Posts Tagged ‘Postmodernisme’

Emerging Churches: Waardering en Vrae

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het die afgelope week ‘n klompie blog bydraes gelewer oor die aanbiedings by laas naweek se American Society for Missiology byeenkoms in Chicago rondom die tema “Emerging Churches and Other New Christian Movements in North America: The Challenge to Missiology” (sien http://www.communitas.co.za/tussenin/ vir die bydraes oor vyf sulke aanbiedings).  In my laaste refleksie op die aanbiedings in geheel wil ek graag ‘n paar waarderende opmerkings maak en ‘n paar kritiese vrae vrae oor die verskyning van sg. emerging churches.  My opmerkings en vrae is beperk tot die spesifieke gestaltes van hierdie verskynsel soos dit by die ASM na vore gekom het, en ek is terdee bewus daarvan dat emerging churches ‘n ryke verskeidenheid van vorme aanneem wat nie altyd oor dieselfde kam geskeer kan word met veralgemenings nie.  My opmerkings en vrae het betrekking op drie areas, nl. teologie, kultuur, en verhoudings:

Waarderende Opmerkings

· Teologies is daar ‘n Christologiese ywer te bespeur vir die sentraliteit van Jesus, met ‘n sensitiwiteit vir hoe die radikaliteit van Jesus afgewater en gekompromiteer is in die Christendom era, en daarom ‘n fokus op die kweek van getroue navolgers van Jesus in nuwe kulturele gestaltes (veral die aanbiedings van Alan Hirsch en Jonathan Wilson-Hartgrove).  Terselfdertyd was daar ook ‘n klem op die belangrikheid van ‘n fundamenteel trinitariese raamwerk (missio Dei) waarbinne pneumatologie en eskatologie bepalend na vore tree vir ‘n verstaan van die kerk se gestuurdheid in die wereld, en wat gevolglik die fokus meer skuif na geloofsgemeenskappe se gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding (veral die aanbiedings van Inagrace Dietterich en Sherry Maddock).  ‘n Mens sou selfs ‘n spanning kon sien tussen die implikasies van hierdie twee beklemtonings (wat nie een van die aanbieders waarskynlik so bedoel of so verkies nie), en alhoewel daar waardering moet wees vir die wyse waarop albei hierdie teologiese benaderings vergestalting vind in gemeenskappe en nuwe gemeente-inisiatiewe, bring dit noodwendig kritiese vrae na vore rondom die kwessie van agentskap (sien hieronder).

· Kultureel gesproke bring hierdie nuwe soort bewegings definitief ‘n varsheid en skerpheid in hoe die tekens van die tye gelees word, hoe daar erns gemaak word met kulturele skuiwe onder veral jonger generasies, en hoe kerk-wees beliggaam word in kreatiewe gestaltes wat tuistes skep vir mense wat lankal nie meer tuiskom in meer tradisionele vorme van kerk-wees nie (veral die aanbieding van Doug Pagitt).  Daar is in meeste gevalle ook ‘n intensionele gerigtheid op breer gemeenskaps- en samelewingskwessies, en ‘n sensitiwiteit vir die bou van netwerke in die breer gemeenskap met die bedoeling om vanuit die evangelie ‘n bydrae saam met ander te lewer om hierdie kwessies te addresseer (veral die aanbiedings van Jonathan Wilson-Hartgrove en Sherry Maddock).  Dit lei wel tot belangrike vrae t.o.v. die verhouding evangelie en kultuur (sien hieronder).

