Posts Tagged ‘Uitnodiging’

Pinkstergemeenskappe 3: ‘n Vertrek waar mense graag WIL wees

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Coenie Burger se beskrywing van gemeentes as bewegings, wat beteken dat dit nie maar net statiese voorwerpe is waarop seker dinge toegepas kan word nie, het my verder laat dink aan hoe Peter Block skryf dat ‘n gasvrye gemeenskap gevorm word d.m.v. ‘n uitnodigende kultuur.  Hy onderskei uitnodiging van meer tipiese maniere waarop leiers dikwels transformasie wil bewerkstellig, nl. mandaat en oorreding.  Hy beskryf dit soos volg:  “The belief in mandate and persuasion triggers talk about how to change other people and how do we get those people on board, how do we make showing up a requirement, all of which are simply a desire to control others.  What is distinct about an invitation is that it can be refused, at no cost to the one refusing.”  ‘n Ware uitnodiging geskied nie op die basis van “promising incentives or rewards” nie, skryf Block, want “when we try to induce people to show up through strong selling or the language of enrolling, we are adding subtle pressure that, in a small but important way, blurs the freedom taken decision to say yes.”

‘n Uitnodigende kultuur is riskant, want niemand mag dalk opdaag nie.  Dit hou verband ons vrees dat ons nooit genoeg ondersteuners gaan vind om saam met ons die een of ander ideale wereld te skep nie, en lei daarom maklik tot subtiele vorme van manipulering en afdwinging om mense in die vertrek te kry.  Dit is die soort van versoeking wat baie gemeenteleiers aan onderworpe is t.o.v. gemeentelede se lojaliteit en commitment, veral wanneer hulle voor die uitdagings te staan kom van kwynende getalle en die dringendheid om lidmaatgetalle ten alle koste hoog te hou.  Wanneer dit gebeur voel dit hopeloos te riskant om te fokus op die klein persentasie van mense wat wel graag in die vertrek WIL wees, en bly ons op soek na die wonderstrategiee wat die stilswyende massa weer in beweging kan dwing (bv. “as ons net die jeug weer sover kan kry om…”)  Selfs evanglisasie- en sendingbenaderings tot diegene buite die gemeente kan ten diepste gebaseer wees op subtiele dwang en manipulasie eerder as ‘n ware uitnodiging.  Baie gemeentes dink selfs ook dat ordentlike bemarking van wie hulle is en wat hulle kan bied die deurslaggewende faktor kan wees vir oorlewing of herlewing.  Maar, as ek Block reg verstaan, is gasvryheid en ‘n ware uitnodigende kultuur iets totaal anders as bemarking en ‘n beloningskultuur (wat fokus op “what’s in it for me”).  Nee, skryf Block, “when we believe that barter or subtle coercion is necessary, we are operating out of a context of scarcity and self-interest, the core currencies of the economist.”  Uitnodiging bring ware transformasie mee, want dit werk met die energie van diegene (al is dit maar min in die vertrek) wat ‘n passie het vir iets groters as net hulle eie selfbelange.

Die energie in die Handelinge 2 vertrek was ewe energerend en uitnodigend.  Teologies het gelowiges deur die eeue heen die Gees se beweging geassosieer met ‘n onkeerbare energie wat aanloklik en aansteeklik genoeg was om ander te kan meevoer sonder dat hulle daartoe gedwing word.  Leierskap wat energie volg, ry die golwe van die Gees se wind… ‘n beweging wat nie gestop kan word nie, al tel die getalle soms daarteen.  Daar was tye in die geskiedenis van die Kerk dat dit die kragtigste getuienis kon lewer toe Christene in die minderheid was en als oenskynlik teen hulle getel het… ‘n krag ingebed in die uitnodigende kultuur van Gasvryheid eerder as die dwingende kultuur van Mag.  Dit is die nuwe missionale uitdaging in ‘n post-Christendom era.