Posts Tagged ‘kruis’

Tussen Vrydag en Sondag

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Dis asof ek vanoggend (Paassondag) net nie gereed was vir die gelui van die Paasklokke en die sing van die halleluja kore nie.  Ek kan net nie wegkom van die ongemaklike stilte tussen Vrydag en Sondag nie.

Ek kan nou sien dat dit ‘n stilte is wat al van voor Saterdag aankom.  Tekens daarvan het al na vore gekom tydens my worsteling met Johannes 13 se voetewas episode vir Donderdagaand se “Maudy Thursday” preek (by ons Episcopal gemeente hier in Saint Paul, Minnesota).  As ‘n mens eers besluit het daar is ‘n baie dieper ongemak in hierdie teks as net ‘n sedelessie van Jesus oor hoe ons ander se voete moet was, kan selfs “ongemak” nie reg laat geskied aan ‘n beskrywing van die afgryslike bedreiging tydens hierdie episode nie.  As Jesus al sy dissipels se voete gewas het (vers 5), dan het dit die een (Judas) ingesluit in wie se gedagtes die duiwel dit alreeds geplaas het om Jesus te verraai (vers 2).  Jesus was voete midde-in ‘n werklikheid van ontkenning, verraad, selfmoord, en dood.  As ons ander se voete was, bevind ons altyd onsself in ‘n posisie van blootstelling teenoor ‘n werklik bedreigende ander wie ons nie kan beheer nie.  Voete-was geskied in die aangesig van die kwaad wat dreig om te vernietig.  Dit maak voete-was ‘n skandalige gawe aan ‘n bedreigende ander, eerder as ‘n sentimentele gawe aan ‘n geromantiseerde ander.

En hierdie ongemaklike nuus oor die bedreigende realiteit van ons lewe lei maar nog net die stilte van Paasnaweek in.  Vir ons het dit in alle erns begin met die stroping van die liturgiese ruimte aan die einde van Donderdagaand se erediens voordat ons in stilte die kerkgebou verlaat.  Vir die eerste keer in my lewe kon ek die impak hiervan op ‘n besonderse wyse ervaar toe ek die liturgiese verantwoordelikheid moes neem om die kruis te bedek met ‘n swart kleed.  As selfs die identiteitgewende simbool van die kruis gedoof word, is die ervaring van ‘n naakte gestrooptheid in die aangesig van die kwaad op sy ergste.  Kan ‘n mens die dissipels verkwalik dat Vrydag se gebeure hulle in ‘n angsbevange groepie agter geslote deure verander het (Joh. 20:19)?

En toe kom Saterdag…  Die doodse stilte iewers tussen Johannes 19 en 20.  Met die nuus dat Eugene Terreblache op sy plaas vermoor is.  En die sprankeltjie van hoop dat dit nie meer te lank is nie voordat Maria Magdalena se stem die begin van goeie nuus gaan aankondig verdwyn eensklaps.  Skielik besef ek hierdie Saterdag gaan langer duur as wat ek gedink het, want eenvoudige voorskrifte, oor hoe om die opgestane Here te herken te midde van omstandighede baie dieper as net ‘n frustrerende ongemak met wat ervaar word as ‘n toenemende bedreiging van die ander, bestaan beslis nie.  Die simboliese impak van Terreblanche (selfs vir diegene wat polities met hom verskil het of dit waarmee hy geassosieer is verwerp) en Malema (selfs vir diegene wat die kompleksiteit van die “vryheidslied” debat erken of aanvaar daar was geen noodwendige verbintenis met die moord op Terreblanche nie) gaan waarskynlik vir baie lank ‘n realiteit skep (om nie eens te praat van die werklike impak op diegene wat naby familie en vriende moes afstaan a.g.v. misdaad en geweld nie!) waarbinne gemeentes gaan moet worstel met die alledaagse betekenis, relevansie en impak van hulle Paassondag getuienis.

In die ongemaklike stilte van Saterdag wat net nie wil weggaan nie, wonder ek maar hoe gemeentes hierdie situasie gaan hanteer?  En wat dit van my gaan vra wanneer ons as gesin  weer oor ‘n paar maande huis toe keer en hopelik iewers gaan tuis kom in ‘n Suid-Afrikaanse gemeente?  Ek sal graag wil hoor hoe ander hieroor dink, en terselfdertyd in ‘n volgende bydrae begin om self verder hieroor na te dink n.a.v. ‘n boek wat ek in hierdie tyd lees oor “the kindness of God” (geskryf deur Janet Soskice, teoloog in Cambridge, Engeland).