· Verhoudings vind ‘n baie sterk klem in hierdie nuwe gemeenskapvormende inisiatiewe, veral in die bou van netwerke in die breer gemeenskap, die gebruik van sosiale netwerk tegnologie d.m.v. die internet, en ‘n fokus op persoonlike verhoudings en kleingroepe (bv. Doug Pagitt se bydrae oor “relational-set community organization”). Sherry Maddock stel dit treffend met haar klem op “one relationship at a time”: More than anything else, I think I now recognize after 10 years, that reality, God’s kingdom reality, and mission are built and based on relationship (met God, met ander in kerk en wereld, en met ‘n spesifieke plek). Soms klink dit ‘n bietjie meer geromantiseerd as ander kere, maar meestal is dit ingebed in die realiteit van die normale, alledaagse intriges van die lewe. Die interessante vraag in die verband is egter die aanname by sommige dat ‘n skuif na intersubjektiwiteit in die vorm van verhoudings en gemeenskap noodwendig ‘n skuif van modernisme na post-modernisme beteken (sien hieronder).

Kritiese Vrae

· Teologies sou daar ‘n konstruktiewe gesprek gevoer kon word oor die kwessie van agentskap. Wat ten diepste op die spel is, is nie soseer ‘n of-of keuse tussen God en mense se agentskap nie, maar of ons die subtiele en radikale verskil verstaan wanneer ons oor God dink as die primere agent wat alreeds voldoende teenwoordig en aktief besig is in die wereld (met geloofsgemeenskappe wat opgeneem word in daardie beweging en deelnemers word aan wat God alreeds buite ons bewerkstellig), en wanneer ons oor God dink as hoofsaaklik teenwoordig en aktief d.m.v. ons vermoens om Hom gehoorsaam te wees of ons aktivisme om Christus getrou na te volg. Dit verteenwoordig die verskil tussen ‘n blote navolgingsteologie (met gewoonlik ‘n Christomonistiese toon en ‘n gebrekkige trinitariese verstaan van God se teenwoordigheid en werk) wat fokus op imperatiewe van hoe om Christus beter na te volg, en ‘n missio Dei teologie (met die sending van God primer in verhouding tot die sending van die kerk) wat fokus op gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding om te onderskei waarmee God alreeds besig is en hoe ons deel daarvan kan word. Tydens die ASM konferensie was hierdie twee verskillende posture die beste geillustreer in die aanbiedings van onderskeidelik Alan Hirsch en Sherry Maddock. Die vraag is of emerging church verskynsels kan verhoed dat dit eintlik maar net moderne vorme van 19de eeuse liberalisme is (en die lesse leer wat die teologie van Karl Barth en die skuif in sendingparadigma sedert die Willingen konferensie in 1952 meegebring het), en of die missio Dei teoloee kan leer hoe hierdie soort teologie in radikaal anderse kontekste en kulturele gestaltes lyk as waaraan ons tot hiertoe gewoond was in die tradisionele gemeentevorme.

· Kultureel gesproke sou daar ‘n interessante gesprek kon wees oor die verhouding evangelie en kultuur. Wat ten diepste op die spel is, is nie soseer of die realisering van meer kontra-kulturele evangeliese impulse noodsaaklik is in ‘n spesifieke tyd en plek nie, maar of ons naief en geromantiseerd in statiese konsepte dink oor beide evangelie en kultuur. As lg. die geval is, dan kan dit maklik gebeur dat diegene wat tereg die Christendom vorme van kerkwees se kompromiee met dominante kultuurkragte uitwys dalk dink dat hulself hierdie soort probleem kan vryspring op een of ander manier, en dat die evangelie abstrak en konteksloos as reels of beginsels uitgelig kan word bokant die partikulariteit van kultuur.  So ‘n verstaan, wat gewoonlik die aannames van sommige se bedoeling met “kontekstualisering” is (nl. dat die evangelie as tydlose beginsels beskou word wat bloot her-toegepas kan word in ander kulture), lei baie maklik tot die soort kolonialisering waaraan die Christelike kerk dikwels in die verlede skuldig was. ‘n Verstaan van die evangelie is immers nooit abstrak van ‘n spesifieke kulturele beliggaming daarvan nie. Trouens, een van die merkwaardige verskynsels van emerging churches is dat dit ruimtes skep vir ‘n groter verskeidenheid van kulturele vergestalting van die evangelie. En dikwels neem dit die vorm aan van subkulture waar sekere mense makliker inpas as ander. Maar nie enige sodanige gestaltes sal ooit immuun wees van allerlei kulturele kragte wat telkens daarin slaag om geloofsgemeenskappe se fokus weg te skuif van God en ons lojaliteit aan God nie.  Wat is die gevare en uitdagings vir emerging churches vanuit die oogpunt van die verhouding evangelie en kultuur, en hoe kan die gesprek tussen meer tradisionale vorme van kerk-wees en nuwe kulturele verskynsels van kerk-wees by mekaar leer sonder die arrogansie van valse veroordelings en moreel verhewe posisionerings?

