Posts Tagged ‘Psalms’

Mymeringe oor die Psalms: Gemeenskap en Geregtigheid gaan saam

Written by webmeester on . Posted in Skryfsels

Die Psalms leer ons dat gesprek met God nooit losgemaak kan word van ons lewensomstandighede nie. Wanneer dit goed gaan, is daar dankbaarheid en standvastigheid en kleur dit ons gesprek met God – uitgedruk in lofpsalms. Wanneer ons gekonfronteer word met die donkerte in onsself en in die lewe, is daar worsteling en weerstand en kleur dit ook ons gesprek met God – uitgedruk in klaagpsalms.

Nog dieper as dit, die Psalms leer ons dat dit nie net ons persoonlike ervarings is wat deel is van ons gesprek met God nie, maar ook die verskeidenheid van ervarings in die wyer gemeenskap. Ons gesprek met God word, trouens móét onontwykbaar gekleur word deur ons ervarings – goed of sleg – binne die geloofsgemeenskap sowel as in die publieke gemeenskap.

Eerbare leierskap in 2010

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Maar voor ons verder gesels oor dít waarvoor Psalm 72 gebruik is, moet ons darem eers vra waar hierdie Psalm vandaan kom.  Wat was Psalm 72 se eerste landingsplek?  In ons Afrikaanse vertaling staan daar bo-aan Psalm 72 dat dit deur koning Salomo self geskryf is.  Dit sou dan beteken dat hierdie Psalm koning Salomo se gebed aan God was om hom te help om ‘n regverdige koning te wees.  Dis ‘n moontlikheid, en maak van Psalm 72 ‘n lieflike gebed wat enige leier behoort te bid:  dat God hom of haar ‘n regverdige leier sal maak, sodat dit met die mense goed en voorspoedig sal gaan.

In ander manuskripte kry ons dat daar bo-aan Psalm 72 staan dat dit nie deur Salomo nie, maar vir Salomo geskryf is.  Dit is dan ‘n gebed wat (byvoorbeeld) deur die koning se onderdane gesing is waarin hulle God vra om vir hulle koning sekere dinge te leer wat by ‘n leier pas.

Kom ons kyk dan na Psalm 72 as ‘n gebed.  In hierdie gebed word daar dan veral twee dinge van God vir die koning gevra.  Eerstens word daar van God gevra dat die koning regverdig sal wees, soos ons al opgelet het.  Om regverdig te wees, beteken om nie net na jouself om te sien nie.  ‘n Regverdige koning sal dus nie sy mense uitbuit om homself te verryk nie.  ‘n Regverdige koning sal, soos verse 1 en 2 sê, die reg handhaaf, regverdige beslissings vel en reg laat geskied.

Die tweede ding waarvoor die Psalm vra, is welvaart.  In die koning se tyd moet daar vrede wees (vers 3) asook welvaart (vers 7).  Die veronderstelling is dat ‘n regverdige – dit is ‘n goeie – koning hom ook vir vrede en welvaart sal beywer.  Meer nog, die gevolg van goeie koningskap behoort vrede en welvaart te wees.

Maar welvaart is nog lank nie welsyn nie, soos Ernst Conradie ons daarop wys.  Daar kan welvaart onder ‘n paar regeringsamptenare wees, dan is daar nog lank nie welsyn vir die gewone mense wat ongelukkig, gefrustreerd en onvry is nie.  Daarom vra die Psalm dat die koning nie net sal omsien na die welvaart van sy mense nie, maar ook na hulle welsyn.  Dat hy hulle sal beskerm en te hulp sal kom, en dat – soos vers 14 so mooi sê – hulle lewens kosbaar in sy oë sal wees!  Kortom, dat hulle waarde in sy oë sal hê.

En, soos ons weet, het dit in koning Salomo se tyd wel so gegaan.  Daar was welvaart én welsyn.  Dit was die een tydperk in Israel se geskiedenis dat Israel sterk en onafhanklik was, en deur homself regeer is.  Nie deur Perse of Grieke of Romeine of wie ook al nie.

