‘n Visie van ‘n kerk wat besig is om te sterf …

Written by Manus Olivier on . Posted in Uncategorized

My vriend,

Ek kom vanoggend met ‘n skok tot die ontdekking.  Ons is mos besig met ‘n visie vir ‘n kerk wat besig is om dood te gaan.  Of so glo ons dalk onbewustelik, maar wil dit net nie ruiterlik erken nie.

Hoekom sê ek so?

Ek stap op hierdie Vrydag 24 Augustus in Windhoek.  Dis ‘n lang storie hoekom ek hier is, maar ek sal eendag vertel.  Ek stap van die inkoopsentrum, Marua Mall, na die NG Kerk in Namibië se ou kinderhuis.  Die kinders is nog daar, maar hulle is tans besig om ‘n nuwe kinderhuis te bou.  Terwyl ek so in Feldstraat stap, sien ek een na die ander gebou aan die oprig.

Dis toe dat ek my morsdood skrik, want ek sien ‘n onheilspellende prentjie.  Ek mag verkeerd sien, maar ek dink tog nie so nie.  Die prentjie wat ek sien is van ‘n kerk wat besig is om dood te gaan, en dit word so bestuur, sodat die nageslag nie nodig sal hê om die begrafnis te doen nie, maar dit word sommer deur die huidige geslag gedoen.

Terwyl ek deur Feldstraat stap dink ek:

Hoekom ontwikkel ander, en ons nie?  Ek praat nie net van besighede nie, ek praat van kerke.  Hier in die dorp waar ek bly het ‘n kerk nie van hulle grond ontslae geraak nie, maar saam met ‘n ontwikkelaar ontwikkel, en hulle en hulle oumensies trek voordeel daaruit.

Ek dink toe dat ons manne en vroue met visie verloor, omdat ons as kerk net wil oorleef, en nie meer regtig glo in ‘n God wat deur Sy Gees vandag leef, in ons, onder ons en deur ons nie.  Ons verloor ook die stem van die visioenêre God deur Sy Gees.  Ek wonder of ons nog regtig glo dat Hy vandag nog lewend aanwesig is, en werk in en deur Sy kerk?

Wel ek moet self erken, ek het dit self nie juis geglo nie.  Ek het dit vermoed, soms van gehoor, soms beleef, maar nooit regtig van harte geglo nie. Party dae het ek gewonder, waar is Hy en waarheen is Hy met my op pad, as Hy dan daar is.

Dit was juis die tyd dat ek probeer het om Sy werk namens hom te doen, en nie te fokus op die werk wat Hy vir my bedoel het nie.

Ek is vandag in my hart oortuig dat ons ‘n kerk bestuur wat ons glo, nie dat ons dit sal wil erken nie, dood is.  Ons hoop is net dit, sagkens gestel, dat ek aftree of doodgaan voordat die kerk in sy kanon in is.  Ek het al hoeveel keer bewustelik by myself gedink, ek hoop net die gemeente kan jou finansieel dra tot jy aftree, daarna kan dit maar….

Ek is vandag van harte oortuig dat ons vergaderings en besluite nutteloos is.  Skuus, dalk is dit te kras gestel.  Die vergaderings is nie heeltemal nutteloos nie.  Ons kuier darem tussen die nutteloosheid deur, terwyl ons die geld van die vergaderings vir iets beters kon gebruik het.  Soos om armoede te verlig en een persoon iewers namens ons almal die sinlose besluite kon afteken.  Die besluite wat ons neem is om die dood van die kerk te verhaas en nie die lewe nie.  Ons het ‘n gebrek aan visie.

Néé, ons het visie, maar ‘n visie van ‘n kerk wat besig is om dood te gaan.

Dit is sekerlik ‘n kras stelling om te maak, maar dan moet dit so wees.  Ek kan nie anders nie, en ek kan nie meer stilbly nie.  Ek het ‘n storie om te vertel en dit moet uit.

Hoekom sê ek, sien ek, beleef ek, het ek ‘n prentjie van die NG Kerk in Namibië wat besig is om dood te gaan?  Dalk nie net die NG Kerk nie, maar die kerk in die algemeen.

Kommunisme is dood, is dit nie?  Groot besighede van die verlede is dood.  Maar nou wat het dit met die kerk en dan die NG Kerk in besonder te doen?

Ek sien die prentjie van iemand wat met visie ‘n kerk, of besigheid begin, of nuwe gebou, of wat ook al begin.  Dit vra visie, opoffering, tyd, inspanning, deursettingsvermoë en ‘n klomp ander goed.  Soos die jare verbygaan, raak daar nuwe mense betrokke.  Hulle hou van die visie, hou van die organisasie, hou van die kerk, sy eredienste en diens in die algemeen.  Hulle is egter nie die draers van die vise nie, maar bewakers, bestuurders, doodgoeie dominees en lidmate.

Hulle het nie die visie nie, maar bewaar dit totdat dit heeltemal te sterwe is.  Hulle beskerm dit ten alle koste, maar herontdek dit nie opnuut nie, bou dit nie uit nie.

Dit laat my dink aan die visioenêre leiers, die “apostels” wat die kerk hier kom bou en vestig het.  Die Ds Leonard’s en ander.  Ds Kobus de Klerk, wat meer gegee het as wat hy moes, reuse tree, wat ek maar kan poog om na te volg.  Dis reuse van die verlede op wie se skouers ek as dwergie staan.  Hulle het die visie gehad en dit ook uitgeleef.  Hulle en ander het die kerk al hier kom vestig, opgebou, fondse daargestel, en ons, ek en jy?

Ons verkoop, om, ek weet nie om wat te doen nie.  Ons het nie die visie om uit te brei nie, maar net om te verklein.  Of is ek verkeerd?

Ek is oortuig daar is ‘n ander weg, ‘n  weg waar ons weer opnuut luister na God en Sy Gees wat in ons is, en nie na ons bestuursvermoëns en oortuigings nie. ‘n Weg wat nuut, vars en kreatief is, want dit is hoe God werk.

My vriend, ek het ‘n visie, nie vir ‘n kerk wat besig is om dood te gaan nie, maar vir een wat lewe, want God lewe in en deur ons, maar die vraag is:

Lewe ek?

Of is ek dalk al dood.  Alhoewel ek nog net vir aftrede en die dood wag.

Dit laat my dink aan die spotprentjie wat jare terug in die Beeld, of was dit die Transvaler verskyn het.  In elk geval was dit dalk in my tyd, maar so ietwat voor my tyd.  Dit was die spotprent van ‘n Sinodale vergadering.  Tydens ‘n ernstige bespreking is daar ‘n klop aan die deur.  Die “koster” gaan maak oop en kom noem aan die Moderator dat dit Jesus is, en Hy vra ‘n spreekbeurt.  Die Moderator kyk op sy agenda en gee and die koster die boodskap om vir Jesus te sê Hy moet maar weer oor vier jaar probeer, Hy is nie hierdie keer op die agenda nie.

Ek groet jou met nuwe visie, hoop, geloof en liefde.

Jou vriend

 

NS.  Ek is van harte oortuig dat die kerk van Christus nooit sal sterwe nie, maar die NG Kerk kan dalk uitsterf!

 

 

 

 

 

 

 

 

Trackback from your site.

Manus Olivier

My passie is om mense te help om te ontdek wie God hulle gemaak het om te wees.

Leave a comment