Posts Tagged ‘Bybel’

Calvyn (geb. 10 Julie 1509) en Gestuurde Gemeentes (Post-Christendom)

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

  • Calvyn se klem op christene se roeping in die alledaagse lewe herinner ons daaraan dat ons lewe voor die aangesig van die lewende, sprekende God altyd ‘n gerigtheid op die wereld en gewone lewe beteken.  Teenoor die toenemende verskynsel tydens die Christendom era om ‘n skeiding te tref tussen die kerklike terrein en die gewone lewe (gevoed deur modernisme se feite-waardes split), en hoedat dit gevolglik selfs christene se verstaan van Sondag teenoor die res van die week beinvloed het, beklemtoon Calvyn en die breer gereformeerde tradisie dat ons God se wil onderskei op elke terrein van die ganse skepping en totale lewe.  Die gestuurde gemeentes (missional churches) gesprek het juis begin met ‘n nuwe waardering vir die sg. missio Dei teologie (met Karl Barth se teologie in die agtergrond en die 1952 Willingen sendingkonferensie as stimulus) wat die fokus plaas op God se sending in die wereld. Die implikasie vir gestuurde gemeentes is dat ons nie oor die wereld buite die kerk as primer ‘n bedreigende werklikheid kan dink as ons in die Bybel leer dat dit die wereld is wat God lief het en bereid was om die Seun van God voor op te offer nie.  Ons word juis die wereld in gestuur omdat dit die plek is waar God teenwoordig is en reeds besig is om te werk.  Een van die grootste uitdagings vir gestuurde gemeentes in ‘n post-christendom era is om van vooraf te leer hoe om die wereld ‘n gasvrye plek te ervaar waar ons kan deel word van die beweging van die Gees, en hoe ons daardie gasvryheid ontvang sonder om so deel te word van die wereld dat ons unieke Christelike karakter nie onderskei kan word deur ons gashere en -vroue nie.  Calvyn se roepingsteologie oor waarvoor ons die wereld ingestuur word kan ons dalk meer help hiermee as wat ons dink.

Op hierdie Calvyn herdenkingsdag in ‘n tyd van fantastiese geleenthede om te worstel met kerklike vernuwing en gestuurde gemeentes in ‘n toenemende post-christendom era, dink ek Coenie Burger is reg as hy skryf, “sonder ‘n lewendige en diepgaande gesprek oor ons gereformeerde erfenis gaan ons nie goeie vernuwing in die NG Kerk kry nie”.

 

Handelinge en Gestuurde Gemeentes

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Die Handelinge Konferensie wat vandag by die Kweekskool op Stellenbosch begin verteenwoordig ‘n prysenswaardige inisiatief tot grondige Bybelse gesprek in verband met Gestuurde Gemeentes (wens ek kon daar wees!).  Ek het die afgelope jaar hier in die VSA opgemerk dat daar nie alleen ‘n groeiende behoefte in die sg. “missional church” gesprek is vir grondliggende bydraes vanuit die Bybelwetenskappe tot ‘n beter verstaan van kerkwees in ‘n post-Christendom era nie, maar ook dat Ou Testamentiese werk (bv. Brueggemann en Fretheim) en Nuwe Testamentiese bydraes van veral iemand soos N.T. Wright toenemende aandag in hierdie kringe verdien.  Dit is veral wanneer hierdie soort noodsaaklike interdissiplinere akademiese gesprekke kan plaasvind vanuit gemeentelike realiteit waar gemeentelede die Bybel lees as God se lewende Woord vir hulle konkrete situasies dat daar die potensiaal is vir sosiaal-beliggaamde en geintegreerde ekklesiologie wat Bybels begrond is.

Baie van ons wat op ekklesiologiese vlak worstel met Gestuurde Gemeentes vanuit die praktyk en gewoontes van spesifieke gemeentes het veral ‘n behoefte aan kritiese Bybels-teologiese refleksie op hoe Bybelse interpretasie funksioneer in teologiese begrondings van missionale ekklesiologie in die sg. sendingteologie.  So bv. het David Bosch se fenomenale werk, Transforming Mission (wat steeds hier in die VSA, veral in Protestantse kringe, as die klassieke baanbrekerswerk vir ‘n nuwe sendingteologie beskou word), al dikwels kritiek ontlok vir die gebrek aan Ou Testamentiese begronding vir sy argument.  Hoe kan ons Bybels-teologies in gesprek bly met Bosch?  Maar gegewe die Handelinge konferensie, wil ek veral na een ander belangrike werk verwys wat so vyf jaar gelede uit die pen van twee Katolieke sendingteoloe verskyn het, en wat hier in die VSA gegroei het tot die status van ‘n soort Katolieke ekwivalent en aanvulling tot Bosch.  Ek verwys na Stephen Bevans en Roger Schroeder se Constants in Context: A Theology of Mission for Today (Orbis, 2004).  Die rede hoekom ek hierna verwys is dat Bevans and Schroeder in die eerste hoofstuk van hulle boek kies vir ‘n sending-teologiese begronding vir ekklesiologie vanuit Handelinge.

Bevans en Schoeder skryf, “Our thesis is that a study of Acts will confirm that the church only comes to be as it understands and accepts mission anywhere and everywhere in the world”, en dat “our contention is that the disciples really do not fully recognize themselves as church – a separate reality from Judaism – until they recognize that they are called to a mission that has as its scope ‘the ends of the earth'”.  Vir hierdie twee Katolieke sendingteoloe is sending nie alleen die moeder van all teologie nie (Martin Kahler), maar ook die moeder van die kerk.  En hulle beweer dat dit veral Handelinge is, meer as enige ander Nuwe Testamentiese boek, wat “points to the origin of the church as it engages in missionary activity“.  Hulle onderskei dan veral tussen sewe narratiewe fases in Handelinge, wat elkeen ‘n spesifieke moment in die vroee Christelike gemeenskap se selfverstaan as gestuurd en terselfdertyd as kerk verteenwoordig:  Voor-Pinkster (Hand. 1); Pinkster (Hand. 2-5); Stefanus (Hand. 6-7); Samaria en die Etiopier (Hand. 8); Kornelius en sy huishouding (Hand. 10 – 11:18); Antiochie (Hand. 11:19-26); die sending na die heidene (Hand. 12-28).  Hulle konklusie is dat “what we hope emerges from our reading of Acts is, first, a clear realization that the church, even at its origin, is ‘missionary by its very nature’; mission, in other words, is prior to the church; and, constitutive of its very existence.  Secondly… that the church’s missionary nature only emerges as the community engages with particular contexts, under the direction of the Spirit.”

Hierdie soort sendingteologiese konklusies, wat in hierdie geval gegrond is op ‘n bepaalde lees van Handelinge, het verreikende implikasies vir ons denke oor die kerk en oor gestuurde gemeentes in spesifieke kontekste.  Ek het gewonder hoe Bybelwetenskaplikes sou reageer op hierdie soort verstaan van Handelinge?