En boonop was daar wysheid in die samelewing wat vanaf die koning gekom het.  Koning Salomo was immers bekend vir sy wysheid.  So, kortom:  daar was welvaart en welsyn, want die koning, die leier van die volk, was regverdig en wys.  Die mense het waarde in sy oë gehad.

Ons het nou, in die eerste plek, na Psalm 72 gekyk as ‘n gebed vir goeie leierskap.  Maar is Psalm 72 nie dalk, in die tweede plek, ook ‘n profesie van ‘n goeie leier wat nodig is, en wat moet en sal kom nie?

Die Jode het beslis oor baie eeue heen Psalm 72 gesien as ‘n profesie van die Messias wat sou kom, wat ‘n goeie leier sou wees.  Hy sou regverdig en wys wees, en onder hom sou daar welvaart en welsyn wees.  Gewone mense, almal, sou waarde in sy oë hê.  Soos Israel keer op keer weer onder buitelandse konings en regerings gely het, het die profesie gegroei dat die leier wat kom, die Messias, hierdie eienskappe sou hê.  Hy sou regverdig wees, en uitkoms bring vir mense wat swaarkry. Almal sou menswaardig wees. Hy sou vrede bring, asook welvaart en welsyn.  Kyk maar hoe baie slaan die profesieë van Jesaja 40-66 terug op Psalm 72.

En ook Christene het baie eeue lank Psalm 72 as ‘n profesie gelees van Jesus Christus wat sou kom, en gekom het, die Een wat van regverdigheid en wysheid en bevryding en menswaardigheid universele eienskappe sou maak.

En wat nou van Psalm 72 vandag?  Moet ons Psalm 72 lees as ‘n gebed vir goeie leierskap vandag, of as ‘n profesie wat in Jesus Christus vervul is?

Ek sou sê ons moet Psalm 72 vandag, in die derde plek, as ‘n oproep lees.  Hoe so? sal julle vra.

Met Jesus se koms het ons almal konings, profete en priesters geword.  Daar word nou van elke gelowige verwag om ‘n leier in die samelewing te wees.  Psalm 72 is derhalwe nou ‘n oproep wat ‘n beroep op elkeen van ons maak:  hier, op die eerste Sondag van die jaar, roep Psalm 72 ons om ons tot ten minste twee dinge te verbind:

Eerstens is daar ‘n beroep op regverdigheid.  Dat ons nie net vir onsself sal leef nie.  Dat ons byvoorbeeld die aarde se bronne met mekaar sal deel.  Dat ons sal uitreik na mense wat arm is, en na mense wat leeg is.  Dat ons mekaar se hartseer sal deel en mekaar se saak sal insien.  En dat ons mekaar iets sal gun.

Tweedens is daar ‘n beroep op welsyn.  Dat ons hierdie jaar nie net na welvaart sal streef nie – dit ook – maar dat ons ook na mekaar se welsyn sal omsien.  En dit sluit ook – en veral – in dat ons mekaar menswaardig sal behandel.

Geliefdes, ons kyk vandag terug na Kersfees, na die Koning wat gebore is omdat ons lewens kosbaar in sy oë is.  En ons kyk ook vandag vooruit na Paasfees, na die Koning wat gesterf het – ook omdat ons lewens kosbaar is in sy oë.  En Hy het opgestaan, omdat ons kosbaar en waardig voor hom is.

En daarom wens ons mekaar vandag ‘n 2010 toe wat kosbaar sal wees. Mag dit ‘n jaar wees waarin u dié soort welvaart sal beleef wat ook vir u welsyn sal beteken.

En mag u die wysheid ontvang om u welvaart, u welsyn, u hartseer, u verliese en u oorwinnings soos ‘n koning te bestuur.  ‘n Regverdige, wyse koning wat nie net vir hom- of haarself leef nie, maar die wêreld waarin hy of sy lewe, ‘n beter en menswaardiger plek sal maak.

Christina Landman

Seisoen van Luister

Vorige Leesrooster riglyne: