Posts Tagged ‘Begrafnis’

Dood

Written by webmeester on . Posted in Skryfsels

Ouds. Jan se klasmaat is dood.

En hy was by die begrafnis.

Die impak daarvan op Jan was groot,

groter as wat verwag is.

1.

Ag Here,

Ek wens ek kon alles wat moeilik verstaanbaar is

net toemaak en wegvou

en net by U wees.

Ek wens ek kon paaie wat moeilik begaanbaar is

net afsper en weghou

en net by U wees.

En by U kom rus

en by U kom skuil;

deur U gesus

as ek by U huil.

2.

Die reën het saggies begin:

ongemerk, onverwag en sag.

Stroompies vloei oral in,

maak nat waar ek probeer te keer.

Dit dam in my oë,

spoel oor my wange,

stu en stroom met eie vermoë

deur donker gedagtegange.

Dit woel

die klippe wat maal

en spoel

in my donga verhaal.

Dobberend kom ek tog later,

voos gestamp en broos,

onverklaarbaar kop bo water

drywend in ‘n poel van troos.

3.

Sien my hartseer en my smag

wyl ek seerhart voor U wag.

Steun my vashou as ek bo

alles in u vashou glo.

4.

U grootheid, Heer, kan ek nie peil nie;

ek word daardeur soms diep getref.

Maar nêrens anders kry ek heil nie.

Ek wil my hart tot U verhef.

Tot U rig ek my dank en ere –

in u genade wil ek bly

en vol verwondering, o Here,

in u onpeilbaarheid rus kry.

[Met apologie aan Lied 200 van die Liedboek van die Kerk.]

Lewe, dood – Liefde

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Ek het by ‘n jong egpaar betrokke geraak wie se vroeggebore baba na 3 dae gesterf het. Hulle het lank gewag vir die baba en toe hierdie tragedie. Die ma het baie vrae oor godsdiens en geloof gehad. Ek wou vir hulle iets gee wat hul sou laat verstaan dat die tragedies ook met “goeie” mense gebeur en dat God in dit alles steeds teenwoordig is. Daarom eers die twee gedigte van Totius en Philander en toe my eie worsteling saam met hulle.

Totius (J.D. du Toit) (1877-1953)

o Die pyn-gedagte

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;

die skadu’s word lank en weer kort;

die drywerstem van my werk weerklink,

en ek gaan op my kruisweg vort.

*

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,

só, dat my lewe se glans verdwyn:

Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!

en – ek gryp my bors van die pyn.

o Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,

één straal het jou skone liggaam verskroei,

maar bliksemstrale sonder tal

laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ’n vlindertjie,

sy ’t lugtig omheen geswerf;

’n asempie wind kon haar vlerkies breek

en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,

dis één uit die tienduisend-tal,

en ag! dat dit sy was en ek moes sien

dat sy dood in my arms val!

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my;

die mense die sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

 

 

P. J. Philander (geb. 1921)

Haar uitvaart

Al oor my dak het hul gemaal …

dié voëltjies het vir haar kom haal.

Half-toegevoue vuisies klein

het ylings na die doodsgordyn

gegryp en dan weer moeg verslap …

die sweet het langs haar slapies afgetap.

Haar ogies sien ek duidelik nog,

hul het vir my gesmeek om tog

te help … die pyn te stil,

maar ek was magteloos teen Sy wil,

en halfweg na die hospitaal

het, asemloos, die dood ons ingehaal.

 

 

 

Lewe en dood – liefde?

 

Lewe en Dood

geskenk, genade, geneem

van alles gestroop

sonder toekoms en sonder hoop

arm en leeg van gees

kan God werklik  daarin wees?

Is die JA vir die lewe

werklik ‘n NEE vir die dood

is ‘n JA vir hoop

ook vir hierdie donker nood?

 

Verbyster, verslaan, verstom

waar sal ons troos vandaan kom?

Sy asem skenk lewe,

energie, handjies wat soekend gryp, bewe

realiteit wat skielik in ‘n wasige droom opgaan

dis so sinloos, kan ons dit verstaan

is daar werklik ‘n skakel

tussen gebrokenheid en ewigheid

tussen sinloosheid

en God se teenwoordigheid

 

Kan gestroop en verslae van Gees

werklik tot in ewigheid geseën wees

en die wat treur en ween

kom troos deur God se seën?

