Posts Tagged ‘Triniteit’

VBO Nuut en Geïntegreerd

Written by Wilma le Roux on . Posted in Kursusse, VBO

Nuwe en Geïntegreerde

Gevorderde Sertifikaat in Bedieningsvernuwing

ʼn Gesamentlike projek van die drie VBO-sentra

 Communitas Logo  Excelsus logo  Logo Shepherd

                                               

Ons begin in 2015 met ʼn nuwe, tweede groep wat die gevorderde Sertifikaatkursus in Bedieningsvernuwing gaan deurloop!  

Ons nooi leraars wat 5 jaar of langer in die bediening is om saam te kom dink oor hoe ons ons bediening sinvol en verantwoordelik kan inrig.  

Die eerste groep van 35 leraars het vanjaar die eerste drie modules voltooi en ons kry baie positiewe terugvoer.

Maar wat behels hierdie sertifikaat?

Die bedoeling van die Geintegreerde Sertifikaatkursus is om leraars wat al `n rukkie in die bediening is op ʼn dieper en grondiger vlak te geheroriënteer t.o.v. hulle bediening.

  • Die kursus word dus in ʼn formaat van nege blokke (van 3–4 dae) oor die loop van drie jaar gedoen.
  • Dit wil inklusief werk deur teologie, vaardighede, houdings, roepingsbewustheid en spiritualiteit te bevorder
  • Die kursus gee nuwe insigte, maar is ook baie prakties en help mense om innoverend te werk.
  • Die struktuur van die M Th kursus word as ʼn vertrekpunt geneem, maar ʼn belangrike verskil is dat daar geen skripsie geskryf word nie.
  • Om kursusgangers dieper aan die dink en werk te kry word o.a.  ʼn joernaal gebruik.

 

Die datums vir die nuwe groep van 2015 is die volgende:

Blok 1 Om die Tye en Geleenthede te Verstaan 17-19 Feb
Blok 2 Gemeentelike Ekklesiologie 21-23 Apr
Blok 3 DIE TRINITEIT-Die Wonderlike, Vreemde God in Wie Christene Glo 1-3 Sep

Emerging Churches: Waardering en Vrae

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het die afgelope week ‘n klompie blog bydraes gelewer oor die aanbiedings by laas naweek se American Society for Missiology byeenkoms in Chicago rondom die tema “Emerging Churches and Other New Christian Movements in North America: The Challenge to Missiology” (sien http://www.communitas.co.za/tussenin/ vir die bydraes oor vyf sulke aanbiedings).  In my laaste refleksie op die aanbiedings in geheel wil ek graag ‘n paar waarderende opmerkings maak en ‘n paar kritiese vrae vrae oor die verskyning van sg. emerging churches.  My opmerkings en vrae is beperk tot die spesifieke gestaltes van hierdie verskynsel soos dit by die ASM na vore gekom het, en ek is terdee bewus daarvan dat emerging churches ‘n ryke verskeidenheid van vorme aanneem wat nie altyd oor dieselfde kam geskeer kan word met veralgemenings nie.  My opmerkings en vrae het betrekking op drie areas, nl. teologie, kultuur, en verhoudings:

Waarderende Opmerkings

· Teologies is daar ‘n Christologiese ywer te bespeur vir die sentraliteit van Jesus, met ‘n sensitiwiteit vir hoe die radikaliteit van Jesus afgewater en gekompromiteer is in die Christendom era, en daarom ‘n fokus op die kweek van getroue navolgers van Jesus in nuwe kulturele gestaltes (veral die aanbiedings van Alan Hirsch en Jonathan Wilson-Hartgrove).  Terselfdertyd was daar ook ‘n klem op die belangrikheid van ‘n fundamenteel trinitariese raamwerk (missio Dei) waarbinne pneumatologie en eskatologie bepalend na vore tree vir ‘n verstaan van die kerk se gestuurdheid in die wereld, en wat gevolglik die fokus meer skuif na geloofsgemeenskappe se gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding (veral die aanbiedings van Inagrace Dietterich en Sherry Maddock).  ‘n Mens sou selfs ‘n spanning kon sien tussen die implikasies van hierdie twee beklemtonings (wat nie een van die aanbieders waarskynlik so bedoel of so verkies nie), en alhoewel daar waardering moet wees vir die wyse waarop albei hierdie teologiese benaderings vergestalting vind in gemeenskappe en nuwe gemeente-inisiatiewe, bring dit noodwendig kritiese vrae na vore rondom die kwessie van agentskap (sien hieronder).

· Kultureel gesproke bring hierdie nuwe soort bewegings definitief ‘n varsheid en skerpheid in hoe die tekens van die tye gelees word, hoe daar erns gemaak word met kulturele skuiwe onder veral jonger generasies, en hoe kerk-wees beliggaam word in kreatiewe gestaltes wat tuistes skep vir mense wat lankal nie meer tuiskom in meer tradisionele vorme van kerk-wees nie (veral die aanbieding van Doug Pagitt).  Daar is in meeste gevalle ook ‘n intensionele gerigtheid op breer gemeenskaps- en samelewingskwessies, en ‘n sensitiwiteit vir die bou van netwerke in die breer gemeenskap met die bedoeling om vanuit die evangelie ‘n bydrae saam met ander te lewer om hierdie kwessies te addresseer (veral die aanbiedings van Jonathan Wilson-Hartgrove en Sherry Maddock).  Dit lei wel tot belangrike vrae t.o.v. die verhouding evangelie en kultuur (sien hieronder).

· Verhoudings vind ‘n baie sterk klem in hierdie nuwe gemeenskapvormende inisiatiewe, veral in die bou van netwerke in die breer gemeenskap, die gebruik van sosiale netwerk tegnologie d.m.v. die internet, en ‘n fokus op persoonlike verhoudings en kleingroepe (bv. Doug Pagitt se bydrae oor “relational-set community organization”). Sherry Maddock stel dit treffend met haar klem op “one relationship at a time”: More than anything else, I think I now recognize after 10 years, that reality, God’s kingdom reality, and mission are built and based on relationship (met God, met ander in kerk en wereld, en met ‘n spesifieke plek). Soms klink dit ‘n bietjie meer geromantiseerd as ander kere, maar meestal is dit ingebed in die realiteit van die normale, alledaagse intriges van die lewe. Die interessante vraag in die verband is egter die aanname by sommige dat ‘n skuif na intersubjektiwiteit in die vorm van verhoudings en gemeenskap noodwendig ‘n skuif van modernisme na post-modernisme beteken (sien hieronder).

Kritiese Vrae

· Teologies sou daar ‘n konstruktiewe gesprek gevoer kon word oor die kwessie van agentskap. Wat ten diepste op die spel is, is nie soseer ‘n of-of keuse tussen God en mense se agentskap nie, maar of ons die subtiele en radikale verskil verstaan wanneer ons oor God dink as die primere agent wat alreeds voldoende teenwoordig en aktief besig is in die wereld (met geloofsgemeenskappe wat opgeneem word in daardie beweging en deelnemers word aan wat God alreeds buite ons bewerkstellig), en wanneer ons oor God dink as hoofsaaklik teenwoordig en aktief d.m.v. ons vermoens om Hom gehoorsaam te wees of ons aktivisme om Christus getrou na te volg. Dit verteenwoordig die verskil tussen ‘n blote navolgingsteologie (met gewoonlik ‘n Christomonistiese toon en ‘n gebrekkige trinitariese verstaan van God se teenwoordigheid en werk) wat fokus op imperatiewe van hoe om Christus beter na te volg, en ‘n missio Dei teologie (met die sending van God primer in verhouding tot die sending van die kerk) wat fokus op gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding om te onderskei waarmee God alreeds besig is en hoe ons deel daarvan kan word. Tydens die ASM konferensie was hierdie twee verskillende posture die beste geillustreer in die aanbiedings van onderskeidelik Alan Hirsch en Sherry Maddock. Die vraag is of emerging church verskynsels kan verhoed dat dit eintlik maar net moderne vorme van 19de eeuse liberalisme is (en die lesse leer wat die teologie van Karl Barth en die skuif in sendingparadigma sedert die Willingen konferensie in 1952 meegebring het), en of die missio Dei teoloee kan leer hoe hierdie soort teologie in radikaal anderse kontekste en kulturele gestaltes lyk as waaraan ons tot hiertoe gewoond was in die tradisionele gemeentevorme.

