Posts Tagged ‘1 Korintiers’

Pinkstergemeenskappe 5: ‘n Vertrek waar ons verantwoordelikheid neem

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Iemand het gister ‘n kort, maar treffende, verhaal vertel van die merkbare verskil in die vertrek toe leiers begin verantwoordelikheid neem (sien http://www.communitas.co.za/index.php/dienste/gemeenteprosesse/314-bewegings-van-die-gees/1250-beweging-van-die-gees-8-die-gees-rig-leiers-op-wat-verantwordelikheid-neem?lang=).  Dit is presies hierna wat Peter Block verwys, in sy nuwe boek Community: The Structure of Belonging, wanneer hy skryf oor hoe belangrike die gesprek oor eienaarskap (“ownership”) vir enige gemeenskapsvorming en -transformasie is.  Aangesien Block nie as teoloog skryf nie, ontbreek die perspektief natuurlik dat God die Eienaar is, en veronderstel eienaarskap by hom ‘n optimisme t.o.v. die mens se konstruktiewe vermoens.  Daarom hou ek meer van die woord verantwoordelikheid as eienaarskap, want daarmee behou ons die teologiese fokus dat gemeentes deel word van ‘n beweging (die beweging van die Gees) wat reeds in volle swang is, nie deur onsself geinisieer word nie, en ook nie aan onsself behoort nie.  Ons deelname staan altyd in die lig van hoe ons onsself verantwoord ten opsigte van dit waarvan ons die voorreg het ontvang het om te kon deel word.  Paulus gebruik dikwels treffende metafore om hierdie aspek te verbeeld, soos bv. dat ons medewerkers (1 Kor. 3 & 2 Kor. 6) en bestuurders (1 Kor. 4) is van dit wat God reeds aan ons toevertrou het.

Block maak egter ‘n baie belangrike punt wanneer hy oor eienaarskap of verantwoordelikheid skryf:  “We have to realize that each time people enter a room, they walk in with ambivalence, wondering whether this is the right place to be.  This is because their default mindset is that someone else owns the room, the meeting, and the purpose that convened the meeting.  Every conventional gathering begins with the unspoken belief that whoever called the meeting has something in mind for us.  We are inundated with the world trying to sell us something, so much so that we cannot imagine that this time will be different.” In die vergadervertrekke van geloofsgemeenskappe is dit daarom uiters belangrik dat leierskap voortdurend ‘n klimaat skep waarin mense vertroue kan vind dat hierdie vertrek en vergadering aan God behoort (eerder as die vooraf bepaalde belange van diegene wat die mag het om die vertrek en vergadering te beheer met hul eie agendas), en dat dit gefokus is op die onderskeiding van wat God in gedagte het rondom wat ookal ter sake is (eerder as ‘n onderworpenheid aan die manipulasie en verkoopstegnieke wat die belange en agendas moet dien van diegene wat mag het in die vertrek).  Dit is wanneer leierskap die vermoee het om so ‘n klimaat te skep dat dit ‘n vertrek kan word waarin mense verantwoordelikheid neem.

Maar wat veral vir my treffend was toe ek gister die verhaal lees waarna ek reg aan die begin verwys, is dat verantwoordelikheid in daardie situasie die teenoorgestelde van blamering beteken, want “blame” is ook Block se teenoorgestelde van “ownership”!  Block skryf oor hoe werklike eienaarskap eers geskep kan word wanneer mense ophou om die blaam vir wat verkeerd is iewers anders te soek.  Block stel ‘n viertal vrae voor wat leierskap sou kon gebruik om die gesprek oor eienaarskap oop te maak en te fasiliteer, maar, skryf hy, “at some later point (nadat iets soos sy vier vrae reeds goed deur gepraat is), the essential question upon which accountability hinges needs to be asked:  What have I done to contribute to the very thing I complain about or want to change?” Ek wil suggereer dat Pinkstergemeenskappe, wat glo dat die Gees teenwoordig en werksaam is in hulle midde om voortdurend nuwe moontlikhede te skep en die toekoms oop te breek, is gemeenskappe in wie se vergadervertrekke die fokus weg skuif van ander blameer vir wat verkeerd is na ‘n klimaat van verantwoordelikheid aanvaar om deel te neem aan die moontlikhede wat die Gees skep.  Dit geld vir gemeentes se interne sake sowel as gemeentes se verhouding tot die lewe van die breer gemeenskap waarvan hulle deel is.