Energie en lewe wat eenmaal bestaan

kan nooit weer vergaan

dit kan wel van een vorm na ander transformeer

maar word steeds

deur God se teenwoordigheid beheer

selfs hoop en wysheid sal soms stom bly staan

maar God se liefde hou vir ewig aan

 

Daar in die stilte van jou nag

hou Hy geduldig en liefdevol wag

en wanneer jy wil skree en skel

omdat opstandigheid en pyn jou verteer

sal Hy ook dit absorbeer

as jou gedagtes rondtol

en jy tot op jou as vassit in die sand

onthou jou droom is nou in sy Vaderhand

ja, terwyl die lewe wel transformeer

word dit deur God se ewige liefde beheer

 

God se JA vir die lewe

Is juis vir ‘n gebroke wêreld in nood

Sy passie vir die lewe

breek die kettings van die dood

as die gordyn sak oor ons hoop

in die skemering van ons pyn

gaan God se arms vir ons oop

en laat Hy die duisternis verdwyn

energie, lewe, lig

is die wonder wat sy liefde in ons verrig

‘n lamp vir jou voet

en ‘n lig vir jou pad

Hy wil ook jou hand kom vat

 

Sy liefde sal voortdurend transformeer

omdat  Hy die lewe vir jou begeer

miskien voel jy verslae en verdwaas

soos ʼn kind

mag jy in sy Vaderarms jou tuiste vind

 

 

Potloodmens

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Viswater/Canyon

Hierdie was ‘n preek vir die begrafnis van ‘n baie goeie vriend wat selfmoord gepleeg het. Sy depressie het ons almal onkant gevang en sy dood was vir almal ‘n geweldige verlies. Sy lewe het sy dood oorskadu en ek het iets daarvan probeer weergee.

 

 

Fil 1:20-26

 

Ek sit skryf met  ʼn potlood, want Pieta ons is potloodmense

ons is nie wit en swart mense nie,

nie dié wat hou van afgehandelde argumente,

wit en swart afgehandelde oordele en laaste woorde nie

selfs met die teologie leef ons makliker saam met skakerings van grys

party strepies wil ons baie ligter trek as ander

sommige het ons met huiwering ingevul,

want ons het nie seker geweet nie, wou nog weer kon verander daaraan

daar was altyd die donkerder strepe wat meer vas gelê het as ander

die grootste hiervan was die liefde

ʼn kerk of gemeente wat nie die liefde uitleef nie,

moet in elk geval maar in ligte potlood oor sy bestaan skryf

nie te ernstig oor homself en sy dogmas voel nie.

Daar was ander donker strepe in my en jou saamwees,

nagte se geworstel met die balans van liefde en reg

die gewig van die welwese van die kerk teenoor die welsyn  van mense

potloodmens wat jy is, het ons altyd herinner dat ons nie so vinnig moet oordeel nie,

maar eers weer na nog  ʼn ander kant van die saak laat luister,

so kon jy met gemak aan weerskante van die argument stap

soms tot ons almal se hoogheilige verdriet,

want dit het ons vergaderings soms baie lank gemaak,

maar tyd was misterieus, want dit het nie net die besluit beter gemaak nie,

maar ook vir ons nader aan mekaar gebring.

 

Ek sou jou wou vra wanneer het die skakerings van grys, slegs in donker strepe verander

ek sou jou wou soebat om die potlood bietjie minder styf vas te hou

en die Goddelike kunstenaarhand toe te laat om bietjie ligter te teken

sommige van die strepe uit te vee, die teks bietjie meer digterlik te skryf

ek sou jou so graag op  ʼn afstand wou laat staan en laat sien

dat die donker strepe slegs  ʼn deel van die groter Godstekening van jou lewe is.

ek sou jou wou wys op die plesierige krulle van jou humor,

van hoe lekker jy oor jouself kon lag en stories  ten koste van jouself vertel

ek sou jou wou wys op die reguitrige vergesigte van al die argumente, gedagtes en drome

ons sou ons kon verstom in die passievolle argumente van die brekende golwe tydens die hoogwater

en weer balans kry in die twak praat en die rus en die plotsende klein golfies van die laagwater

ek sou jou jouself wys daar langs die viswater en myself daar langs jou wou inteken,

– jou aardsheid het so floreer in die opwinding en verwerking van  ʼn stinkende vis –

ek sou groot glibberige visse saam met jou wou vang –

soos die relevansie van Calvyn vir vandag,

is geloof so  ʼn seker saak, is geloof soos die dogmas dit verwoord en verhouding met God dieselfde ding,

sou liefde nie  ʼn beter beskrywing van ons verhouding met God wees as geloof nie.

