Posts Tagged ‘Gemeentes’

Geboorte van ‘n nuwe Taakspan

Written by Wilma le Roux on . Posted in Dissipelvorming

Disciple3

Dissipelvorming

Disciple

Tydens die Sinode van Wes-en Suidkaap se sitting vroeër vanjaar, het daar onder die vleuels van die Diensgroep vir Toerusting ‘n nuwe Taakspan tot stand gekom: Die Taakspan vir Dissipelvorming (vroeër Lidmaatbemagtiging).  Hierdie taakspan fokus op lidmate, en hoe om hulle toe te rus en te bemagtig in hulle gemeentes.

Die eerste vergadering van hierdie groep, wat bestaan uit predikante sowel as lidmate, was ingerig as ‘n dinkskrum. Johan Kotze het aan die hand van Design Thinking die groep gefassiliteer om hulle potensiaal as groep te begin ontsluit.

  • 20151015_104458
  • 20151015_104557
  • 20151015_104519
  • 20151015_104526
  • 20151015_140458
  • Johan verduidelik
  • Tommy lewer sy inset
  • Groepwerk
  • Humor was daar ook!
  • Die eindproduk van hierdie sessie - in Februarie 2016 dink ons verder saam!

Hier is opmerkings van ‘n paar van die taakspanlede:

GROEI.  Dis wat ek beleef het, want ek is uit my verwysingsraamwerk geneem na ‘n visie van ‘n perfekte wëreld waar mense in harmonie moet saamleef. Ek was meegevoer deur Johan se strategiese denke proses en was verbaas oor die kennis van die ander dominees (wat eintlik nice ouens was met ‘n sin vir humor!)

Ek glo dat die span ‘n goeie plan kan saamstel. (Alewyn, lidmaat)

Die eerste ontmoeting van dié sinodale taakspan was ‘n energerende ervaring wat met groot kundigheid deur Johan Kotze gelei is. Dit is, myns insiens, ʼn groot voorreg om saam met ander lidmate insette tot die kern-saak van dissipelvorming te kan lewer. Ek glo en vertrou dat hierdie die beginpunt is van ʼn voortdurende proses waar elkeen van ons ʼn geringe bydrae kan maak tot ʼn gesprek wat die breër kerkverband kan verryk. (Marcell Mey, predikant)

My belewenis was, dat die taakspan regtig ernstig is om die hartklop van God te soek en nie net op ‘n “formule” wil besluit om dissipels te vorm nie. Die vergadering het my nuwe energie gegee en hoop vir ons kerk.

Wat gaan die impak wees… Dissipelskap gaan ons nie net help om mense nader aan die Here te kry nie, maar ook help om beter met mense om te gaan. Dissipelskap herstel en verdiep verhoudings. Dit kweek egte, eerlike verhoudings. (Elcshé, Predikant)

Ek het dit eerstens geniet om my ervaringe binne die gemeente met ander te kon deel en te sien hoe ons almal met min of meer dieselfde bekommernisse en uitdagings sit. Dit het my egter ook moed gegee om te weet dat ek nie alleen met hierdie uitdagings sit nie.

Ek het ook die samestelling van die groep baie geniet. Ek dink ons het die vermoe om mekaar bietjie uit te daag en verder te laat dink.

Ek is entoesiasties oor die dinge waaroor ons droom vir 2016. Ek glo dat indien ons dit toegepas kry, dit ’n wonderlike hulpmiddel in gemeentes sal kan wees. (Marietjie, predikant)

As iemand iets vir die taakspan wil stuur as bydrae/nadink/voorstel kan julle dit gerus doen. Kontak die voorsitter deur hier te kliek: Jannie le Roux

 

Changing the World?

Written by Wilma le Roux on . Posted in Konferensies, VBO

Winterskool-sprekers dag 1

Die sprekers van dag 1 by die Winterskool van 2-4 Junie 2015 op Stellenbosch

Prof Barney Pityana het tydens die hoofrede van die oggend gepraat oor hoe om beide ‘n getroue volgeling van Jesus én ‘n verantwoordelike burger te wees. Ons word binne ons demokrasië geroep om te getuig oor die transformerende liefde van God vir die wêreld.

