, want die reënboog is altyd my onthou-oomblik – God is lief vir my. Met die uitklim teen die bult by Boontjieskraal skiet ‘n reënboogstraal regs van my – vanuit die songeel canolaland tot bo in die wolke. Is dit moontlik, Here? Soos ek aanry, gly die reënboog saam met my. Meer geel is die reënboog as hy wortelskiet vanuit die songeel canolaland. Meer groen is die reënboog wanneer hy vasgryp aan die heldergroen koringlande. Vader, is U werklik só lief vir my?  Ek, gewone stofkorrelmens.
Ek ry bo-oor die Overberg se heuwelrug en ‘n halwe sirkel reënboog boogspan vanuit die blou-blou berg links van my tot by die groene heuwelrug regs van my. My asem snak. Skielik verander hierdie reënboog-halwe boog vir ‘n oomblik in ‘n hoela-hoep volsirkel. Dit voel vir my ek ry óp die onderkant van die reënboog-volsirkel.
Ek het al reënboë op rare plekke gesien, want omdat ek so ingestel is en altyd maar soekende is na die reënboogsimbool van die reënboogliefde van God, ons Vader, vang hierdie eerste koeëlronde reënboog my met verrassing. Binne-in  die Visrivier Canyon, in die woestyn, het die reënboog al onverwags boog geskiet. Elke dan en wan streep die son deur my venster ‘n reënbogie oor my vloer of teen die muur. Ek het al een nag ‘n ronde reënboogsirkel ontvang wat gesirkel het om die maan. My buurvrou, Miemie Fourie, moes ek uit nood wakker bel sodat sy vir my kan sê dat dit wat ek sien, waar is. Ek weet haar kamervenster kyk uit op die maan. Gelukkig weet ek vandag dat sy ook die reënboog om die maan gesien het, al is sy nou by Jesus.
Gelukkig het ek nie dwarsdeur die hoela-hoep reënboog gery nie. Die oumense het mos altyd gesê dat wanneer ‘n mens onder deur ‘n reënboog gaan, verander jy van geslag. Ek dink nie my blouoogman sou baie hiervan gehou het nie. Vroue met Vlerke – Geloofsreis van vroue, by Tableview was toe ‘n hoela-hoep reënboog-ervaring waar God vir ons gewag het in ‘n wonder oomblik. Ons was so ‘n verskeidenheid vroue met ‘n wye verskeidenheid ouderdomme en juis dít het ons Godstories aan mekaar so verrykend spesiaal vasgevang in God se liefdesoomblik. Saam het ons na mekaar geluister, diep en sonder skaamte, God se Gees het ons sterk gemaak en reënboë van hoop en lewe oor en om ons gespan. Ons het besef God is besig om sy pad te stap met elkeen van ons, uniek, en dat hierdie pad van God groter is as onsself. So groot soos ‘n hoela-hoep reënboog.
Kom prys die Here! Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie, want die Here is by jou. As Hy aan jou dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir jou maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat jy by ‘n fees maak, hardop sing om te wys dat jy Hom bly maak. (Ps.117; Luk.1:37; Sefanja 3:17: Die Boodskap)
My vriendin, soek die reënboë hierdie Kersfees. Ek weet ons bly in ‘n mooie sonskynland vol sonskynkersfees. Tog weet ek ook en ken ek, stofkorrelmens, dat God baie lief is vir ons en dat niks by God onmoontlik is nie, want die Bybel sê so. Mag hierdie Kersfees 2013 hoela-hoep reënboë vol vreugde om jou en jou gesin en jou familie laat dans. Mag jy, stil in verwondering, luister na God wat vir jou wag in elke oomblik. Onthou, ongeag van hoe stormagtig alles om jou mag lyk – God wag vir jou in elke oomblik. Hy is lief vir jou. Kom ons vertel vir Hom hoe lief ons vir Hom is. Ons Here. Ons Verlosser. Ons Koning Jesus!