Posts Tagged ‘Spiritualiteit en Lewenstyl’

Fase 2 van die Pelgrimstog van Hoop begin

Written by Wilma le Roux on . Posted in Communitas Inligting, Dienste-Communitas, Foto's, Nuus, Personeel, Predikante begeleiding

Overberg-Pilgrimage-OF-HOPE-e-Book-1-400

Pelgrimstog word uitgebrei

Al hoe meer mense het die behoefte om ‘n pelgrimsroete te stap – ‘n geestelike dissipline wat reeds eeue beoefen word. So ‘n staptog help jou om ‘n geestelike dimensie op die staptog te herwin – enersyds deur die eensaamheid op die pad, maar andersyds ook deur die gemeenskap van jou medepelgrims en gashere langs die pad.

Omdat almal nie die finansiële vermoë het om die bekende Camino de Santiago of ander bekende Christelike roetes in die buiteland te gaan stap nie, is die Overberg Pelgrimstog van Hoop ontwikkel om verby kerke en ander plekke van geestelike en kulturele belang te loop. En so word die pelgrim geïnspireer deur die verhale van die gemeenskappe waardeur hy stap.

Hierdie week, op Maandag 20 Junie, het Frederick Marais en Adrienne Bester, die baanbrekers van die Eerste been asook die samestellers van die gids van die Overberg Pelgrimstog van Hoop, met nog ‘n been van die pelgrimstog begin deur prakties te “ontdek” hoe om dit vir pelgrims moontlik te maak om van Stellenbosch na Genadendal te stap. Peet, Adrienne se man, asook Neels Jackson stap saam, en Louise, Neels se vrou, is die ondersteuningspersoon wat met hulle per motor vergesel.

Hier onder is ‘n fotobeeld van die stap, met kommentaar soos die stappers dit op Facebook en Twitter post – ons sal dit daagliks aanvul tot die staptog voltooi is.

Om te wát met ʼn Gevorderde Sertifikaat?

Written by Wilma le Roux on . Posted in Kursusse, VBO

 Logo's Sentra  VBO Nuut en Geintegreerd

Waarom 9 kursusse in 3 jaar? Hoekom sal ek nodig hê dat iemand namens my besluit wat ek moet leer? So vra iemand oor die Gevorderde Sertifikaat in Bedieningsvernuwing, ʼn reeks kursusse wat jou oor ʼn tydperk van 3 jaar op ʼn nuwe leerkurwe neem.

In hierdie tyd gaan jy delf in werke van die mees relevante teologiese werke van ons tyd; gaan jy gesels saam met kollegas oor vraagstukke en vrese en saam na oplossings en antwoorde soek.

Iemand wat in 2014 die eerste 3 blokke deurloop het, som dit so op:

“’We read to know we’re not alone,’ het C.S Lewis blykbaar gesê. Ek het onlangs by ‘n nuwe gemeente begin werk en in my veertien jaar van bediening is dit my eerste een-man gemeente. Meer as ooit verlang ek na my kollegas – nie net wat werkverdeling betref nie maar veral wat goeie wederkerige vorming en saam groei binne ‘n unieke konteks betref. Die sertifikaat-kursus kom regtig tot my redding wat ‘n paar aspekte van my (een-man)bediening behels: Ons is ‘n groep leraars, van uiteenlopende kontekste, wat saam vir drie jaar op reis is.

“Ons kom sit elkeen met ons eie unieke konteks rondom hierdie tafel en tree in gesprek daarmee en met mekaar. Dit is dus ‘n skeppende proses waarin ons saam groei in sekere kern gesindhede, vaardighede en gewoontes vir bediening in ons tyd. Die aanbieders lewer nie teologiese monoloë uit hul akademiese kokonne nie, maar bring dit deurgaans terug na ons konteks en praat vanuit hul bedieningskontekste. Vir iemand soos ek wat baie bewus van die konstante vloeibaarheid van ons tye soms paniekerig die nuutste boek gryp (in die hoop op antwoorde, inspirasie en groei), is hierdie sistematiese bedieningsrelevante reis inderdaad ‘n pelgrimstog soos Eugene Peterson se “A long obedience in the same direction.” Ek kan nie wag om te sien wat met ons om die volgende draai gaan gebeur nie.