Die res van die dag is gesels oor sake soos menswaardigheid (met ‘n dowe dominee en haar horende kollega wat vertel het hoe om die grense tussen dowe en horende lidmate in hul gemeente te oorbrug); oor dissipelskap en burgerskap vanuit die Ou en Nuwe Testament belig; oor die uitdagings van ongelykheid in ons land; oor hoe die kerk kan help om mense te laat verantwoordelikheid neem in hul eie gemeenskappe; en oor hoe die kerk moet lyk in die volgende 30 Jaar.

Hierdie 5 temas word elke oggend verder bespreek, vanuit verskillende hoeke en deur verskillende sprekers belig.

Tydens die middagsessies kon konferensiegangers inskakel by gesprekke oor hoe prediking in kerke regtig ‘n verskil op voetsoolvlak kan bring; oor die kerk se betrokkenheid in kinderwerk en die beskerming van die kind se regte; oor missionale gemeentes en hoe hulle ‘n verskil kan maak; oor hoe leiers ‘n kerk én wêreld kan help transformeer; en oor die verwantskap tussen dissipelskap, rentmeesterskap en verantwoordelike burgerskap.

KOM LUISTER VANDAG EN MôRE VERDER HOE JY KAN HELP OM DIE WêRELD TE VERANDER!!

VBO Nuut en Geïntegreerd

Written by Wilma le Roux on . Posted in Kursusse, VBO

Nuwe en Geïntegreerde

Gevorderde Sertifikaat in Bedieningsvernuwing

ʼn Gesamentlike projek van die drie VBO-sentra

 Communitas Logo  Excelsus logo  Logo Shepherd

                                               

Ons begin in 2015 met ʼn nuwe, tweede groep wat die gevorderde Sertifikaatkursus in Bedieningsvernuwing gaan deurloop!  

Ons nooi leraars wat 5 jaar of langer in die bediening is om saam te kom dink oor hoe ons ons bediening sinvol en verantwoordelik kan inrig.  

Die eerste groep van 35 leraars het vanjaar die eerste drie modules voltooi en ons kry baie positiewe terugvoer.

Maar wat behels hierdie sertifikaat?

Die bedoeling van die Geintegreerde Sertifikaatkursus is om leraars wat al `n rukkie in die bediening is op ʼn dieper en grondiger vlak te geheroriënteer t.o.v. hulle bediening.

  • Die kursus word dus in ʼn formaat van nege blokke (van 3–4 dae) oor die loop van drie jaar gedoen.
  • Dit wil inklusief werk deur teologie, vaardighede, houdings, roepingsbewustheid en spiritualiteit te bevorder
  • Die kursus gee nuwe insigte, maar is ook baie prakties en help mense om innoverend te werk.
  • Die struktuur van die M Th kursus word as ʼn vertrekpunt geneem, maar ʼn belangrike verskil is dat daar geen skripsie geskryf word nie.
  • Om kursusgangers dieper aan die dink en werk te kry word o.a.  ʼn joernaal gebruik.

 

Die datums vir die nuwe groep van 2015 is die volgende:

Blok 1 Om die Tye en Geleenthede te Verstaan 17-19 Feb
Blok 2 Gemeentelike Ekklesiologie 21-23 Apr
Blok 3 DIE TRINITEIT-Die Wonderlike, Vreemde God in Wie Christene Glo 1-3 Sep

Kruisvaarders van Gordonsbaai

Written by Wilma le Roux on . Posted in VBO

Pinkster Gordonsbaai was vanjaar ‘n absolute belewenis van beeld, klank en sielskos.
Jannie le Roux sê: “Ek het vir die Here gevra ‘Wat gaan ons vanjaar met Pinkster doen?’ en toe gee Hy vir my ‘n prentjie.”

Hierdie prentjie het gestalte gekry onder die hande van die entoesiastiese Pinksterspan wat die kansel omskep het in ‘n Bybelse seilboot, kompleet met anker en wit seile wat bol in die wind (van die kanselwaaier).

Die stampvol kerk vol Kruisvaarders is elke aand saamgenooi op die geestelike reis, met die temalied wat die gemeente se koorleier en komponis, André Strydom, met die musiek van die fliek 1492 The Conquest of Paradise, geskryf het.

Elke aand het die diens begin met ’n oproep en hierdie temalied, waarna ‘n inspirerende boodskap gevolg het. ‘n Videoclip het dan die boodskap se kern nog verder vasgelê, en die aand is afgesluit met sangitems deur van die gemeente se vele kunstenaars.