Ons het probeer om van hulle te vang, maar soos geslepe visse het hulle baie keer weggekom,

maar ons is potloodmense ons dink en skryf maar voorlopig,

so ons teken hulle net so liggies,  ons sou altyd weer kon probeer.

 

Ek sou jou graag wou wys die subtiele verandering wat met die jare in jou tekening verskyn het.

Skakerings van grys het op subtiele wyse vir pastelfigure  begin plek maak.

Subtiel het liefde  ʼn nuwe sagtheid ingedra, jou familie en veral jou Alette, Pietman, Gerrit, Eduaan

is nie kleur wat jy op kleurkaarte kry nie, lewe, dinamika, humor – wonder-skakerings.

Mirakelagtig bly hulle ook nie op dieselfde plekke sit op daardie tekening nie.

Baie keer sit hulle selfs nie waar jy sou verkies nie, die Goddelike misterie van die gesin.

Jy sou egter oplet dat die meeste van die tyd hulle oë op jou gerig is, waar hulle ook al sit.

Ek sou jou wou wys hoe die mense in en uit deur jou lewe beweeg,

soms vaal en grys, met donker houtskool geteken en hoe hulle weer daar weg stap

met  ʼn bietjie kleur vir hul eie tekeninge, 

 ʼn bietjie meer moed, en hul eie potlood om te begin skryf of teken.

 

Ek sou jou weer wou vra wanneer het die skakerings van grys slegs in donker strepe verander,

ek sou jou wou soebat om die potlood bietjie minder styf vas te hou

en die Goddelike kunstenaarhand toe te laat om bietjie ligter te teken

sommige van die strepe uit te vee, die teks bietjie meer digterlik te skryf

ek sou jou hand in die Groot Kunstenaarshand wou sit

en jou laat ervaar hoe Hy ons potloodmense se deurmekaargeskryf

soms net uitvee, sy woorde oor die woorde skryf wie se houvas te groot raak,

wat ons ons potloodkarakter laat verloor:

vasgeloopte woorde van donker vervang met opsieryke woorde van lig

teleurstelling met verwagting

wanhoop met hoop

mislukking met sukses

verraad met vertrou

dood met lewe

duik is nie dieselfde as sink nie en

om jou asem op te hou, is nie dieselfde as om op te hou asem haal nie.

daar is wel ooreenkomste, maar in God se hand is daar wesentlike lewensverskille.

As ons dan ook soms verkeerde goed kwytraak,

weet die Groot Outeur ons praat of skryf soms voor ons dink.

Ek dink daar is meer genade vir ons soort en vee Hy dit uit voor dit te veel skade doen.

As ons dalk te hard druk en die skade staan ingegraveer op die bladsy,

skeur Hy dit uit en spyker dit aan die kruis van vergifnis vas,

die kruis van veroordeling is reeds vol, daar is nie meer plek vir ons nie my ou vriend.

 

Ons potloodmense was nog altyd meer verknog aan wandelpaaie as treinspore;

die sweet, die onverwagse en onvoorspelbare, die swaarkry met sy sprinkelinkie humor,

dis die kwinkslag-speserye vir  kampvuurfilosofieë. 

Die laatmiddagvrede langs die Visrivier Canyon

kabbel speels oor die droë kluite van ons afgestompte bar bestaan.

Jy en Alet het dit so vrygewig met ons ander stofverslane, bleeksiele gedeel.

Hoe is dit dat ons nie eers  ʼn bekertjie water vir jou kon aanbied nie?

Hoe is dit dat jy nou vir die eerste keer van  die wandelpad op die treinspoor gerangeer is,

die onverwagte plesier en die geure van die lewe vir dieseldampe en roet verruil het?

Hoe het dit gebeur dat die oop naghemel met al sy sterre en misterie

minder aantreklik as die donker tonnel met sy onafwendbare uitkoms was?

Hoe verruil  ʼn potloodmens sy potlood vir  ʼn pen

om die finale paragraaf onafwendbaar en onveranderlik te skryf?

Was die stryd so groot en so intens,

het dit jou so verdoof dat geen stem meer kon deurdring nie?