Verhoudings is tereg ‘n belangrike fokus, en daar is baie te leer by hoe emerging churches dit ernstig neem en nuwe kulturele gestaltes hiervan na vore bring. Daar is by sommige ‘n besliste skuif weg van subjektiwiteit (indiwidualisme) en ‘n program-gedrewenheid na intersubjektiwiteit (gemeenskap) en ‘n verhoudingsfokus. En dit sou ook reg wees om daarna te verwys as ‘n korreksie op die ongebreidelde indiwidualisme en drang na beheer wat met modernisme saamkom. Maar dit bring vrae na vore oor hoe mag funksioneer in sulke omstandighede (waaroor ek nie verder hier uitbrei nie), en dit is veral ‘n ope vraag of so ‘n skuif werklik post-modern genoem kan word. Filosowe (soos Charles Taylor) wat op hierdie soort vrae fokus wys daarop dat intersubjektiwiteit steeds maar nog met dieselfde modernistiese aannames kan werk, nl. ‘n plat wereld van optimisme in wat menslik moontlik is (in hierdie geval net wat mense-in-gemeenskap of mense-in-netwerke kan vermag) sonder ‘n openheid vir ‘n transendente subjektiwiteit wat meer is as wat tot stand kom d.m.v. indiwidue en die somtotaal van indiwidue (Charles Taylor verwys na modernisme se “disenchanted world”). Hedendaagse filosowe (veral in fenomenologiese debatte uit die Franse filosofiese wereld) worstel met die postmoderne vraag as ‘n vraag wat veral fokus op die transendente openheid tussen mense wat subjektiwiteit en intersubjektiwiteit oorskry.  En baie van hierdie debatte bring juis weer ‘n nuwe openheid vir teologiese vrae rondom God se teenwoordigheid en aktiwiteit tussen mense (waar God meer is as ‘n idee in mense se gedagtes/ervaring of beginsel vir mense se aksies), asook die belangrikheid van ‘n eskatologie wat afhanklik is van die inbreek van God se handelinge (eerder as ‘n teleologie wat afhanklik is van die vooruitgang wat mense teweeg bring).  Postmodernisme verwerp nie alleen indiwidualisme en beheergedrewenheid t.w.v. gemeenskap en netwerke nie, maar ten diepste die totale mens-georienteerde projek (ook in vorme van intersubjektiwiteit) waarin daar geen plek meer is vir transendente subjektiwiteit wat menslike vermoens transendeer nie.  Hoe vermy emerging churches ‘n romantisering van gemeenskap, en hoe kan ons by hierdie nuwe gestaltes van kerk-wees leer om geloofsonderskeiding-in-gemeenskap/netwerk met mekaar en ander uit te leef as maniere van ontdekking van God se teenwoordigheid en aktiwiteit wat selfs nuwe gestaltes van Christelike aktivisme oorskry?

