Psalm 72

Op Sondag 3 Januarie 2010 vier ons ‘n besonderse fees in die kerk.  Dit is Epifanie.

Vir ons wat in die Gereformeerde tradisie van Calvyn-hulle staan, is dit dalk ‘n bietjie van ‘n vreemde fees.  Wat het die Roomse nou weer uitgedink? sal ‘n paar mense vra.

Eintlik het dit tyd geword dat Christene mekaar se feeste deel.  Maar nietemin kan ons rustig wees dat die Epifanie ‘n baie ou fees is, wat al vanaf die vierde eeu deur Christene gevier is.  Dis nie iets wat die Roomse Kerk in die middeleeue uitgedink het nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie na die Epifanie-fees en hoe dit in die kerklike jaar inpas.

Ons is vandag geneig om die tyd voor Kersfees te gebruik om vrolik te wees.  Ons wag Christus se koms feesvierend af, sing Kersliedere en hou Kerssangdienste.  Kom Kersfees, dan deel ons presente uit, gaan kerk toe en eet ‘n lieflike ete saam.  Ons vier God se menswording en onthou ons familie en vriende, mense wat vir ons dierbaar is.  En dis goed so, dat ons Kersfees so vier.

Maar eeue gelede het Christene hierdie tyd anders gevier, en miljoene Christene doen dit nog steeds anders.  Hulle vier die tyd voor Kersfees – om presies te wees, die eerste vier Sondae voor Kersfees – as Advent, ‘n tyd van stilte en meditasie.  ‘n Tyd waarin Christene reflekteer oor hulle lewens en hulle verhouding met God.  Op Oukersaand bars hulle dan uit in feestelikheid – ‘n fees wat 12 dae duur, tot 5 Januarie.  Hierdie is die 12 dae van Kersfees, wat dan duur van Oukersaand tot 5 Januarie, met die Epifanie-fees op 6 Januarie.  Die Epifanie-fees vier God se verskyning op aarde.  Dis wat Epifanie beteken:  “Verskyning”.

In die ou dae het die priester op Epifanie ook die datum aangekondig waarop Paasfees daardie jaar sou plaasvind.  Dis vandag nie meer nodig nie, want op Google kan ‘n mens sommer vir die volgende hoeveel jaar sien op watter dae Paasfees gaan val.

In 2010 vier ons Epifanie op 3 Januarie, die naaste Sondag aan 6 Januarie.  Kom ons gebruik vandag, hierdie Sondag, om die twee dinge te doen wat al vir eeue op die Epifanie-fees gedoen is.  Aan die een kant, kom ons kyk terug na Kersfees, na die verskyning van God as mens, wat 12 (of eintlik 10) dae gelede gevier is.  Aan die ander kant, kom ons kyk vooruit na Paasfees, na die sterwe en opstanding van Christus, wat ons vanjaar gedurende die eerste naweek van April gaan vier.  Ja, oor presies drie maande, van 2 tot 4 April, is dit Paasnaweek.

Maar wat het dit nou alles met Psalm 72 te doen?  Psalm 72 is vir eeue, en vandag nog, op Epifanie-Sondag gelees.  Want met Psalm 72 kan/kon teruggekyk word op die regverdige koning wat op Kersfees gebore is, én daar kan vooruitgekyk word na die Een wat met Paasfees sou sterf en opstaan vir hulle wat onvry is en onregverdig behandel word.

read more