Posts Tagged ‘vergeesteliking’

Ons Godsbeeld tussen Vrydag en Sondag

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Wanneer ek verder nadink oor die ongemaklike stilte tussen Vrydag en Sondag (sien http://www.communitas.co.za/index.php/blogs/300-tussen-in/1920-tussen-vrydag-en-sondag) kom daar vir my veral drie relevante temas na vore. Ek wil suggereer dat die manier waarop gemeentes mense begelei in tye wanneer die ervaring van ‘n bedreigende ander so prominent is (soos wat tans vir baie mense die geval is rondom misdaad, geweld, plaasmoorde, korrupsie, en Malema) tot ‘n groot mate afhang van die onderliggende beelde van God, mens, en wereld. Hoe lyk ons gemeentes se teologie, antropologie en wereldbeskouing in sulke tye van angstigheid?

Dalk begin dit op ‘n heel fundamentele vlak met hoe ons mekaar begelei om oor God te dink wanneer ons vanuit die ongemaklike stilte tussen Vrydag en Sondag terugkyk op Vrydag (ek wil oor die ander twee temas – mensbeeld en wereldbeskouing – nadink in twee volgende blog bydraes). Janet Soskice, in haar boek oor “The Kindness of God” (Oxford University Press, 2007), het my weer herinner aan Julian van Norwich (1342-1416) se beeld van God toe sy op 8 Mei 1373 op haar siekbed gedink het sy nader die uur van haar dood (soos opgeteken in haar “The Revelation of Divine Love”). Soskice vertel die storie soos volg: “The parish priest was sent for to give her the last rites, and Julian, accepting the inevitability of death, asked those tending her if she might be propped sitting up with her eyes fixed heavenward, ‘where I trusted that I by God’s mercy was going.’ On arrival, the priest had a different idea. Holding a crucifix before her face, he said, ‘I have brought the image of your saviour; look at it and take comfort from it.’ Julian tells us that she privately thought that what she had been doing, looking up, was ‘good enough.’ But she complied with his request, not least because she reckoned she could look straight ahead longer than she could look up, and lowered her gaze to look straight upon the crucifix. There then began a revelation of divine love, a single vision that came to her in sixteen ‘showings.’”

Julian se sestien “showings” vloei almal vanuit die eerste een waarin sy ‘n grafiese beskrywing gee van Christus se geskende en bebloede gesig. Sy gee haar lesers geen kans om die grusame werklikheid van Christus se kruisiging te ontkom met ‘n soort van vergeesteliking waarmee die blote liggaamlikheid van God se Inkarnasie vermy kan word nie. Soskice skryf na aanleiding hiervan, “Julian came to see this first showing with its sustained vision of Christ on the cross as pointing to a profound theological truth: our way to God is only through the Word made flesh. She will look nowhere else than to the Incarnate Lord. Prompted later in the showings to look away from the Cross and up to heaven to the Father, she makes an inward reply, ‘No, I cannot, for you are my heaven.’” Die belangrikste implikasie vir Soskice is dat “the Word Incarnate in embracing embodied life blesses its contingent and fragile nature.” Dit beteken veral dat ons nie ‘n bedreigende ander kan vermy met ‘n ontvlugting na ‘n geestelike heenkome weg van die vlees en bloed worstelinge van ons alledaagse bestaan saam met ander nie. So ‘n versoeking sal gereeld in gemeentes opduik wanneer mense probeer oplossings soek vir traumatiese ervaringe in die aangesig van ‘n bedreigende ander. Dit wil vir my voorkom of ‘n sterk reaksie van baie gelowiges op facebook en in koerante se briewekolomme die afgelope tyd juis hierdie soort versugting is na ‘n vergeesteliking wat soveel as moontlik van die morsigheid van ‘n publieke en politieke lewe saam met ander kan vermy. Kan dit wees dat gemeentes in sulke tye juis hierteen moet waak, en dat ‘n sterk fokus op die Gekruisigde ons juis kan help om die roeping van die liggaam van Christus te verstaan as die beliggaming van God se liefde midde-in die soort van situasies wat ons as bedreigend ervaar en wens dat dit nie bestaan nie? En as dit so is, hoe moet ons klink wanneer ons praat oor tye van angstigheid en oor diegene van wie ons die ervaring het dat hulle die bedreigende ander is? Meer nog, hoe lyk ons gemeentes se praktyke van so ‘n publieke beliggaming – veral in die bou van beter verhoudinge met die bedreigende ander?

Die bedreiging wat verandering en verlies inhou – wat Julian die “heavyness and irkehede of our fleshly living” noem – is nie vreemd aan God se plan van liefde (wat nooit ‘n sentimentele of geromantiseerde liefde is nie) of ‘n hindernis op die pad van ons geestelike vordering nie (asof dit nie bedoel was om ‘n kruisweg te wees nie), maar eerder die baie spesifieke geleentheid vir die beliggaming van God se selfgewende liefde. Soskice skryf, “…the Incarnation cannot be simply a rescue operation once things have gone wrong… The impatient otherwordliness of Augustinianism, for which the flesh is a drag and a distraction on the soul’s journey to the uncreated, is brought firmly down to earth. Why should we desire to flee our physical nature if God has chosen to become our kind?”

‘n Kern vraag is of ons as gemeentes in sulke tye God voorhou as ‘n versekering vir mense se ontvlugting uit die morsigheid van ons alledaagse bestaan na ‘n geestelike hemel waar net ‘n geromantiseerde ander saam met ons kan voortleef, en of ons God se Inkarnasie ernstig kan neem as basis vir ‘n hernude opneem van ons roeping om God se liefde te beliggaam in die bou van beter verhoudinge met ander. Inspireer ‘n beeld van God as die Gekruisigde Christus ons dalk tot ‘n ander opsie as veg of vlug?

Indien so, dan is die relevansie van die Belhar Belydenis duidelik as ons getuienis “dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring; dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word indien dit verkondig word in ’n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig; dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie byvoorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is” (derde artikel).