Ons wag in spanning op ’n dvd om hierdie reis en ongelooflike belewenis met die res van die gelowiges te kan deel!

Temalied: http://www.youtube.com/watch?v=jAVUJKvkN7E

Pinkster 2013 Foto IMG-20130512-00134

Gemeentenuus: Durbanville Bergsig

Written by Mariette Steyn on . Posted in Kampe, Nuus uit gemeentes, Vrouelidmate

alt

Hettie \brittz

Die vroue van Durbanville-Bergsig het vanaf ons laaste terugvoer met so ‘n passie aan die koninkryk van God help bou – dis ‘n voorreg om dit met ons Interaksie Vriendinne te deel.

Boerekosaand

Ons jaarlikse Boerekos aand is laasjaar aangevul met ‘n ontspanne, propvol Vroue-kuieraand op 19 September.  Die aand het afgeskop met ‘n pragvertoning deur Annique, ‘n Afrikaanse sangeres van Bellville, gevolg deur ‘n roerende getuienis van Adri, Annique se Mamma, rondom die pad wat sy met kanker stap.  Daarna het “Get Organised” se Kirstie Sprowson aan die woord gekom met nuttige “tips” vir effektiewe tydsbestuur en hoe om jou huis (en kinderkamers!) te organiseer – voorwaar ‘n openbaring vir menige vrou!  Die aand is afgesluit deur ons eie Catherine Dreyer wat op haar treffende wyse ons inspireer het om as vrou jouself na waarde te skat, want vir God is jy kosbaar:  Psalm 139: 14  “ …U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep”.

alt

Vis op die kole

Ons Vrouekamp was 12-14 April 2013 by Melkbosstrand en Lizette du Piesanie het met ons die tema “My identiteit in God” behandel.  Ons was ongeveer 70 vroue wat die naweek bygewoon het.  Die Here het met elkeen ‘n afspraak gehad.  Sommige van ons het Vrydag by die kamp aangekom met die gevoel van “wat maak ek nou eintlik hier?”; sommige was vasgevang en toegespin met seer en probleme; sommige het net gehoorsaam opgetree omdat ons Here hulle by die kamp wou hê.  Die hoogtepunt van die naweek was Saterdag-aand toe ons almal met ‘n laken wat oor ‘n mooi stel klere gedrapeer was, by die saal moes opdaag en waar ons tydens ‘n seremonie ons “ou klere” moes afgooi en ons “nuwe identiteit in God” simbolies moes aantrek.  Die Gees van God het ons almal se harte daardie aand kom vol maak en ons het besef, ons is soos vlinders!  Ons het uit ‘n kokon gebreek en ons het ‘n nuwe lewe en toekoms in God!  Sondag-oggend was ‘n getuienis-geleentheid en ons het daarna saam Nagmaal gebruik!   Baie van ons kan getuig dat daar ‘n warmte en liefde tussen ons vroue ontstaan het wat ons steeds ervaar wanneer ons mekaar sien en wat ons wil uitdra na ander daarbuite.   Na die naweek het elkeen van ons geweet – God het met elkeen van ons ‘n afspraak gehad!

Met groot verwagting het baie vroue uitgesien na Hettie Brittz se koms na Durbanville-Bergsig. Sy het die Vreesloos Vry seminaar vir ongeveer 450 vroue aangebied op 3-4 Mei 2013. Enige vrou wat wou, kon dit bywoon en saam het ‘n groepie gebid dat die vroue wat kom, daar moes wees en sou wegstap met net die regte woorde wat hulle nodig gehad het.

Alida Vorster (Kommunikasiebeampte Durbanville-Bergsig) het met Hettie Brittz gesels en ‘n kort opsommende artikel oor Hettie se gesprek deel ons graag:

Hoop wat ons taai maak om aan te hou

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

My entrepeneur/vriend vertel oor ‘n koppie koffie van sy moedeloosheid. Sy besigheid is so 4 jaar oud. Soos enige nuwe besigheid in die boubedryf is hy konstant onder kontantvloei druk, maar hy is van die beste in sy veld, goed opgelei, tegnies van die beste wat jy kan kry en goed genetwerk. Met innovering ontwikkel hy die hele tyd nuwe produkte, skep nuwe geleenthede. So het hy kon groei sodat hy tans ‘n 15-tal mense in diens het.  Maar hy moes weer iemand aflê, omdat die man gesteel het, vertel hy. Die werknemer se verweer is eenvoudig: “Meneer, almal steel tog”. My vriend is moedeloos: “Die morele vesel van ons samelewing torring uit, en ons kry nie ‘n skoon naat gestik om dit te keer nie” sê hy toe hy nog ‘n stuk hout op die vuur gooi. Almal steel tog meneer!