Die “Emerging Church” skuif na Sosiale Netwerke en Kreatiwiteit

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Doug Pagitt, van Solomon’s Porch in Minneapolis (Minnesota), was die derde aanbieder by die afgelope naweek se ASM byeenkoms in Chicago (sien http://www.communitas.co.za/tussenin/ vir bydraes oor die ander aanbiedinge).  Sy tema was “The Emerging Church: Mission and the Great Emergence”. Doug se aanbieding is gebaseer op die verhaal van Solomon’s Porch, waarvan hy vertel dat “when people join Solomon’s Porch, we don’t ask them to make us larger, but to change us as a community”. Hy verwerp die oortuiging dat die Christelike beweging ooit kan terugval op vroeere vorme, en pleit vir die openheid dat nuwe kulturele uitdrukkings altyd die gestaltes van kerkwees moet kan vorm. Hy meen, “the old and new always live in dialogue with each other in a particular place and time; there is no one cultural norm or one fit for Christianity, and it is not a heterogeneous movement”.

Doug onderskei tussen, aan die een kant, ‘n Christelike beweging VIR en MET postmoderne mense, en aan die ander kant, ‘n Christelike beweging AS postmoderne mense. Solomon Porch’s wil ‘n Christelike beweging AS postmoderne mense wees. Hy beskryf dit veral n.a.v. vier “kulturele komponente”, nl. taal, waardes, estetika, en media. Hy meen dat konserwatiewe benaderings gewoonlik tevrede is daarmee dat die estetika en die media van kommunikasie kan verander, maar jy mag nie raak aan die unieke taal en waardes van die evangelie nie. Daarteenoor is progressiewe benaderings gewoonlik te vinde daarvoor dat die taal en waardes maar kan verander, maar nie die estetika en media van kommunikasie nie.Emerging Church” benaderings dink al vier hierdie kulturele komponente mag maar verander (hy verwys veral na Phyllis Tickle se boek oor “The Great Emergence: How Christianity is Changing and Why”).

Doug meen dat daar ‘n belangrike kultuurskuif plaasvind in die Amerikaanse samelewing waarvan die Christelike beweging behoort kennis te neem.  Hy beskryf dit so:  “We are shifting from a knowledge based society to a creative based society.  We’ve progressed from farm metaphors to industrial metaphors to school metaphors… and now we move to a society of creators, empathizers, pattern recognizers, etc.” Gemeenskaporganisasie het verander van “bounded-set community organizing” (waar daar altyd reels vir toegang en uitgang is) na “center-set community organizing” (waar daar altyd iets in die sentrum is wat mense bymekaar bring), en nou tot “relational-set community organization” (met facebook as ‘n goeie voorbeeld).  In Doug se aanbieding het die “Emerging Church” skuif na ‘n sterk fokus op netwerke en informele verhoudings sterk na vore gekom, maar ‘n mens sou die vraag kon vra (wat ek in ‘n latere refleksie oor die ASM aanbiedings in geheel wil doen) oor kwessies van mag (sodat verhoudinge en gemeenskap nie geromantiseer word nie), en veral of hierdie soort tiperings dalk meer hiper-modern as werklik post-modern is (met ‘n belangrike Godsvraag hieraan gekoppel).

Apostels van die Onmoontlike

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het verlede week, in my blog bydrae getiteld Selfgenoegsame of Hoopvolle Gemeentes?, verwys na Stanley Fish se New York Times artikel oor ‘n nuwe boek van Terry Eagleton (sien http://fish.blogs.nytimes.com/2009/05/03/god-talk/?scp=4&sq=stanley%20fish&st=cse).  Na aanleiding van heelwat reaksie op sy artikel het Fish dit vroeer hierdie week opgevolg met ‘n tweede bydrae tot die gesprek (sien http://fish.blogs.nytimes.com/2009/05/17/god-talk-part-2/?scp=3&sq=stanley%20fish&st=cse).  In hierdie opvolg artikel vat Fish die oorweldigende reaksie van New York Times lesers aan wat ‘n skerp onderskeiding wil handhaaf tussen godsdiens en wetenskap, of geloof en rede.  Die argument van diegene wat so reageer reflekteer dan gewoonlik die tipiese moderne “feite-waardes” onderskeiding, asof wetenskap/rede gegrond is op waarneming en godsdiens/geloof gegrond is op opinie.

