Posts Tagged ‘vernuwing’

NUWE GEVORDERDE VBO-KURSUS

Written by Wilma le Roux on . Posted in Dienste-Communitas, Kursusse, VBO

Gevorderde Sertifikaat in Bedieningsvernuwing

Die bedoeling met die gevorderde sertifikaat in Bedieningsvernuwing is om aan leraars wat behoefte daaraan het, ʼn meer inklusiewe en omvattende reeks kursusse aan te bied wat hulle op ʼn veel breër front gaan heroriënteer t.o.v. van die bedieningseise vandag.

Hierdie sertifikaat sal ʼn gesamentlike poging van al drie VBO-instansies (Communitas/Ekklesia, Shepherd en Excelsus) wees.

Die kursus bestaan uit nege samehangende blokke wat oor ʼn periode van drie jaar gedoen word – drie blokke per jaar – en wat deelnemers op die belangrikste fasette van die bediening heroriënteer.  Die gedagte is dat daar reeds volgende jaar met die eerste drie blokke begin word.

Die drie blokke vir die komende jaar is:

  Gevorderde Sertifikaat: Jaar 1  
25-27 Maart Kursus 1: Om die tye en geleenthede te verstaan Coenie Burger e.a.
20-22 Mei Kursus 2:  Gemeentelike Ekklesiologie Frederick Marais &, Ian Nell
26-28 Aug  Kursus 3:  Triniteit, Missio Dei en die Plot van die Evangelie Coenie en Marius Nel

Wat is die doel van geestelike dissiplines?

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Ons almal ervaar een of ander tyd geestelike droogte in ons lewens, ja selfs dominees! Hiervoor kan daar baie redes aangevoer word. Maar die een saak waaroor ons saamstem is – ons hou nie daarvan nie.
Ons eie oplossing is dikwels om baie goeie voornemens te maak. Ons stel planne op, gaan gym toe, volg ʼn dieet en stel ʼn klomp geestelike doelwitte op soos – om meer gereeld kerk by te woon, meer Bybel te lees, by ʼn groep in te skakel ens. Dit mag dalk ʼn rukkie werk, maar kort voor lank besef ons dat daar weer in ʼn klomp ou gewoontes ingekruip het! Al die besluite en pogings wat ons geneem het, help gewoonlik net ʼn rukkie. Na die eerste paar maande van die jaar is die gym weer leeg en die kerk weer halfvol.

Nou wat moet ons dan doen?

Die antwoord is: Net mooi niks! Paulus leer vir ons in Rom. 3 dat ons van nature so geneig is tot die kwaad dat self ons beste pogings om ons lewens te herstel,  gedoem is. Die skrywer Heinie Arnold het gesê: “Solank as ons dink ons kan onsself red, maak ons ʼn fout. Hoe harder jyself probeer, hoe sterker maak jy die bose in jou”.

Daar is maar een uitweg: Mat 11:29-30
“Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.”

Ware rus en vernuwing is in Christus.

Maar steeds sukkel ons soms. Richard Forster het 3 redes gegee waarom gelowiges sukkel om volhoubaar naby God te leef:
1.    Hulle twyfel of ʼn dieper geestelike lewe en ʼn lewe naby God enigsins moontlik is. Hulle eie onvolmaaktheid wil hulle laat glo dat hulle maar tevrede moet wees met ʼn middelmatige lewe. Uit die Woord weet ons dat dit nie waar is nie. Paulus self bid vir die Efesiërs dat hulle geestelike diepgang sal ontvang.
2.    Die 2de probleem is dat hulle dink geestelike volwassenheid gaan maklik kom. Daarom is mense so lief vir resepte en programme. Ten diepste besef ons dat niks wat regtig ʼn invloed op jou lewe het kom maklik nie, maar glo dit nie altyd nie. Dit is op hierdie punt waar mense leer om oppervlakkig te wees.
3.    Die 3de probleem is dat ons mense net nie weet hoe nie.

Wat moet ons doen vir geestelike vernuwing ?