Nou is my potlood opgeskryf en as jy die pen kon opneem,

laat ek dit ook nou opneem en wat ek nou sê, kan maar onuitwisbaar staan. 

Ek was eers baie vies dat jy my 50 ste verjaardag gekies het. Vandag glo ek dat jy nie meer regtig die keuse self gemaak het nie. Die aand op Stellenbosch het ek en my broer en my pa oor jou gesels op daardie aand het ek werklik besef hoeveel jy my oor die jare gegee het:

Jy was lojaal teenoor ander

sonder om jou aan hul opinies te verbind;

omdat jy getrou teenoor jouself was

al het dit jou by jou eie vriende ongewild gemaak

het ek en ander jou vertrou;

jy kon afkeer en passie vashou

saam met liefde en die hoop

so kwaad soos jy was oor kerk se voetesleep oor Belhar

het jy jouself steeds voluit vir die kerk gegee;

terwyl jy so deur jou eie donker gestruikel het,

wou jy weet of daar nie iets is wat jy vir my kan doen nie;

jou grootste passie was vir die belangrike dinge in die lewe

al het ek soms goedkoop bokswyn by jou gedrink,

het julle jul warm harte oopgemaak en my ʼn tweede tuiste

in die gemeente gegee;

deur al die vuuroonde van beproewing

was jy bereid om saam met my daar te staan,

ons het wel soms gestry oor hoekom ons daar was,

maar jy was daar!

Daardie aand het ons op jou ʼn heildronk gedrink,

want niemand kan meer vra op sy vyftigste verjaardag nie, behalwe dat jy saam met my daar moes wees.

Vir jou is die lewe Christus,

 ʼn lewe en liefde wat nog in ons almal voortleef,

ʼn lewe wat in Christus toegedraai is,

deur sy krag en met sy liefde geleef is.

ʼn Lewe wat die mooi van die skepping kon indrink soos nagmaalwyn

en jou verenig met God.

Uiteindelik kon Jesus ook die gebrokenheid van jou liggaam

in sy gebroke liggaam opneem en die wins van sy sterwe, jou wins maak.

Jy het gewaak en waggehou, mag die volgende nou vir jou waar word

 

Hond van God –

Hewitt Visser (Vader Bonaventure Hinwood)

geen jaghond nie

net ‘n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ‘n bidmatjie voor die stoel

Christo van Heerden – 20 Maart 2009

 

… earth calling …

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Een van ons gemeentekinders is in ‘n motorfietsongeluk dood. Dit was ‘n baie groot begrafnis met baie ouers en kinders teenwoordig. Ek wou iets vir die ouers gee en iets vir die jong mense sê, sonder  om te preek. Hierdie en Evolusie van die Liefde is saam gebruik.

 

Ons weet dis ‘n natuurlike noodwendigheid dat julle sal wil lanseer

die ruimte sal wil verken en jul eie lesse leer

Dis egter julle hormone en passie, julle hoë oktaan

wat ons so bekommer en bont laat staan

Dis wanneer julle sonder om te dink,

die heelal vol rinkink

wat ons moed so in ons skoene sink

Wanneer julle Taurus, die bul, by die horings wil gaan pak

dis wanneer ons benoud na ons asems snak

Dis wanneer julle die Phoenix bloots wil klim

om die son te gaan ontdek,

teen alle common-sense in

dis wanneer ons bid en roei

dis wanneer ons so met julle stoei

Ons weet julle kan seerkry en bloei

ons verstaan dat julle jeug en onskuld kan wegskroei

As jy dalk jouself verbrand

hoop ek jy sien die Vaderhand

As jy in die koue donker lugleegte van selfverwyt rondsweef

weet daar is ‘n Liefde wat jou sal vergeef.

 

As ons so roep en probeer wal gooi

is ons eintlik besig om julle terug te nooi

Ja ons  weet re-entry is altyd seer

maar onthou daar is ten minste ‘n atmosfeer

as die donder slaan en die aarde bewe

weet dis als  tekens van die lewe

Ons weet dat julle baie keer dink dat ons julle niks kan leer

maar kom ten minste weer jou instrumente kalibreer

sodat jy kan weet waar is suid en waar is noord

en kyk ook sommer ook wie en wat het jy aan boord.

