Posts Tagged ‘Coenie Burger’

Calvyn (geb. 10 Julie 1509) en Gestuurde Gemeentes (Post-Christendom)

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

  • Calvyn se klem op christene se roeping in die alledaagse lewe herinner ons daaraan dat ons lewe voor die aangesig van die lewende, sprekende God altyd ‘n gerigtheid op die wereld en gewone lewe beteken.  Teenoor die toenemende verskynsel tydens die Christendom era om ‘n skeiding te tref tussen die kerklike terrein en die gewone lewe (gevoed deur modernisme se feite-waardes split), en hoedat dit gevolglik selfs christene se verstaan van Sondag teenoor die res van die week beinvloed het, beklemtoon Calvyn en die breer gereformeerde tradisie dat ons God se wil onderskei op elke terrein van die ganse skepping en totale lewe.  Die gestuurde gemeentes (missional churches) gesprek het juis begin met ‘n nuwe waardering vir die sg. missio Dei teologie (met Karl Barth se teologie in die agtergrond en die 1952 Willingen sendingkonferensie as stimulus) wat die fokus plaas op God se sending in die wereld. Die implikasie vir gestuurde gemeentes is dat ons nie oor die wereld buite die kerk as primer ‘n bedreigende werklikheid kan dink as ons in die Bybel leer dat dit die wereld is wat God lief het en bereid was om die Seun van God voor op te offer nie.  Ons word juis die wereld in gestuur omdat dit die plek is waar God teenwoordig is en reeds besig is om te werk.  Een van die grootste uitdagings vir gestuurde gemeentes in ‘n post-christendom era is om van vooraf te leer hoe om die wereld ‘n gasvrye plek te ervaar waar ons kan deel word van die beweging van die Gees, en hoe ons daardie gasvryheid ontvang sonder om so deel te word van die wereld dat ons unieke Christelike karakter nie onderskei kan word deur ons gashere en -vroue nie.  Calvyn se roepingsteologie oor waarvoor ons die wereld ingestuur word kan ons dalk meer help hiermee as wat ons dink.

Op hierdie Calvyn herdenkingsdag in ‘n tyd van fantastiese geleenthede om te worstel met kerklike vernuwing en gestuurde gemeentes in ‘n toenemende post-christendom era, dink ek Coenie Burger is reg as hy skryf, “sonder ‘n lewendige en diepgaande gesprek oor ons gereformeerde erfenis gaan ons nie goeie vernuwing in die NG Kerk kry nie”.

 

Pinkstergemeenskappe 7: ‘n Vertrek vol begaafde mense

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

In hierdie laaste van my sewe blog bydraes oor Pinkstergemeenskappe – geinspireer deur Coenie Burger se werk oor gemeentes as bewegings in die kragveld van die Gees, en in teologiese gesprek met Peter Block se boek oor hoe gemeenskappe vorm en transformeer – is die fokus op gawes.  Ek verkies Coenie se voorkeur om te praat van begaafde mense (mense met gawes) eerder as bloot gawes (bl. 191), want dit verhoed ons om saaklik en instrumenteel oor gawes te dink, en dit herinner ons dat dit primer oor mense gaan wat met hulle Gees-gegewe gawes in verhouding met mekaar leef.  ‘n Fokus op begaafde mense verklaar ‘n erns oor die verskil wat God self maak as Hy nie maar bloot ‘n abstraksie, idee, of beginsel is nie, maar waar Hy werklik self teenwoordig en aktief is te midde van die morsigheid en tekortkominge waar gewone mense geloofsonderskeiding en bediening saam met mekaar beliggaam.  Coenie skryf:  “Ons glo dat die Gees nie net mense se gawes en planne in diens wil neem nie, maar dat Hy mense self (met hulle volle wese) wil intrek in die proses van die kerk en die koninkryk.”

Peter Block wys op ons natuurlike gewoonte om maar al te graag te wil fokus op probleme, tekortkominge, en behoeftes in gemeenskappe.  Hy skryf tong in die kies:  “The only cultural practices that focus on gifts are retirement parties and funerals.  We only express gratitude for your gifts when you are on your way out or gone.  If we really want to know what gifts others see in us, we have to wait for our own eulogy, and even then, as the story goes, we will miss it by a few days.” Vanuit teologiese uitgangspunt en die werklikheid van Christelike geloofsgemeenskappe is dit selfs ‘n nog groter aanklag, want dit beteken dat ons ook nie die teenwoordigheid en aktiwiteit van God in mense se lewens ernstig neem nie.  Ons realisme oor gebrekkige situasies en die sondige menslike natuur (wat natuurlik altyd so is) word dan al te maklik ‘n eensydige beklemtoning van wat nie moontlik is vanuit menslike oogpunt nie, sonder dat ons ewe gretig is om die beweging en gawes van die Gees as ‘n ewe groot realiteit in dieselfde situasies in ag te neem.  Dan bestaan die gevaar dat ons realisme bloot ‘n verskansing is van ‘n dieperliggende skaarsheidmentaliteit wat nie meer kan glo dat God ‘n verskil in en deur mense kan maak nie.