“Die drie blokke het vir my as mens persoonlik en as predikant baie beteken.  Uiteindelik is van dié kennis ook met gemeenteleiers bespreek en begin implementeer vir die gemeente se rol en taak as gestuurde geloofsgemeenskap.”

Kyk verder onder oor die uiteensetting van die eerste drie blokke waarmee ons weer vanjaar begin.

MEER GELUKKIG?

Written by Wilma le Roux on . Posted in Kursusse, VBO

Hoe gelukkig is jy?

Tevrede? Vervuld? Vol vreugde? Veerkragtig? Positief? Opgewonde? Hoopvol?

 Happiness

Ons besef almal vreugde en geluk is meer as net ‘n gevoel.

Toe die bekende Harvard Universiteit die kursus oor “Happiness” aanbied, het hulle die meeste inskrywings ooit vir ’n kursus gekry!

Waarom kyk na iets soos Geluk/Happiness?

Vir lank het die psigologie (en teologie ook) baie aandag gegee aan wat met die mens verkeerd is, en hoe om die mens van “stukkend en sondevol” te help na “normaal”. Eers sedert 1998 is stadigaan begin om te kyk na maniere hoe ons mense kan help om te fokus op hulle sterkpunte en deugde.

Kortom, HOE HELP ONS MENSE OM TE FLOREER!

Die kursus GELUK: DEUGDE-IN-PRAKTYK OM TE FLOREER (VBO-kursus oor “happiness”) aangebied op 29-31 Julie 2014, Stellenbosch, WIL HELP OM MENSE EN GEMEENSKAPPE TE BEGELEI NA “WELL-BEING”.

‘n Wonderlike reis

Written by Wilma le Roux on . Posted in Foto's, Kursusse, VBO

Geloofsreis 1.1: Emosioneel Gesonde Spiritualiteit

 19-22 Mei 2014 geloofsreis 1 met Gys van Schoor - Hermanus

 

Wat ‘n voorreg was dit nie om saam met 15 predikante en 3 lidmate vir 3.5 dae net by die Here tot rus te kom op Wortelgat op die eerste stasie van die Geloofsreis 2014.

Ons kon eerlik raak oor ons eie emosionele ongesondheid…

Ons kon by mekaar leer terwyl ons bewus geraak het van Sy teenwoordigheid.

Sien uit om die pad saam te stap. Sien jul by volgende stasie 15-18 September!

Gys, Albertus, Andri

 

Jou spiritualiteitstyl beïnvloed jou gebedslewe

Written by Besoeker on . Posted in Gebed en Spiritualiteit

As daar een saak is waaroor mense maklik krities raak, is dit dat ander mense nie die Here op “die spesifieke manier waaraan ons”gewoond geraak het aanbid nie. Maar hoekom bid ons op verskillende maniere ? Hoekom is daar gelowiges wat in een gemeente is, maar verskillend dink oor gebed en eredienste?Daar is ‘n verskeidenheid redes: die een is dat persoonlikhede en temperamente verskil. Mense het ook verskillende talente en gawes. Mense het egter ook verskillende spiritualiteitstipes.

Nagedink oor Spiritualiteit in die Informasie era

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

TonyBuzan – wat vroeër jare die konsep “mindmapping” bekend gestel het – maak in een van sy artikels die volgende stelling: “It’s the end of the information age”. Hiervolgens beweer hy dat die informasie-era ons selfstandige denkvermoë en groei vertraag het.