 

Ons weet jy hoort in jou eie wentelbaan

al is dit ook hoe moeilik om jou te laat gaan

daar is altyd die eiewillige middelpuntvliedende mag

en die Goddelike genesende swaartekrag

in hierdie eindelose stryd,

sal ons namens jou vra vir wysheid

mag jou ster so helder skyn

dat selfs ander se twyfel verdwyn

mag jy vrolik en helder deur die ruimte sweef

omdat Goddelike lig en liefde in jou leef.

Christo van Heerden – Sept 2008

Die evolusie van die liefde …

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Een van ons gemeentekinders is in ‘n motorfietsongeluk dood. Dit was ‘n baie groot begrafnis met baie ouers en kinders teenwoordig. Ek wou iets vir die ouers gee en iets vir die jong mense sê, sonder  om te preek. Hierdie en “Earth Calling” is saam gebruik.

 

Dit het ontstaan by ‘n gedagte, ‘n vonkeling

‘n droom, ‘n wens, ‘n tinteling

vanuit hierdie niks kom ‘n lewe op spoor

uit die nebulis van hormoon en passie, enkelselle

kom die lewe voor

die Liefdeswet, die swaartekrag

laat spring die lewe na ‘n volgende geslag

so onmeetbaar klein

so enkelvoudig rein

soveel verwagting – die lewe verskyn

met elke selverdeling

met elke gedagtestreling

verdeel ook die gedagte

groei dit tot ‘n droom vir ons volgende geslagte.

 

Lewe neem toe in kompleksiteit

organe, senustelsels – ‘n nuwe biosfeer

word met moeite en pyn gelanseer

die swaartekrag van liefde werp met kreet en traan

‘n unieke lewe in ‘n nuwe wentelbaan

nou het die dans van die lewe begin

droom en werklikheid, kompleksiteit

hoe maak dit alles sin

dit tol en draai – die swaartekrag

teen eiewillige middelpuntvliedende mag

Die geboorte van ‘n eie kompleksiteit, ‘n eie atmosfeer

Weer die pyn die traan, dit  bly baie seer.

 

Soms in die na-nag van die koue maan

rol daar ‘n yskoue traan

ek word weer bewus van my eie wentelbaan

van die son wat op die horison speel

van die swaartekrag liefde wat oor my streel

in die tol en draai, in die mal gejaag

het sy liefde vir my nooit vervaag

hoe onsigbaar ookal hierdie krag

dis steeds sterker as enige ander mag.

 

Wanneer ons planne en drome in die donker gat

van wanhoop en twyfel af verdwyn

wanneer als saampers tot ‘n ondraaglike pyn

wanneer my krag op is en my gedagtes dreig om te ontspoor

begin die geboorteproses van voor

dit maak nie saak hoe ek tol en draai

dit bly steeds die Swaartekrag waaraan ek swaai

wanneer ek ophou spartel, moeg en gedaan

is ek steeds in die Son se wentelbaan.

 

Kompleksiteit nou gereduseer tot hierdie drie –

Geloof, hoop en liefde

Geloof dat die swaartekrag van God se liefde sal strek tot by my kind;

Hoop dat die lewe my kind sal vind,

Maar uiteindelik is daar net die liefde –

selfopofferend, soekend, reddend soos aan die kruis

dis al wat ons anker aan die vaderhuis

en wanneer die ster verskiet

weet ek daar is geen ander mag

so sterk soos hierdie swaartekrag

Uiteindelik is daar hierdie liefde

wat wentelbane oorwin

wat die lig helder en warm laat skyn

wat trane en stryd laat verdwyn

Uiteindelik is daar hierdie liefde

wat drome heelmaak

en ons ‘n nuwe lied laat sing

wat ons weer in die Vaderhuis bring

so enkelvoudig rein

sal dit op sy helderste skyn

dan sal ek weet daar is geen mag

wat so sterk is soos hierdie swaartekrag

Christo van Heerden – Sept 2008

Wil ons regtig besluit?

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Wanneer ek begrafnisse hou probeer ek luister waaroor die familie wonder. Soms wonder ek oor dieselfde dinge. Hierdie is geskryf nav ‘n jong ma wat baie skielik aan ‘n hartaanval dood is. Terwyl die dood altyd vreemd is, is dit die een ding waarvan almal kan seker wees. Wil iemand die verantwoordelikheid dra om te besluit waar die streep getrek moet word? Die volgende is op haar begrafnis gebruik.

