Posts Tagged ‘Lydingstyd’

Finale woord

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

finale woord?

ʼn finale streep?

ooit  ʼn finale doodsgreep?

Kan Hy wat sy gees

in die hand van die Vader gee

die laaste asem uitblaas

kan ʼn lewe waaruit geweld

die laaste vergiffenis wring

verwelk wanneer  Hy sy ma

na ʼn ander seun bring

Kan ʼn dood wat die voorhangsel skeur

die lig finaal verbeur

is daar ʼn finale woord

oor dié liefde?

Vlugtige nuwe asem

gees in God se hand

streep in die sand

lig uit allerheiligheid

verswelg  die finale woord

teenwoordigheid verfyn tot ewigheid

tyd word nou gehou deur hemelse akkoord

vreugde is ʼn vry gedagte

gaan oor in lof vir duisende geslagte

wind waai oor ons laaste vraag

duisternis begin in ewigheid vervaag

gedagtes word verlig

wonderspel van liefde

begin sy wonders verrig

nuwe stemme, nuwe gedagtes

nuwe woorde, nuwe vrede

nuwe vreugde,

… nuwe mense …

goddelike kreatiwiteit ontplof

skiet finale woorde en dade

uitmekaar

genesende hand skuif

brokstukke in waar

dit pas in ʼn legkaart

van nuwe visioene

en bewegende beelde

van vars helende seisoene

wat grensloos  oormekaar skuif

tydens die kleurespel van reënbooglig

in die kleur en klank van ewige tyd

ontvang die lewe ligvoets

nuwe heiligheid

om te dans

oor enige finaliteit

Die woestyn

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Geskryf na ‘n sinodale werkswinkel saam met Prof Jurgens Hendriks waar Markus 1 gebruik is tydens ons “Wandel deur die Woord” sessies. Dit is ook tydens lydingstyd gebruik.

(Nav Markus 1)

Lig word verwring  deur duisternis

leuen spin sy glinsterdrade van verleiding

om ‘n weerlose waarheid

woordmeester en woordespel

verontregte frases en vrae

verbaas, verkeerd, verdwaas

verdring, verlei, verdoem

… vervreem …

konflik, haat, moord

die laaste woord?

 

dor genadelose woestyn

droë skroeiwind

swiep ongenaakbaar, onverfyn

kloof oop tot op die been

ontbloot die murg,

rou senuweepyn

woordgeweld

skei lig en duisternis

mens ontvang

vergiffenis

God wat die winde stuur

het nou genoeg verduur

in hierdie onverbiddelike son

vreemde voetstappe, nuwe spore

water, vuur – lewensbron?

hoop weer gebore?

verrassende stem

geskeurde hemel

geskende mense

sag soos ‘n duif

het God sy aandag verskuif

in hierdie hartelose woestyn

het God se liefde weer verskyn

liefde weggevoer met kronkelpad

groter godsverlatenheid

weer woordspel, mag

argumente spat

kan Gods liefde so verbuig

dat dit slegs oor die grootheid

van ‘n mens getuig

wie sou die hardste  juig

voor wie sou die mens

uiteindelik buig

klanke strompel deur die ewigheid

eggo’s van teenwoordige tyd.

 

Kan God in hierdie Godsverlatenheid wees

is daar nog plek vir die Heil’ge Gees

woorde – skielik soos ‘n sweep wat klap

hierdie pad van Godverlatenheid

is vir eers klaar gestap

en in die laaste skemering

Gee God sy Seun die versekering

dat sy Koninkryk nou gaan kom

selfs onder die verlore mensdom

dowe ore sal weer hoor

lam hande spreek van nuwe krag

verlamde voete vat weer spoor

self blinde oë skyn weer sag

lig en duisternis word weer geskei

Gods Koninkryk het hierdie keer

gekom om te bly

 

so val hierdie vreemde lig

met vreemde woorde

in vreemde krag

deur ‘n vreemde vrede

op vervreemde mense

om die Vader

weer bekend te stel

om ons weer van sy sorg

en liefde te vertel

maar deur  woede, haat, jaloesie

kom ons antwoord

opgevolg deur nog ‘n moord

vreemd teken God sy liefde

onuitwisbaar groot

vasgespyker aan ‘n kruis

– die  dood-

ja, die sweep het geklap

die pad van godsverlatenheid

is nou klaar gestap

en die Liefde se antwoord

op hierdie moord:

Vader vergeef hulle,

want hulle weet nie

wat hulle doen nie!

toe was dit stil,

net die geluid van ‘n asem

wat uitgeblaas word…

 

Kan jy dit nou hoor

die geritsel van die wind

sal Hy ooit weer vry kan waai

sal jy die woorde dra

sal jy met sagte hande

die wanhoop gaan verja

kan Liefde jou lewe so rig

dat dit selfs donker

godverlatenheid verlig

hoor jy die geritsel van die Wind

waar sal Ek jou vind

my visserskind

Christo van Heerden

Lydingstyd!

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Here,

dis lydingstyd, dis swaar tyd

ons voete sleep deur die modder van moedeloosheid

en ons harte is stil-seer

U ken hierdie pad so goed

daarom vra ons:

Terwyl ons so diep in die oë van verwoesting kyk

skeld ons vry van verwyte

terwyl die skadu van die dood oor ons lê

skenk ons ʼn nuwe deernis

terwyl ons geen antwoorde het nie

laat ons teenwoordigheid hoop bring

terwyl die wonde diep en rou lê

laat rein, vars lewende water daaruit vloei

terwyl die gevoel van verlies ons verlam

laat daar ʼn nuwe menslikheid in ons ontwaak

maak ons hande instrumente van genesing

en ons voete draers van vrede

gee ons die genade om altyd die lig ook te sien

en laat ons harte vol uitrys deur u suurdeegliefde

dat ons ander kan voorsien met die brood van die lewe

verander water soms weer in wyn

sodat ons weer in u teenwoordigheid

die kosbaarheid van die lewe kan vier

en laat deur ons aanraking weer die vonke

van geloof, hoop en liefde vlamvat

ons vra:

Laat daar lig wees, Here!!

Christo van Heerden