Volgens Buzan bestaan daar wanpersepsies oor die vermoëns van mense. Dit is nie waar dat net sogenaamde slim mense denkvermoëns het en daarom sukses kan bereik nie. Elke mens  kan sukses bereik indien hulle brein suksesvol bestuur word. Hy glo dat elke mens gebore is met die vermoë om te dink en te presteer. Omdat mense nie moeite doen om hulle brein se potensiaal te ontwikkel nie, presteer hulle nie. Ons moet van jongs af geoefen word om ons brein reg te benut. Omdat ons nie die ongelooflike vermoë daarvan benut nie, sukkel ons om kreatief te wees. Kreatiewe denkvermoë word deur regterbrein- aktiwiteite bevorder. Die informasie en tegnologiese eeu help ons nie hierin nie.
As motivering vir hierdie “wanbestuur” van ons brein beweer hy dat die huidige informasie eeu ons so ingesuig het dat dit ons kreatiwiteit eerder benadeel en indiwiduele potensiaal verminder het. Die informasie en tegnologie era is gekenmerk deur ongelooflike tegnologiese prestasie en ons word so toegegooi onder al die inligting tot ons beskikking dat ons stadig maar seker verleer om vir onsself te dink. Dit beïnvloed nie net ons kreatiwiteit nie, maar maak ons eie breine lui! As verbruiker in hierdie moderne era druk ons knoppies en alles word vir ons gedoen. Dit doen ons meer kwaad as goed.

Buzan glo dat een van die kenmerke van die informasie eeu  “multitasking” is. Ons begin so baie dinge, met behulp van tegnologie, gelyk doen, dat ons baie min nadink en herbesin. Dit is een van die redes waarom die wêreld so deurmekaar is. Die huidige ekonomiese krisis is juis die gevolg van “ millions of brains mismanaging themselves and in turn mismanaging others” As verbruikers van die gevorderde tegnologie en massa inligting en ondeurdagte menings waarmee ons gekonfronteer word, het ons slawe geword in plaas van denkers!

Hy haal Warren Buffet aan “In the future you’ll be able to recognise billionares because they will be the only ones without a mobile”
Hiermee vermoed ek, bedoel hy, dat ons daaglikse tegnologiese omgewing ons denke onderbreek en dat dit belangrike besluitneming negatief beïnvloed. Die verbruiker is nie meer selfstandige navorsers nie, maar volg ander se mening slaafs na  – hoe ondeurdag ook al. Rekenaars maak berekenings en neem namens ons besluite. Ons word oorval deur ‘n massa inligting wat soms nie goed nagevors is nie. Ons lees wêreldwyd mense se menings oor hulle blogs – en volg soms populêre ondeurdagte sienings slaafs na.  Al hierdie dinge het onder andere die ekonomiese en morele verval van die wêreld aangehelp! Ons toekomstige sukses sal afhang in hoe’n mate ons daarin gaan slaag om ons breinfunksies te beskerm en te oefen. Ons het afgeleer om selfstandig sake te oordink!

Dit  het my aan ons spiritualiteit en ons verhouding met die Here laat dink. In hoe’n mate word ons spirituele belewing en denke nie deur die tegnologiese ontploffing en geweldige inligting aan bande gelê nie? Hoeveel keer is my gebedslewe, my Bybeltye en selfs goeie gesprekke nie deur die selfoon of telefoon onderbreek nie. Ek verwonder my daaroor dat ek skuldig voel om nie my telefoon te antwoord as ek met die Here besig is of met iemand in gesprek is nie. Dit is asof die telefoon, die televisie, die internet regtig ons lewens oorneem. Natuurlik het al die inligting en tegnologie meer voordele as nadele. Maar dit kan vierkantig tussen jou en ʼn baie verrykende spirituele lewe staan. Daar is soveel menings en raad beskikbaar dat mense al hoe minder self tyd maak om te dink oor hulle verhouding met die Here en al hoe meer slawe van ander se informasie word.

Tony Buzan is ʼn voorstander van die ontdekking van jou eie potensiaal en dit kan alleen bereik word indien jy jou regterbrein-aktiwiteite verhoog. Miskien is dit ook goeie raad vir ons geestelike lewe.

Die Here het mos vir Elia gesê dat in die stilte van die wind – daar sal God gevind word!

1 Kon. 19: 11-12
“ Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte.”

Dit klink vir my na ʼn regterbrein spirituele aktiwiteit!

‘n Spiritualiteit van eensgesindheid

Written by webmeester on . Posted in Gebed en Spiritualiteit

Gedurige konflik tussen gelowiges en soms ook gemeenteleiers laat my wonder waarom daar so gebrek aan eensgesindheid is. In ons weeklikse predikantevergadering in die gemeente, is ons op die oomblik besig met Filippense. Hierdie week het ons nagedink hoofstuk 2:1-4. Hierdie gedeelte het ons diep aangespreek oor ons wandel voor die Here, en met mekaar – ons spiritualiteit.