 

Daar word so maklik gesê

dood is deel van die lewe

die sekerheid wat daarin lê

bepaal ons hele aardse strewe

Die nie vir ons om te kies

wanneer ons gebore word

óf die lengte van die lewe

al soms is dit ontstellend  kort

wil ons regtig hierdie mag beheer

wil ons sy beslissings keer?

 

Daar is hierdie ruimte

waarin ons kan kies en speel

die plek waar ons kan liefhê

en mekaar met deernis streel

die plek waarin ons keuses maak

kan besluit wat maak regtig saak

Ons stel geen grense

aan ons en ons kinders

se drome en wense

wie van ons sou die grens wou stel

waarbinne ander hul drome moes tel?

 

Wil ons regtig hierdie mag beheer

sou dit ons help om vervuld te leef

sou dit enige van ons vrese besweer

sou dit ons vry maak om na nuwe hoogtes te streef

óf sou dit ons beangs ons dae laat tel

ons heen en weer laat skarrel

sou ons begin om planne op te stel

terwyl wolke van waansin om ons warrel

sou ons nuwe projekte aanpak

of verlam wag dat die gordyn oor ons moet sak?

 

Kan ons die ruimte en die vryheid sien

kan ons hierdie lewe en energie verdien

kan ons leef uit God se guns

want alleen dan word die lewe

‘n samevlegting van keuses en kuns

‘n Simfonie waarin liefde, vreugde

opborrel tot die cresendo’s

wat afgewissel word deur die stil,

soms hartseer  en verlate adagio’s

op hierdie bladmusiek van lewe

word ons toe gelaat

om ons eie woorde te skryf

soms is dit juis hierdie inspirasie

wat die donker,  onverstaanbare oomblikke verdryf

 

Wil ons die oseane  se grense se stel

besluit wanneer is dit laag- of hooggety

wil ons die rimte van die branders tel

wil ons regtig teen die strome stry

of wil ons ons in die misterie daarvan verloor

deur net te kyk na die eindelose beweging

net weer die branders op die rotse hoor

en gevul word met die stil versekering

God het my in hierdie lewe gebring.

 

Kan ons die wind stuur of beheer

soms is dit ‘n briesie wat saggies,

vertroostend oor ons spoel

soms is dit die stormwind wat alles omkeer

ons onbenullig, klein en swak laat voel

en wanneer hy om middernag om hoeke loei

en skaduwees tot monsters en demone groei

dan hoor ons die stem van die Een wat die wind beheer

wat die son beveel om die lig te laat terugkeer

en wanneer  sy deurboorde hand oor my streel

skep Hy weer ruimte vir my om my lied te speel.

 

Wil ons verantwoordelikheid neem vir elke draai in die pad

wil ons werklik bepaal hoe steil die opdraend wat ons moet stap

sal ons kies om deur swaarkry verrassend te groei

sal ons kies om uit klowe boontoe te stoei

en nuwe heerlike uitsigte  te ontdek,

ja, selfs  wanneer die grys mis oor ons trek

en ons totaal beheer en rigting verloor

dis dan wanneer ons die Vaderstem wil hoor.

 

Wanneer vrees en angs ons verteer

in  ons stil en seer

as ons ons met hoop oorgee aan sy beheer

dis wanneer ons meer van sy hartklop leer

dan sug sy Gees saam met ons gees

in sy hand sal ons uiteindelik veilig wees

Daar is die laaste duister grens

wat ons almal wil weg wens

Wie sien kans om in daardie donker grot

van godsverlatenheid in te stap.

 

Hy het in die duisternis in gedaal

die magte van boosheid

het hul woede op Hom uitgehaal.

na drie dae het die lig deur God se mag verskyn

die duisternis, woede en vrees het verdwyn

Liefde, lewe lig skyn nou vry

en sal elkeen na die Vader begelei

Hy steek sy hand uit

en terwyl ons die laaste treë stap

word ons genooi

om die laaste vers van ons lewenslied te voltooi

en dan saam met die hemelkoor

word hierdie lied gehoor

op die maat van ons musiek stap ons nader

na ons Hemelvader

en daar uiteindelik gestroop

van alle pyn en wanhoop

vou die ewigheid voor ons oop

sodat ons bly en vry kan sing

onder hemelse begeleiding

Christo van Heerden – Nov 2008