Nadat Fish sorgvuldig wys hoedat die rede nooit neutraal is asof dit nie alreeds gevorm word deur bepaalde waardes en keuses in die geloof nie, skryf hy die volgende paragraaf:  “If there is no thought without constraints (chains) and if the constraints cannot be the object of thought because they mark out the space in which thought will go on, what is noticed and perspicuous will always be a function of what cannot be noticed because it cannot be seen. The theological formulation of this insight is well known: Faith is the substance of things hoped for, the evidence of things not seen (Hebrews 11). Once the act of simply reporting or simply observing is exposed as a fiction — as something that just can’t be done — the facile opposition between faith-thinking and thinking grounded in independent evidence cannot be maintained.”

caputoFish se New York Times bydraes reflekteer ‘n breer filosofiese beweging wat vir ‘n tyd lank al moderniteit se aannames dekonstrueer (sommige noem dit “postmodernisme”, alhoewel dit vir allerlei komplekse redes ‘n problematiese term is), en gevolglik nuwe moontlikhede open vir gesprek met teologie.  ‘n Baie interessante gesprek in die verband het 10 jaar gelede plaasgevind tussen twee prominente filosowe, Jean-Luc Marion (bekend vir sy fenomenologie van die gawe) en Jaques Derrida (bekend vir sy dekonstruksie filosofie), met noemenswaardige bydraes deur teoloe soos David Tracy.  Die gesprek is opgeneem in ‘n bundel wat deur John Caputo en Michael Scanlon geredigeer is, met die titel God, the Gift, and Postmodernism (Indiana University Press, 1999).  Die bedoeling met hierdie gesprek was o.a. “to seize the contemporary moment which has loosened the grip of the old Enlightenment, questioned its intimidating authority, complained about the exclusionary force of its certainties and axioms (among which secularism has enjoyed pride of place), and thereby made some room for a religious discourse and restored the voice of a religious imagination…”

Wat ek veral interessant vind van hierdie gesprek is dat Marion en Derrida deur Caputo beskryf word as apostels van die onmoontlike, met ‘n uitgesproke bedoeling van die gesprek “of restoring the good name of the impossible” (wat deur die rede onmoontlik verklaar is).  Caputo som dit soos volg op:  “Like any sensible, law-abiding adult, he (die mondige, moderne mens) disciplines himself to abide by the conditions that make things possible, to drive within the yellow lines, to keep the rules that are programmed in advance to produce what is possible”.  Hierteenoor, skryf Caputo, “the new Enlightenment would constitute a second childhood (herinner aan Paul Ricoeur se “tweede naiewiteit” – JS) which is given over to dreaming of the impossible, arising from a deep desire for what, given the constraints and conditions imposed by modernity, is precisely not possible, which for that reason is precisely what we most deeply desire.”  Hebreers 11 se hoop (waarna Fish verwys) is inderdaad in wat nie gesien/waargeneem/beredeneer kan word nie, en daarom volgens die kriteria van die blote oog en rede onmoontlik blyk te wees.

Hoe lyk gemeentes wat apostels van die onmoontlike is in hulle spesifieke buurte en gemeenskappe?  Hoe beliggaam sulke gemeentes in vandag se wereld die verrassing van die opgestane Here wat hulle so pas saam met Maria Magdalena (Johannes 20) beleef het, of die verbasing van die uitstorting van die Heilige Gees wat ons nou oor die volgende klompie weke saam met die Handelinge 2 skare gaan vier?  Kan ons meer spesifiek wees oor sulke hoopvolle geloofsgemeenskappe se postuur van bewondering, verwagting, en bowenal dankbare afwagting vir die Bybelse God se gawe wat altyd die mondige mens se moontlikheidsvoorwaardes oorskry?  Hoe lyk dit in ons liturgie, ons bedieninge, ons verhoudinge met die ander in ons gemeenskappe, en ons prosesse van geloofsonderskeiding?