Moet ons nou weer ʼn wilsbesluit neem soos mense soos bv. ons nuwejaarsvoorneme? Nie heeltemal nie. As ons volhoubare geestelike vernuwing in ons lewe begeer, moet ons God toelaat om self ons lewens te vernuwe op sy eie manier en tyd. Hoe laat ek Hom toe? Deur jou hart en lewe vir Hom oop te maak dat Hy dit kan vernuwe.
Ons doen dit deur geestelike dissiplines of nuwe geloofsgewoontes aan te leer. Deur ʼn nuwe leefwyse maak ons die deur van ons hart vir God oop om ons te verander soos Hy wil.
Geestelike dissiplines is nie maar nuwe wette nie, dit is ʼn lewenstyl in die teenwoordigheid van God.

Richard Forster (Celebration of discipline.)praat van 3 groepe dissiplines:
Dissiplines na binne – soos gebed, meditasie, vas en studie;
Dissiplines na buite – soos eenvoud, diens, oorgawes, en
Gesamentlike dissiplines, soos kerkgang, aanbidding, musiek en feesvier

Adele Calhoun  (Spiritual Disciplines Handbook) verdeel die dissiplines in 6 groeperinge (met ongeveer 60 dissiplines): Aanbidding, oopstel vir God, uitwissing van eie valsheid, jou lewe met ander deel, luister na die Woord, uitleef van Jesus se liefde en gebed.

Dallas Willard (Renovation of the heart) noem 6 veranderinge waardeur jy moet gaan nl. Verander van denke; gevoel, hart, liggaam, sosiale lewe en siel.

Kent Ira Groff (Active Spirituality)praat van die dissipline van die geloofsgemeenskap; dissipline van afsondering; dissipline van hart en verstand; dissipline van diens; en dissipline van roeping .

Trevor Hudson (Signposts to Spirituality) lig  10  bakens uit vir ‘n lewe naby God. Die volgende word o.a. genoem: Christelike geheue; ontvanklik wees vir die koninkryk; liefde vir ons naaste; om God se roeping te ontdek; beoefening van die teenwoordigheid van God ens.

Met hierdie kort samevatting van die boeke, doen ek eintlik ʼn onreg aan die ongelooflike geestelike rykdom van elkeen van die skrywers. Dit is die moeite werd om elkeen (daar is ook heelwat ander) deeglik te bestudeer. Almal het een boodskap in gemeen.  Jy moet Bybelse geloofsgewoontes aanleer wat jou lewe vir God beskikbaar stel- sodat Hy jou al hoe meer kan vernuwe.

Ek dink dis belangrik om nooit uit die oog te verloor dat dit hulle persoonlike geestelike reis is wat hulle met ons deel nie. Jy kan nie maar ʼn ander persoon se geestelike reis net so dupliseer nie. Jy sal ʼn fout maak as jy iemand anders se geestelike reis slaafs probeer navolg. Dan is jy maar weer waar jy was toe jy uit jou eie probeer het.
Die enigste ware dissiplines of geloofsgewoontes wat jy volhoubaar gaan beoefen, is die wat jy self deur die werking van die Heilige Gees en deur gebed – in die Woord van God gaan ontdek.

Begin dus om erns te maak met die Bybel en gebed. Dit is hier waar jy die dissiplines en geloofsgewoontes gaan ontdek wat die Heilige Gees vir jou vernuwing nodig het !!!!

Andrew Murray – ‘n Geestelike vader van gebed

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Andrew Murray (9 Mei 1828 – 19 Jan. 1917) is die tweede van 16 kinders van Andrew Murray snr. (1794-1866). Sy vader, Andrew Murray snr. (van Skotland afkomstig) was  vir  44 jaar op Graaff-Reinet predikant.

In die herkoms van Andrew Murray se moeder is daar spore gevind van die Franse Hugenote, sowel as die Duits Lutherse kerk. Hy en sy ouer broer John is deur hulle Pa na Aberdeen (Skotland) vir skoolopleiding gestuur. Daar het hulle by hul oom Dr John Murray tuisgegaan. Hulle studeer later in Utrecht waar hulle lede van die herlewingsorganisasie “ Het Réveil” word. Die beweging het sy onstaan te danke aan die weerstand wat  mense destyds gehad het teen die eensydige rasionele teologiese rigting wat in Nederland deur die kerk gevolg is. In 1848 keer hulle terug na Kaapstad. Andrew se ouer broer John word in 1857 saam met NJ Hofmeyer as die eerste teologiese dosente op Stellenbosch benoem.

