Posts Tagged ‘afrigting’

Die angs van die ewige prediker in ons

Written by Frederick on . Posted in Padlangs met gemeentes

Ek het die afgelope week Week van Gebed gehou in die Baai. Ek was van die begin af vasberade om nie te preek oor gebed nie, maar om in die week vir ‘n slag saam met mense te bid. “ Ons kan maar 20-30 wees” , stel ek die leraar (en myself) gerus, ek gee nie om nie, “ solank ons net die geleentheid gebruik om ‘n paar mense in die gemeente te leer om te bid.”

Van die eerste aand af is ons verras met die hoeveelheid mense wat kom en die klomp jong mense wat deelneem. Ons sit om tafels en stap vir stap oefen ons die gebed van die hart nie. Die ritme is eenvoudig. Ons doen die gebedsoefening van die aand klein treetjies soos om net asem te haal, reflekteer dan daaroor in groepe en dan sluit en die aand af met ‘n 3min van praktyk wenke en die gebedsopdrag vir die volgende dag.

Die gehoor reageer bo verwagting, hulle is gemotiveerd en doen die opdragte stiptelike, praat openlik oor hulle gesukkel om stil te word, probeer weer. Teen die drede aand begin die deurbrake te kom, mense begin spontaan te vertel van hulle diep konneksie met hulself en met God. “Ek wou net 10 minute stil word en toe word dit sommer ‘n halfuur”, vertel ‘n man van in die sestig. Dit is duidelik nuwe grond vir baie, maar hulle gaan dapper voort om die nuwe geloofsdissipline aan te leer….én steeds groei die groep.

In my is daar ‘n stryd wat afspeel. Ek ken die teorie van bemagtiging baie goed, minimum kennis, konkrete “ ant-steps”, herhalende inoefening, refleksie oor die praktyk, weer minimum kennis, konkrete “ant-steps”, weer inoefen, refleksie waarin die groep die pas bepaal. Hoeveel keer het ek dit nie al vir dominees probeer leer nie? Nou moet ek ditself doen en ek sukkel! Daar is ‘n verstekposisie in my wat my die hele tyd laat voel ek doen iets verkeerd ek behoort meer te praat en darem so tussendeur te preek ook.

Ten spyte van al die wonderlike terugvoer én die groeiende getal by ‘n Week van gebed! stoei ek die hele tyd met die stem in my wat wonder of ek nie darem maar meer moet verduidelik, so ‘n paar teorië oor gebed moet bysit, Eugene Petersen moet aanhaal nie. En toe tref dit my, ek is vervorm deur leermeesters wat my met woorde gevorm het, vol teorie gepomp het. Ons het ewig oor die teorie en selfs die praktyk gepraat- verstaan my reg meestal was dit goeie goed. Ek is byna nooit gevorm deur geloofs-afrigters wat my toegelaat het om self te probeer, in te oefen totdat ek die praktyke van die geloof kon bemeeester nie. Ons het byna altyd net oor die goed gepraat en dit weinig gedoen. Dit is waar my angs le.

Dit was ‘n wonderlike week, hande vol mense is diep geraak, ek wil selfs sê gevorm. In baie  gevalle het mense vir die eerste keer in hulle lewe geleer om in stilte op die Here te wag. Van almal is ek die een wat die meeste geleer het. Vir een keer kon ek die ewige prediker stil maak en geduldig saam met mense wag dat die deurbrake in hulle gebeur. Dink net wat ons alles sou gemis het as ek sou toegee aan die ewige prediker in my?

Dankie Eugene en Heinrich, julle was twee leermeesters vir my hierdie week.