 

Die beste mense in ons gemeenskap is besig om moedeloos te raak. Die dokters, die onderwysers, die entrepeneurs. Hulle verloor hoop.  In hulle koppe is die bedankingsbriewe al geskryf en moet nog net ingegee word.

 

Wat moet gemeentes maak in so ‘n tyd? Ons kan tog nie al die toilette gaan skoonmaak nie – al moet ons dit ook meer gereeld doen – of almal wat steel vervolg nie – al moet ons ook opstaan teen korrupsie. Ons kan nie almal gaan klas gee nie – al moet ons ook meer by die onderwys betrokke raak en dalk as gemeente ‘n onderwyser of skool aanneem. Hoewel dit dinge is wat ons ook moet doen, dink ek dat ons nog ‘n veel belangriker taak het:

 

Ons kan hoop bring vir mense wat hoop verloor het. Gemeentes is immers draers van Hoop.

 

My entrepeneurs vriend gaan nie sy besigheid se deure toemaak nie.  Die onderwyseres sal Maandag weer voor die klas staan, en ek hoop dr Penzhorn gaan haar bedanking terugtrek. Nou wonder ek, of hoop ek, dat hulle Sondag in geloofsgemeenskappe sal wees wat in méér as betrokkenheid in die gemeente belangstel. Gemeentes behoort in hierdie tyd  juis vir hulle wat op die voorste loopgrawe werk, wat op die punt is om handdoek in te gooi en die tou te los, hoop te bring. Ons het ‘n besondere rol om in hulle lewens te speel. Om aan hulle die goeie nuus van die evangelie te bring. Goeie nuus wat vir hulle ‘n  ánder perspektief kan gee. Nancy Ammermann, vertel in haar boek Pillars of Faith (University of California Press, 2005) dat as mense inskakel in gemeentes, die kanse veel beter is dat hulle betrokke sal wees in die gemeenskap, en meer nog, dat hulle betrokke sal bly, al word dit moeilik. Ons weet dit nie altyd nie, skryf sy, maar as mense aan die evangelie blootgestel word, ontvang hulle geloof en hoop wat hulle taai maak en laat hulle aanhou en volhard.

Om draers van Hoop te kan wees, sal vra dat gemeentes se verbeelding nie primêr gevoed kan word deur die effektiwiteit al dan nie van die regering nie. Ook nie deur die  stand van die ekonomie nie. Die hoop wat ons dra, is ook nie gebou op politieke stabiliteit of politieke  onrus nie. Die hoop wat ons bring, kom vanuit ‘n ander verbeelding wat in die opstanding van Christus gegrond is. Gemeentes wat hierdie hoop dra, kan oor God praat as een wat lewend teenwoordig is in die chaos. Dié Een wat lewend teenwoordig is in die kliniek waar die toilette nie skoongemaak gemaak is nie, en die leggers onvolledig is. Die God wat in die wiskunde klas lewend teenwoordig is, en deurbrake gee ten spyte van die onverstandigheid van die departement. Dié God wat sy lewe gegee het vir geregtigheid ten syte van groeiende korrupsie in ons samelewing. Dié God wie se teenwoordigheid ons laat volhard, lank nadat die optimiste en die realiste die verhoog verlaat het.

As ons klaar gekla het oor korrupsie, ons onvergenoegdheid uitgespreek het oor oneffektiwiteit; As ons die stand van die ekonomie geanaliseer het en ons politieke voorspellings gemaak het; As ons dit alles klaar gesê het, het ons dan nog iets om te sê oor die hoop wat nie van ons af kom nie, maar gebore is in ‘n leë graf?

 

Ek daag myself en jou uit om vir hulle wat moed verloor van hierdie hoop te vertel.

 

Wat is jou plan vir ons, dominee?

