Posts Tagged ‘verwagting’

Dankbaarheid en Verwagting

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Dit is vandag “Thanksgiving Day” in Amerika.  Afgesien daarvan dat ek nou nie vreeslik mal is oor kalkoen nie, is dit nogeens ‘n gesekulariseerde kommersialisering van ‘n gebruik wat tradisioneel eeue gelede ontstaan het as ‘n godsdienstige geleentheid van dankbaarheid vir die oorvloedige oes wat die Here voorsien.  En tog bring dit elke jaar die geleentheid vir gemeentes om die sekularisering en kommersialisering teen te werk met die manier waarop ons dit vier.  Hier in Oil City het ons gisteraand ‘n gesamentlike (ekumeniese) erediens gehad wat deur al die kerke ondersteun is.  Ek het die geleentheid gehad om aan die hand van Habakkuk te preek.  Habakkuk se uiteindelike berusting in wat die Here in die toekoms gaan doen ten spyte daarvan dat dit mag beteken dat daar geen oes gaan wees nie het die ideale geleentheid geskep om te fokus op of ons die Here dien vir wie Hy is en of ons die Here dien vir Sy seeninge alleen.  Kan ons hom vertrou vir die toekoms ongeag die uitkoms daarvan of kan ons Hom net raaksien as die toekoms ontvou soos ons dit graag wil he?

Na die tyd vertel ‘n vrou my dat sy nou al vir jare probeer om haar seun se toekoms te beheer en dat sy besef sy het ‘n ondankbare mense geword a.g.v. haar neiging om God se toekoms vir Hom te probeer reel.  Ek het net weer besef dat die verband tussen dankbaarheid (“thankfulness”) en verwagting (“anticipation”) bitter moeilik is in ‘n gesekulariseerde kultuur.  As jy ten diepste dink dat die toekoms die uitkoms is van menslike pogings, dan kan jy alleen dankbaar wees wanneer dit uitwerk soos jy dit beplan het, en dan pas die Here in die prentjie in as die een wat daai pogings geseen het (al dan nie).  So ‘n wereldbeeld leef in die voortdurende spanning en angs dat die toekoms nie gaan gebeur soos beplan nie, en dankbaarheid (al dan nie) kan alleen geskied afhangende van hoe die uitkoms in die verlede of hede bepaal is.  Dit is die tragiese implikasie van ‘n gesekulariseerde “buffered self” wat geen invloed verwag van buite die self nie (soos Charles Taylor dit beskryf in sy “The Secular Age”).  Maar hoe lyk dankbaarheid as dit gewortel is in ons verwagting/antisipasie dat God op sy eie terme Sy toekoms tussen ons gaan voortbring ongeag of dit gaan lyk soos ons dit verkies of nie?  Iewers tussen Habakkuk 2 en 3 het Habakkuk klaarblyklik iets daarvan verstaan.