Block skryf:  “Instead of problematizing people and work, the conversation that searches for the mystery of our gifts brings the greatest change and results.” Pinkstergemeenskappe, met hul onwrikbare geloof in die misterie en realiteit van die beweging van die Gees waarvan hulle deel geword het, plaas hulle hoop op transformasie wat net in die kragveld van die Gees moontlik is, maar wat juis gebeur daar waar gewone, kwesbare mense met hul tekortkominge en swakhede worstel in alledaagse lewensituasies.

Pinkstergemeenskappe 3: ‘n Vertrek waar mense graag WIL wees

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Coenie Burger se beskrywing van gemeentes as bewegings, wat beteken dat dit nie maar net statiese voorwerpe is waarop seker dinge toegepas kan word nie, het my verder laat dink aan hoe Peter Block skryf dat ‘n gasvrye gemeenskap gevorm word d.m.v. ‘n uitnodigende kultuur.  Hy onderskei uitnodiging van meer tipiese maniere waarop leiers dikwels transformasie wil bewerkstellig, nl. mandaat en oorreding.  Hy beskryf dit soos volg:  “The belief in mandate and persuasion triggers talk about how to change other people and how do we get those people on board, how do we make showing up a requirement, all of which are simply a desire to control others.  What is distinct about an invitation is that it can be refused, at no cost to the one refusing.”  ‘n Ware uitnodiging geskied nie op die basis van “promising incentives or rewards” nie, skryf Block, want “when we try to induce people to show up through strong selling or the language of enrolling, we are adding subtle pressure that, in a small but important way, blurs the freedom taken decision to say yes.”

‘n Uitnodigende kultuur is riskant, want niemand mag dalk opdaag nie.  Dit hou verband ons vrees dat ons nooit genoeg ondersteuners gaan vind om saam met ons die een of ander ideale wereld te skep nie, en lei daarom maklik tot subtiele vorme van manipulering en afdwinging om mense in die vertrek te kry.  Dit is die soort van versoeking wat baie gemeenteleiers aan onderworpe is t.o.v. gemeentelede se lojaliteit en commitment, veral wanneer hulle voor die uitdagings te staan kom van kwynende getalle en die dringendheid om lidmaatgetalle ten alle koste hoog te hou.  Wanneer dit gebeur voel dit hopeloos te riskant om te fokus op die klein persentasie van mense wat wel graag in die vertrek WIL wees, en bly ons op soek na die wonderstrategiee wat die stilswyende massa weer in beweging kan dwing (bv. “as ons net die jeug weer sover kan kry om…”)  Selfs evanglisasie- en sendingbenaderings tot diegene buite die gemeente kan ten diepste gebaseer wees op subtiele dwang en manipulasie eerder as ‘n ware uitnodiging.  Baie gemeentes dink selfs ook dat ordentlike bemarking van wie hulle is en wat hulle kan bied die deurslaggewende faktor kan wees vir oorlewing of herlewing.  Maar, as ek Block reg verstaan, is gasvryheid en ‘n ware uitnodigende kultuur iets totaal anders as bemarking en ‘n beloningskultuur (wat fokus op “what’s in it for me”).  Nee, skryf Block, “when we believe that barter or subtle coercion is necessary, we are operating out of a context of scarcity and self-interest, the core currencies of the economist.”  Uitnodiging bring ware transformasie mee, want dit werk met die energie van diegene (al is dit maar min in die vertrek) wat ‘n passie het vir iets groters as net hulle eie selfbelange.

Die energie in die Handelinge 2 vertrek was ewe energerend en uitnodigend.  Teologies het gelowiges deur die eeue heen die Gees se beweging geassosieer met ‘n onkeerbare energie wat aanloklik en aansteeklik genoeg was om ander te kan meevoer sonder dat hulle daartoe gedwing word.  Leierskap wat energie volg, ry die golwe van die Gees se wind… ‘n beweging wat nie gestop kan word nie, al tel die getalle soms daarteen.  Daar was tye in die geskiedenis van die Kerk dat dit die kragtigste getuienis kon lewer toe Christene in die minderheid was en als oenskynlik teen hulle getel het… ‘n krag ingebed in die uitnodigende kultuur van Gasvryheid eerder as die dwingende kultuur van Mag.  Dit is die nuwe missionale uitdaging in ‘n post-Christendom era.

Pinkstergemeenskappe 1: Jy is nie al een in die vertrek nie

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het in my vorige bydrae begin wonder wat dit in hierdie Pinkstertyd sou kon beteken as ons opnuut weer nadink oor die plaaslike gemeente as ‘n beweging in die kragveld van die Gees (n.a.v. Coenie Burger se gebruik van hierdie twee Pinkster metafore in sy boek Gemeentes in die Kragveld van die Gees, asook hoe die “force field” metafoor funksioneer in werke van Michael Welker en Wolfhart Panneberg). Ek wil veral Coenie se stelling, dat “gemeentes is nie statiese voorwerpe op wie jy sekere goed kan toepas of aan wie jy sekere goed kan doen nie… (dit) is ‘n dinamiese beweging wat nie twee dae lank presies dieselfde bly nie, wat altyd aan die skommel en die beweging bly en nooit stilstaan nie” (bl. 147) in teologiese gesprek bring met insigte uit ‘n redelike nuwe boek van Peter Block (konsultant wat veral in die opleidingsveld werk – sien sy web sites by www.designedlearning.com, www.peterblock.com, en www.asmallgroup.net).  Die boek se titel is Community: The Structure of Belonging (Berrett-Koehler, 2008)waarin hy die vraag vra oor hoe outentieke gemeenskap (om te behoort) gevorm word, en hoedat dit transformeer.