Andrew self word in 1849 predikant in Bloemfontein. Daarna het hy in Worcester, Kaapstad en Wellington gedien. Hy was 6 keer moderator van die Kaapse sinode en was onder andere instrumenteel in die stigting van die sendingopleiding op Wellington, asook die Hugenote seminarium en nog vele ander. Op 78 jarige ouderdom tree hy uit die aktiewe bediening sodat hy sy volle aandag aan sy skryfwerk kon gee. Hy was in die jare besonder produktief en het na homself verwys as rusteloos tot hy sy gedagtes op papier neergeskryf het. Hy was besonder opgewonde oor die destydse nuwe “paperback” manier van boeke uitgee, want so kan die goeie boodskap nog meer mense bereik. Hy sterf vier maande voor sy 89 ste verjaarsdag. Hy skryf in sy leeftyd omtrent 240 boeke en is vandag nog wêreldwyd bekend vir sy bydraes veral oor gebed en die innerlike geestelike lewe van die gelowige. ʼn Lys van sy boeke kan by verskeie internetskakels verkry word.

Vir Andrew Murray is gebed die basiese grondslag  van ons geloofslewe. Dit is vanuit ons gebedslewe dat ons hele geestelike lewe voortvloei. Jou gebedslewe is die vertrekpunt van jou praktiese geloofslewe. Vanuit jou gebedslewe word die openbare getuienis en diens aan jou naaste gevoed. Wat vir my baie interessant is, is dat sy beste bydraes oor gebed veral in sy latere lewe plaasvind. Dit is vir my opmerklik dat so baie geestelike skrywers, in die latere fase van hulle lewe, juis oor gebed skryf.

Willem Nicol skryf in sy boek “Gebed van die hart” die volgende oor Andrew Murray : “ In my laat tienerjare het Andrew Murray se boeke my meegesleur. As ek nou terugkyk besef ek dit was veral die mistieke element daarin, die innerlike uitnodiging tot ʼn lewe van vereniging met Christus, van onafgebroke gemeenskap met Hom, die uitnodiging om in die heiligdom van God se teenwoordigheid in te gaan”.
Andrew Murray het baie teenstanders uit die rasionele teologie van ons geskiedenis ontvang, veral omdat hy te naby aan die sogenaamde “second blessing” gekom het, maar soos Nicol hieroor opmerk:  Die rasionele benadering van ons vroeë kritiek op Murray het ons eie gebreke blootgelê.

Ek dink vernuwing in die kerk is soms niks anders as ‘n herondekking van jou geestelike wortels nie. Dit is om onder andere weer ons teologiese wortels van ons eie Gereformeerde Vaders te herbesoek. In ons nadenke oor gebed is dit goed om weer die diepe geestelike insigte van Andrew Murray te bestudeer.  Hy het ʼn baie definitiewe invloed op die NG Kerk se teologiese denke gehad. Dit is miskien sy invloed wat balans gebring het en gemaak het dat die transformasie proses in die NG Kerk vandag baie meer hoop het om te oorleef. Oral in die wêreld waar die rasionele teologie eensydig toegepas word, verklein en verdwyn kerke. Andrew Murray se geestelike insigte het ons voordurend daaraan herinner dat die Christelike godsdiens nie net rasioneel is nie.

Vir al die afstammelinge van Andrew Murray en sy broers en susters, wat in hierdie dae ʼn groot Murray familie fees vier, mag die Here julle in die tyd van feesvieringe baie dankbaar maak. Ons as lede van die NG Kerk (selfs die wie se teologiese aksente van Andrew Murray verskil) is geestelike afstammelinge van Andrew Murray. Ons is baie dankbaar teenoor die Here vir die geestelike nalatenskap van hierdie merkwaardige man.