· Kultureel gesproke sou daar ‘n interessante gesprek kon wees oor die verhouding evangelie en kultuur. Wat ten diepste op die spel is, is nie soseer of die realisering van meer kontra-kulturele evangeliese impulse noodsaaklik is in ‘n spesifieke tyd en plek nie, maar of ons naief en geromantiseerd in statiese konsepte dink oor beide evangelie en kultuur. As lg. die geval is, dan kan dit maklik gebeur dat diegene wat tereg die Christendom vorme van kerkwees se kompromiee met dominante kultuurkragte uitwys dalk dink dat hulself hierdie soort probleem kan vryspring op een of ander manier, en dat die evangelie abstrak en konteksloos as reels of beginsels uitgelig kan word bokant die partikulariteit van kultuur.  So ‘n verstaan, wat gewoonlik die aannames van sommige se bedoeling met “kontekstualisering” is (nl. dat die evangelie as tydlose beginsels beskou word wat bloot her-toegepas kan word in ander kulture), lei baie maklik tot die soort kolonialisering waaraan die Christelike kerk dikwels in die verlede skuldig was. ‘n Verstaan van die evangelie is immers nooit abstrak van ‘n spesifieke kulturele beliggaming daarvan nie. Trouens, een van die merkwaardige verskynsels van emerging churches is dat dit ruimtes skep vir ‘n groter verskeidenheid van kulturele vergestalting van die evangelie. En dikwels neem dit die vorm aan van subkulture waar sekere mense makliker inpas as ander. Maar nie enige sodanige gestaltes sal ooit immuun wees van allerlei kulturele kragte wat telkens daarin slaag om geloofsgemeenskappe se fokus weg te skuif van God en ons lojaliteit aan God nie.  Wat is die gevare en uitdagings vir emerging churches vanuit die oogpunt van die verhouding evangelie en kultuur, en hoe kan die gesprek tussen meer tradisionale vorme van kerk-wees en nuwe kulturele verskynsels van kerk-wees by mekaar leer sonder die arrogansie van valse veroordelings en moreel verhewe posisionerings?

Verhoudings is tereg ‘n belangrike fokus, en daar is baie te leer by hoe emerging churches dit ernstig neem en nuwe kulturele gestaltes hiervan na vore bring. Daar is by sommige ‘n besliste skuif weg van subjektiwiteit (indiwidualisme) en ‘n program-gedrewenheid na intersubjektiwiteit (gemeenskap) en ‘n verhoudingsfokus. En dit sou ook reg wees om daarna te verwys as ‘n korreksie op die ongebreidelde indiwidualisme en drang na beheer wat met modernisme saamkom. Maar dit bring vrae na vore oor hoe mag funksioneer in sulke omstandighede (waaroor ek nie verder hier uitbrei nie), en dit is veral ‘n ope vraag of so ‘n skuif werklik post-modern genoem kan word. Filosowe (soos Charles Taylor) wat op hierdie soort vrae fokus wys daarop dat intersubjektiwiteit steeds maar nog met dieselfde modernistiese aannames kan werk, nl. ‘n plat wereld van optimisme in wat menslik moontlik is (in hierdie geval net wat mense-in-gemeenskap of mense-in-netwerke kan vermag) sonder ‘n openheid vir ‘n transendente subjektiwiteit wat meer is as wat tot stand kom d.m.v. indiwidue en die somtotaal van indiwidue (Charles Taylor verwys na modernisme se “disenchanted world”). Hedendaagse filosowe (veral in fenomenologiese debatte uit die Franse filosofiese wereld) worstel met die postmoderne vraag as ‘n vraag wat veral fokus op die transendente openheid tussen mense wat subjektiwiteit en intersubjektiwiteit oorskry.  En baie van hierdie debatte bring juis weer ‘n nuwe openheid vir teologiese vrae rondom God se teenwoordigheid en aktiwiteit tussen mense (waar God meer is as ‘n idee in mense se gedagtes/ervaring of beginsel vir mense se aksies), asook die belangrikheid van ‘n eskatologie wat afhanklik is van die inbreek van God se handelinge (eerder as ‘n teleologie wat afhanklik is van die vooruitgang wat mense teweeg bring).  Postmodernisme verwerp nie alleen indiwidualisme en beheergedrewenheid t.w.v. gemeenskap en netwerke nie, maar ten diepste die totale mens-georienteerde projek (ook in vorme van intersubjektiwiteit) waarin daar geen plek meer is vir transendente subjektiwiteit wat menslike vermoens transendeer nie.  Hoe vermy emerging churches ‘n romantisering van gemeenskap, en hoe kan ons by hierdie nuwe gestaltes van kerk-wees leer om geloofsonderskeiding-in-gemeenskap/netwerk met mekaar en ander uit te leef as maniere van ontdekking van God se teenwoordigheid en aktiwiteit wat selfs nuwe gestaltes van Christelike aktivisme oorskry?