Die perikoop vorm deel van ʼn groter skrifgedeelte, waar Paulus met die gemeente oor Christus se lewenstyl wil praat. Die voorafgaande gedeelte (1:27-30) praat Paulus oor ons lewenswyse wat in ooreenstemming met die evangelie moet wees. Die paragraaf daarna (2:5-11) handel weer oor die veelbesproke kenosisleer.– Christus se vernedering deur sy menswording.

Kenosis verwys na Fil. 2:7 waar Christus homself verneder het “ deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Jac J Muller se proefskriftitel was: “ Die Kenosisleer in die Kristologie sedert die Reformasie”. In die 17de tot die 19de eeu was daar ʼn vurige teologiese debat of Christus met sy inkarnasie sy goddelikheid neergelê het en of Hy sy goddelikheid net tydelik verbloem het)

Dit gaan in Fil. 2:1-5 oor die term eensgesindheid onder gelowiges. Die motivering wat Paulus vir eensgesindheid opgee is drieledig:

i)Omdat ons een in liefde, een van hart en een in strewe is. Ons kan nie eensgesind wees as ons nie weet ons is saamgebind deur Christus se liefde nie.

ii)Een van hart – kom van die Griekse woord wat saamgestel is uit “ saam” en “siel” Dit gaan dus oor eenders dink en leef omdat ons deur een Gees deurdrenk is. Ons harte moet saam rein wees voor die Here. As ons harte nie saam op dinge van die Here ingestel is nie, gaan ons sukkel om ʼn eenheidsgesindheid te handhaaf. Dit sou beteken dat ons heeltyd die evangelie se kern in ons harte moet nastreef!

iii) Die een van strewe gaan oor die een doel wat ons voor oë moet hê: naamlik “ met my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe” (Fil. 1:20).

Hierdie drie sake vorm die grondslag vir eensgesindheid. Dis die golflengte waarop ons ingestel moet wees om eensgesind te wees!

Die slegte uitkoms van die teendeel blyk weer uit die 3de en 4de vers. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” Dit is duidelik dat selfsug en eersug teenoor eensgesindheid staan. So as ons wonder waarom ons so sukkel om in gemeentes en geloofsgemeenskappe eensgesindheid te kry, is die antwoord in die selfsug en eersug geleë. Daar is heelwat gemeentes en predikante wat by Communitas om hulp vra om konflik op te los. Gemeentes roep soms om hulp omdat die gebrek aan eensgesindheid soveel konflik tot gevolg het. Dalk moet ons almal weer op ons knieë gaan en eensgesindheid nastreef, al verskil ons as mense van mekaar. Eensgesindheid is harde werk, want dit vra dat jy selfsug en eersug moet begrawe. Sodra ons eie eer soek, is die gevolg dikwels konflik in gemeentes (ook onder kollegas). Dalk moet ons doelbewus strewe na ʼn spiritualiteit van eensgesindheid. (dit is natuurlik iets anders as eendersheid en eenparigheid) Dit begin gewoonlik by een party wat bereidheid toon om soos Christus, die minste te wees.

In Fil. 2:5 vra Paulus dat dieselfde gesindheid wat in Christus was (kenosis) ook in ons moet wees. Dit is ʼn gesindheid van “in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”(vs. 3) en “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander (vs4).
As ons nie ʼn lewenstyl van minsaamheid, onselfsugtigheid en nederigheid het nie, sal ons nooit die spiritualiteit van eensgesindheid kan leef nie. Dan sou dit beteken dat ons nie soos Christus kan word nie.
Hy het Homself minder gemaak ter wille van ons!

Dit is egter vers 8 wat my effens onkant betrap het. Daar staan: “Hy was gehoorsaam tot in die dood” Nederigheid/Diensknegskap (kenosis) kom deur gehoorsaamheid.  “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef.”
Eensgesindheid is die strewe om soos Christus te wees, maar in die praktyk bestaan dit uit die harde werk vir ʼn lewenstyl van minsaamheid en nederigheid. Dit is goed om in lydenstyd mekaar aan Christus se nederigheid (kenosis) te herinner.
Ek sou nog baie hieroor wou dink…………

Quintus