Posts Tagged ‘Richard Kearney’

Hoop se Absurde en Omgekeerde Logika

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Maar daar is ‘n tweede moontlike “desire of God” wat Kearney ‘n eskatologiese begeerte noem.  Dit kan goed geillustreer word met Augustinus se erotiese beskrywing van ons rustelose soeke na God.  Kearney skryf, “here Augustine addresses God as impassionate lover: ‘You shed your fragrance about me; I drew breath and now I gasp for your sweet odour.  I tasted you and now I hunger and thirst for you.  You touched me and I am inflamed with love” (soos aangehaal uit die Confessions, Boek 6).  Wat veral treffend is van Augustinus, skryf Kearney, is “Augustine reveals the double genitive at work in the ‘desire of God’.”  Augustinus se begeerte van God is ‘n respons op God se begeerte van Augustinus.  Hier word hoop nie gebore vanuit ‘n skaarsheidmentaliteit wat ek probeer oorkom met my sugting na vervulling nie, maar vanuit ‘n oorvloedsmentaliteit wat ek ontdek in God wat my alreeds gevind het en my begeer met Sy oorvloedige liefde.  Dit herinner aan Psalm 139 se beskrywing van God wat my eerste raakgesien, opgesoek, en in besit geneem het, nog voordat ek God kon ken.

Met verwysing na Psalm 34 se “wie Hom dien, het geen gebrek nie” (vers 10), beskryf Kearney dan hierdie omgekeerde logika van hoop soos volg:  “This desire of God is no mere deficiency or privation but its own reward – positivity, excess, gift, grace.  Why?  Because such desire is not some gaping emptiness or negation (as Sartre and certain existentialists held) but an affirmative ‘yes’ to the summons of a superabundant, impassionate God.”  Om in ‘n wereld van ooglopende beperkinge, mislukkings, vernietiging, en sinneloosheid te leef vanuit ‘n hoop op die surplus werklikheid van God se oorvloed is enersyds ‘n absurde logika (soos Paul Ricoeur dit beskryf wanneer hy verwys na “hope means the superabundance of meaning as opposed to the abundance of senselessness, of failure, and of destruction”).

Maar dit is ook ‘n omgekeerde logika, want hierdie eskatologiese surplus is iets wat eerder met die oor gehoor word as met die oog gesien word.  In ‘n artikel oor Vision and Voice, skryf Merold Westphal (in verwysing na die fenomenologie van Jean Luc Marion) oor hierdie soort omgekeerde intensionaliteit waarin die self nie in die eerste instansie sien nie, maar gesien word deur die ander (God en medemens).  In hierdie omgekeerde logika van hoop is die self in die eerste plek die een wat aangespreek word deur die stem van die ander (Levinas se etiese argument is ewe relevant in die verband).  Westphal illustreer dit met die voorbeeld van Moses en die brandende bos.  Moses se aandagtigheid was dieper as om net ‘n brandende bos te sien; uiteindelik het dit gegaan oor die stem wat hy kon hoor en hom tot ‘n roepingsaanspreeklikheid kon bring. Westphal skryf, “God is transcendent by being a project other than our individual and collective projects and by calling, commanding, and inviting us to join in that project, to obey its law, to accept its forgiveness, to work and to pray for that kingdom.”

Hoop is dus onlosmaaklik verbind aan roeping.  Gemeentelike hoop is ingebed in gemeentes se gestuurde roeping om deel te neem aan die missio Dei.  So ‘n missio Dei roeping is nie primer ‘n visio Dei wat hoop koester in wat gesien en verseker kan word deur gemeentes nie, maar wat hoop vind wanneer gemeentes die stem van God en ander in ons gemeenskappe kan hoor.  Om so ‘n roeping uit te leef vra dus van gemeentes om luisterende gemeenskappe te wees in verhouding met God en ander.  Dit bring die uitdaging vir die kultivering van ‘n gemeentelike kultuur waarin hoop se absurde en omgekeerde logika van ons ontvanklike gemeenskappe maak wat ons aanspreeklikheid ontdek wanneer ons die stem van God en ander hoor.