Posts Tagged ‘volle aandag’

OUERS VERTEL HOE HULLE NA KINDERS LUISTER

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

  • “Ek moes eers leer om my mond toe te rits”, vertel die eerste ouer. As haar kind nog net begin het om van ‘n probleem te vertel, was sy gereed met ‘n moontlike oplossing.  Sy het gedink sy was ‘n puik ouer. Haar kind was nie dankbaar nie, en het meesal geïrriteerd reageer met: “Ma verstaan nie”.  Sy het nou geleer om enduit te luister en om nie altyd oplossings aan te bied nie.
  • Nog ‘n ouer vertel dat hy moes leer om op te hou om televisie te kyk – dit selfs af te skakel, om met volle aandag na sy kind te luister. Interessant genoeg word probleme nou gouer opgelos en los sy kind dikwels sy eie probleme op voordat hy ‘n woord sê. Bloot die feit dat sy ouer met onverdeelde aandag luister, help hom om self oplossings te vind. Hy bieg dat dit voorheen dikwels gebeur het dat hy later nie mooi kon onthou wat Jannie vertel of gevra het nie. Hy verstaan nou dat dit nie onmoontlik is om gelyktydig aan die televisieprogram en sy kind aandag te gee. Hy bieg ook dat hy nie altyd gedink het wat sy kind sê is so danig belangrik nie. Nou verstaan hy dat, al is dit nie vir hom belangrik dat Jannie se maatjie vandag by die skool lelik met hom was nie, is dit vir Jannie baie belangrik. Pay doen nou sy bes om met sy lyf, oë, ore en hart te luister.
  • ‘n Ma vertel dat sy moes leer om oogkontak te maak.  Voorheen het sy dikwels voortgegaan met kos maak, en terwyl sy met een oor na haar kind geluister het, het sy ook gekonsentreer op wat nog in die kospot moes kom. Grietjie het dan haar storie tot vervelens toe oor en oor vertel, omdat sy die gevoel gehad het dat haar ma nie werklik hoor nie. Nou skakel sy die stoof af, kyk vir Grietjie in die oë en luister met volle aandag. As dit nie moontlik is nie, belowe sy dat sy sal luister sodra die pot aan die kook is. Sy sorg dat sy dit nie  vergeet nie.
  • Nog ‘n ma vertel dat sy ‘n baie sensitiewe dogtertjie het. Sy weer, het ‘n baie sterk en harde stem en soms het haar kind gedink sy raas, terwyl sy eintlik net gepraaat het. Sy let nou baie meer op haar stemtoon en vind dat Anke baie nader aan haar beweeg en haar storietjies met meer vrymoedigheid vertel. Sy het ook geleer om na haar kind se liggaamstaal te “luister”. Bloot deur te leer om goed na Anke se liggaamshouding te kyk, kry sy ‘n goeie idee van hoe dit in die skool gegaan het.

Volgende keer gesels ons oor die waarde “mm” en “eggo”.

Lees ook die vorige insetsel: Die “Waarheid” oor “Waardes” of ook hierdie artikel oor waardes