In hierdie Pinkstertyd fokus ons immers opnuut weer op ons belydenis dat geloofsgemeenskappe gevorm, instandgehou, gelei, en getransformeer word deur die Heilige Gees.  Maar hoe lyk die gemeentelike gestaltes van hierdie belydenis, veral wanneer ons dit waag om ons pneumatologie en ekklesiologie hieroor krities te integreer met insigte oor gemeenskapsvorming en -transformasie in die tydsgees en kulturele bewegings van ons hedendaagse gemeentekontekste?  Ek wil in die verband eerstens verwys na die interessante manier waarop Block die eerste hoofstuk van sy boek begin:  “Social fabric is created one room at a time.  It is formed from small steps that ask ‘Who do we want in the room?’ and ‘What is the new conversation that we want to occur?’  In community building, we choose the people and the conversation that will produce the accountability to build relationships, structure belonging, and move the action forward.”  Wat Block hier skryf mag dalk baie vanselfsprekend klink, maar die feit dat juis hierdie twee vrae vir hom so sentraal staan reflekteer ‘n fundamentele uitgangspunt vir gemeenskapsvorming en -transformering, asook die leierskapsbenadering wat daarby pas.  Hiermee beweer Block dat “the way (my kursivering) we bring people together matters more than our usual concerns about the content (weereens my kursivering) of what we present to people.  How we structure the gathering is as worthy of attention as grasping the nature of a problem or focusing on the solutions that we seek.”

Die fokusverskuiwing weg van ‘n oorwegende klem op inhoud na die manier waarop ons mense bymekaar bring onderstreep presies Coenie se stelling van hierbo, nl. dat ons nie gemeentes benader as objekte van ons goed uitgewerkte inhoud (selfs teologiese verstaan!) en strategiese planne oor hoe ons die gemeente sover moet kry om ons idees te implementeer nie.  Block noem dit “an argument for collective intelligence… against expensive studies and specialized expertise,” en skryf dan, “the essential insight is that people will be accountable and committed to what they have a hand in creating… this insight extends to the belief that whatever the world demands of us, the people most involved have the collective wisdom to meet the requirements of that demand… and if we can get them together in the room, in the right context and with a few simple ground rules, the wisdom to create a future or solve a problem is almost always in the room.”  Teologies verwoord:  dit veronderstel juis ‘n vertroue en respek vir wat ons in Pinkster bely, nl. dat die Gees reeds aan die beweeg is waar gelowiges rondom die Woord en in sy Naam bymekaarkom om geloofsonderskeiding in ‘n spesifieke konteks te beoefen.

Dit suggereer verseker nie dat inhoud onbelangrik is, of dat leiers nie ‘n besonderse bydrae kan maak tot gesprekke nie, maar dit verteenwoordig beslis ‘n relativering van eie agendas, opinies, en strategiee ter wille van ‘n verhoudingskultuur waarin almal teenwoordig deel kan wees van die onderskeidingsproses.  Soos Block inderdaad skryf (sonder dat hy dit waarskynlik pneumatologies of eskatologies bedoel!), “the future begins to show up as we gather.”  Dit vra van ‘n leier om te besef dat hy/sy nie al een in die vertrek is nie (my kinders hou daarvan om vir my te vertel “it’s not about you dad!”), en dat sukses nie afhang van hoe goed hy/sy gesprekke kan beheer of uitkomste kan manipuleer nie.  Block skryf, “it is the insight that authentic transformation does not occur by focusing on changing individuals or being smart about political processes, which are based on advocacy of interests, hardball negotiation, or finding where the power resides and getting them on your side.”  Van gemeenteleiers vra dit veral ‘n volle vertroue in die Gees wat die vertrek vul met energie en wysheid soos wat dit gestaltes vind in bewegings van verhoudinge en interaksies tussen mense.  Dit bied die uitdaging vir ‘n leierskapsensitiwiteit van hoe om deel te word van die vloei van energie, en hoe om die wysheid wat tussen mense tot stand kom te volg.

Inderdaad, in Handelinge 2 is dit duidelik dat die ontdekking van nie al een in die vertrek te wees nie tot grootskaalse verbasing gelei het!  Ek kon gister Handelinge 2 hardop in Afrikaans lees in ‘n erediens waar niemand anders dit kon verstaan nie, en terwyl meer as 10 ander tale terselfdertyd aangehoor is.  En alhoewel dit lekker was om my eie moedertaal deel van die oomblik te kon maak, is dit terselfdertyd opgeneem in die Gees se simfonie wat geskep is uit die groot verskeidenheid van ander wat saam met my in dieselfde vertrek was.