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek vra toe min of meer in die volgende woorde, “Wat sal gebeur as jy by die gemeente aankom en vir hulle vertel jy het geen uitgewerkte planne vir hulle nie, maar dat jy hulle wil uitnooi om saam met jou onder daai pragtige boom te sit en wag tot God daar verby kom?”  Die doodse stilte wat daar in die klas was vir ‘n hele rukkie het waarskynlik meer te doen gehad met baie se poging om net die ongewone vraag te verstaan, maar toe ek die stilte lank genoeg laat aangaan kom daar ‘n kort en kragtige reaksie van een van die vrouens in die klas:  “They will fire me!!!”

Ek het altyd gewonder of ek self die moed sou he om ‘n soortgelyke benadering te volg wanneer ek weer nuut in ‘n gemeente aankom.  Die toets het vinniger gekom as wat ek verwag het, maar gegewe ‘n baie sterk predikant-afhanklike kultuur in die gemeente moes ek seker nie so verras gewees het nie.  En al was ek gelukkig nie so moedswillig om mense te nooi om saam met my onder ‘n boom te sit en wag op God nie, kon ek die vroee geleentheid benut as ‘n gawe van God om die gesprek oor geloofsonderskeiding aan die gang te kry.  Dit het gekom in die vorm van ‘n vraag tydens my eerste groepsbyeenkoms met so ‘n twintigtal baie aktiewe lidmate.  Hier is daar nog ‘n tradisie dat belangegroepe in die gemeente en breer gemeenskap die dominee nooi om hulle “toe te spreek”.  En die groepie wou he ek moes hulle kom “toespreek” oor wie ek as hulle nuwe dominee nou eintlik is (ek is immers ‘n rare verskynsel as hulle nuwe dominee wat nie van die PCUSA of die USA is nie!).

Met hierdie eerste geleentheid was dit vir eers net my eie bedoeling om te kyk of ek ‘n postuur kon inbring wat meer van ‘n gesprekskultuur aanmoedig as hoe hulle tradisioneel daaraan gewoond is.  Ek besluit toe om nie agter die podium te gaan staan wat heel netjies vir my voorberei was nie en om my beste geselsstyl uit te haal.  Dit werk toe ook heel goed om hier en daar ‘n vraag in te gooi en ‘n bietjie interaksie aan te moedig.  Op ‘n stadium vra ek toe ook sommer wat hulle verwagtinge is van wat ek as predikant moet doen.  Dit is toe dat ‘n ouerige dame meen die vraag is nie reg gevra nie, en dat die vraag eerder is, “wat is jou plan vir ons, dominee?”  Dit was eenvoudig een van daai momente waar jy weet jy kry dit dalk nie gou weer nie.  So dramaties as moontlik antwoord ek toe so kort as moontlik:  “Ek het GEEN planne vir julle nie!”  En toe wag ek in stilte vir die oomblik om in te sink en geniet ek die verskeidenheid van gesigsuitdrukkings wat my antwoord begroet.

Na ‘n rukkie probeer ek toe gesprek aanmoedig oor waarom dit belangrik is dat ek so geantwoord het.  Dit terwyl ek goed weet vanuit my werk as konsultant met PCUSA gemeentes oor die laaste vier jaar dat “God se plan” ‘n belangrike konsep is in hierdie denominasie (terwyl ek tussen die Lutherane in Minnesota altyd moes seker maak ek kwalifiseer dat God se plan “hidden” is!).  Maar vir Presbeteriane is dit belangrik om te weet dat God wel ‘n plan het en dat ons wel veronderstel is om uit te vind wat God se plan is.  In die gesprek wat toe volg was daar niemand in die groep wat gedink het dit is ‘n goeie idee dat ons God se toekoms vir God beplan nie.  God beplan God se eie toekoms vir ons.  Ek moes toe ook verder verduidelik hoe dit dan nou is dat die dominee ook nie daai plan in ‘n bloudruk met hom saam dra nie.  Veral nie ‘n “legal alien” (my regstatus in die VSA!) wat geen idee het van die kultuur en sy mense nie.  Ek het van die liggaamstaal van sommige afgelei dat daai deeltjie nie baie sin maak nie, maar daar was ten minste heelwat energie vir die res van die gesprek om te praat oor hoe ons dan nou uitvind wat God se plan is.

Dit was nie die oomblik om enige verdere vlakke van kompleksiteit in die daai gesprek in te bring nie, maar dit het ten minste belangrike oomblikke opgelewer wat die basis sou word van ‘n Saterdag retreat wat nie te lank daarna gevolg het nie… (hieroor in ‘n volgende blog bydrae).