Belhar en die Holocaust Museum

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Die fokus van hoofstroom nuus hierdie week in Amerika was, en is steeds, die geweldsdaad in die Holocaust Museum (waarin ‘n sekuriteitsbeampte gesterf het), en wat volgens alle tekens gemotiveer was deur ‘n verregse ekstremis se haat teenoor Jode en swartmense.  Dit is uiters relevant dat dit juis in ‘n week gebeur waar kerklike nuus toegespits was op die Reformed Church in America (RCA) se aanvaarding van die Belhar Belydenis as hul vierde belydenis naas die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreels, en die Nederlandse Geloofsbelydenis (sien http://www.rca.org/Page.aspx?pid=5728).  Die relevansie het alles te make met Belhar se belydenis oor diversiteit as konstituerend vir eenheid, in verhouding tot haatgroepe se belydenis oor diversiteit as ‘n bedreiging vir eenheid.

Dit is ‘n relevansie wat my veral opgeval het toe ek vandag Brian Levin, direkteur van die Center for the Study of Hate and Extremism (wat vanjaar ‘n boek uitgebring het oor “Hate Crimes: Understanding and Defining Hate Crimes”), se CNN kommentaar lees waarin hy o.a. op die bedreiging van diversiteit wys as onderliggende oorsaak van hierdie soort geweld (sien http://www.cnn.com/2009/CRIME/06/11/levin.hate/index.html).  En dit het my onmiddellik laat dink aan ‘n referaat wat Piet Naude al in Januarie 2003 by die Vyfde Ekumeniese Forum in Heidelberg, Duitsland gelewer het oor Confessing the One Faith: Theological Resonance between the Creed of Nicea (325 AD) and the Confession of Belhar (1982 AD).  Hierin skryf Piet o.a. die volgende oor Belhar se belydenis aangaande die identiteit van die Kerk:  “The reference to the church as a communion of saints enables Belhar to implicitly assert a contradiction to a view of community where differentiation is seen as ground for separation in stead of opportunities for mutual service and enrichment in the one visible people of God.” In terme van die Belhar belydenis beteken dit, skryf Piet op ‘n ander plek (in sy Mei 2007 lesing by die Universiteit van Chicago oor “It is Your Duty to be Human: Anthropology and Ethics in a Post-Liberation South Africa”), dat andersheid en diversiteit “should not be embedded in a tyrannical separateness, but in a celebration of difference within a constitutionally guaranteed commitment to unity and equality.” Die RCA het duidelik gedink dat Belhar uiters relevant is vir hierdie belydenis van die Kerk in ‘n Amerikaanse konteks van toenemende diversiteit waar eendersheid dikwels verabsoluteer word as ‘n vereiste vir die oorlewing van gemeenskappe of groepe wat hulself as bedreigd beskou deur “die ander”.

Vir Belhar is hierdie belydenis oor diversiteit as konstituerend vir eenheid nie gebore uit politieke opportunisme wat diversiteit romantiseer nie, maar diep gewortel in die Kerk deur die eeue se belydenis oor wie God is.  Die Drie-enige God is immers in wese een identiteit wat ons vanuit die Bybel alleen maar ken as ‘n ryke diversiteit van drie Persone in trinitariese verhouding binne daardie eenheid.  Piet skryf, “(in Belhar) the trinitarian base of faith is translated into more elaborate ecclesiological terms so that the unity of the triune God becomes motivation for an is reflected in the unity of the community of saints.” Daarom begin Belhar met ‘n trinitariese belydenis (eerste twee artikels) en sluit dit af met ‘n trinitariese doksologie (artikel 5).  Is hierdie belydenis oor die Drie-enige God blote dogma vir meeste gemeentes, of kan dit dalk ‘n bron van inspirasie wees vir hoe ons gestalte gee aan gemeentelike identiteit te midde van diverse gemeenskappe?  Is gemeentes meer gesteld daarop om laaste bastionne van eendersheid te wees te midde van die bedreiging van andersheid, of kan dit dalk ‘n omhelsing wees van diversiteit as ‘n verryking en voorwaarde vir ware eenheid?  Gemeentes wat iets van hierdie moeilike uitdaging regkry moet asseblief aanhou vertel van die mislukkings en die suksesse, sodat ons kan leer…