{ARGIEF}

deur Anika Badenhorst
Met ‘n innige afhanklikheid en dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader is ons dames lekker besig. Februarie het ons afgeskop met “ek wil leef en liefhê Here”.
Vroue is deur God geskape met die gawes van deernis, diens en meelewing. Daar is talle geleenthede waar ons weer die lig in ander se oë kan bring.
Gedurende die jaar is truie gebrei vir die kinderhuis en dorp se kinders, babakleertjies vir die hospitaal en poppies vir die niereenheid te Tygerberg.
Junie het ons ‘n Vrouedankoffer-Sondag gehad waar fondse geïn is. Die fondse is in ons dorp uitgedeel aan die ouetehuis, Huis Adalia wat babas huisves, ACVV, Dienssentrum en Getuienisaksie. Ons het ook 100 sagte kussings aan ons kerk geskenk.
Gedurende Augustus het ons ‘n heerlike ontbyt aangebied. Die dames het die spyskaart beplan en die aankope gedoen. Die manne het die kos voorberei en bedien. Die opruim was minder lekker!
Bybelstudiegroepies vind in Blokverband plaas. Met ons November afsluiting het elke vrou ‘n stukkie gare gekry. Iets moes gemeet word! Jy moes kennis maak met ‘n maat en daarna haar polse meet. Ons hande is so belangrik. Ons vou ons hande in gebed, hou die Bybel
vas, skryf, hang wasgoed op, doen naaldwerk, plant en skoffel en dan ook die beoefening van verskillende sportsoorte. Omdat ons hande so baie gebruik word, is ons polse so dun! Verder het Annalie de Wet vir ons vertel van haar en haar man se sendingwerk van 20 jaar in Japan. Ons het heerlik gekuier en ons dank ons Hemelse Vader dat Hy hulle gelei het in die wonderlike werk.