Wat is daar vir die kerk en gemeentes uit die 2014 verkiesing te leer?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes, Gestuurdheid, Leierskap, Padlangs met gemeentes, Transformasie, Uncategorized

Ek waag vanaand! Daar is al heelwat ontleding oor die uitslag van die verkiesing gedoen. My bydrae probeer nie op die uitslag fokus nie maar op die prosesse in en rondom die verkiesing om te probeer verstaan wat in ons land aan die gang is.
1. Die persentasie kiesers wat gestem het, was wel ‘n bietjie laer as die verkiesing van 2009, maar het nogtans die verwagting van die OVK ver oortref. Die proses is gekenmerk deur lae vlakke van geweld as in ag geneem word hoe vel die verkiesingstryd was. Iemand het opgemerk dat daar minder geweldadige insidente was as in die VSA se laaste verkiesing! Die mense wat voorspraak gedoen het om stembriefies te bederf het nie hond haaraf gemaak nie. Die getal bedorwe briefies was klaarblyklik min of meer dieselfde gewees as met vorige verkiesings. Sou ‘n mens kon aflei dat mense oor ‘n breë spektrum genoeg omgee en glo in die toekoms van ons land dat hulle in groot getalle moeite gedoen het om te gaan stem? Indien ek reg is, wil ek voorspel dat gemeentes wat net vir eie belang en voortbestaan aanspraak maak op mense se ondersteuning en lojaliteit, minder en minder ondersteuning gaan kry.

2. Dit wil lyk asof Suid Afrikaners ‘n behoefte het aan publieke deelname van prosesse of byeenkomste van nasionale belang. Die Wereldbeker het dit in 2010 gewys, Madiba se begrafnis en nou weer met die deelname aan die verkiesing. Nie alleen het ‘n verassende persentasie mense deelgeneem nie, maar die oorweldigende kommentaar was dat mense dit “geniet” het om te stem. Ek kan my aan min ander lande indink wat mense met soveel vreugde stem en dit as lekker beskryf. Kan dit wees dat daar ‘n behoefte by Suid Afrikaners is om mekaar te ontmoet in publieke ruimtes waar ons saam deelneem aan prosesse? Ek onthou nog baie goed hoe Suid-Afrikaners mekaar omhels het toe Thabalala daardie eerste doel in die 2010 wêreldbeker geskop het. En die eerste keer toe die Blou Bulle in Soweto gaan rugby speel het, en nie net rugby gekyk het nie, maar heerlik gekuier het in Wilakazistraat se restaurant.

‘n Paar weke terug het ek dieselfde ervaar met die optog in Kaapstad voor die verkiesing. Ek hoor van ‘n groep predikante wat in Parow ‘n gesamentlike diens op Palmsondag gehou het waar ‘n tiental gemeentes van verskillende kante van die spoorlyn saam kerk gehou het en hoe lekker dit vir almal was toe ‘n paar honderd mense na die kerk op die grasperk saam geëet het.

Is dit nie nou tyd om uit ons woonbuurtes te kom en saam publieke prosesse te ondersteun wat die eenheid tussen Suid-Afrikaners verder bou nie?

 

3. Die Cape Times se hoofartikel Vrydag 9 Mei was: Here’s to being normal. Die demokratiese proses het duidelik ‘n reuse tree vorentoe gegee in SA, sê die koerant. Die verkiesing was uit ‘n nuus oogpunt eintlik “boring” gewees omdat alles so normal verloop het. Vir ‘n jong demokrasie is die verkiesingsproses en die deelname van die gemeenskap eenvoudig wonderlik oop en regverdig. Natuurlik was daar geweld, het mense seergekry en is daar ook mense dood en dit is jammer, maar dit was dit uitsondering en nie die reel nie. Op ‘n manier was dit veiliger in die verkiesingstou, hoewel die samelewing mekaar daar in haar volle diversiteit ontmoet het, as in ons woonbuurtes. Verby is die dae wat ons gevrees het met die eerste optogte van die vroeg neentigerjare net na die ontbanning van die bevrydingsbewegings. Het jy van iemand gehoor wat voor of tydens hierdie verkiesing kos opgepot het uit vrees vir wie weet? Nee selfs nie die mees konserwatiewe of radikale groepe kon so iets uitdink hierdie keer nie.

Begin ons sien dat dit nie net veilig raak om deel te neem aan publieke prosesse nie, maar die normale of die regte ding om te doen. Hoewel dit onrusbarend is dat die verdelings tussen partye nog baie volgens rasverdeelde grense loop, begin ek al hoe meer waarneem dat ons die volwassenheid ontwikkel om saam deel te neem sonder dat ons met mekaar hoef saam te stem.

4. Sommige ontleders beweer dat dit wil lyk asof patye wat gefokus het om sg negatiewe boodskappe, die uitwys van korrupsie, die gebrek aan dienslewering ens, die kiesers nie goed gelees het nie. Suid Afirkaners is inherent positiewe mense wat goed reageer op konstruktiewe boodskappe beweer een van die analiste. Dalk sien hierdie analis iets raak wat ons predikers moet hoor. Natuurlik het ons profetiese rol wat onreg en korrupsie moet uitwys. En natuurlik moet ons van kansels af sonder om te skroom opkom vir die kwesbares in die gemeenskap.

Maar ons moet ook die visie van die nuwe wêreld, van versoening, van eenheid en van geregtigheid helder verbeeldingryk en entoesiasties laat hoor in hierdie tyd. Ek kan nie onthou dat ek in hierdie tyd gehoor het dat iemand van ‘n kansel ‘n Koninkryksprentjie gegee van hoe dit kán wees in ons dorp of ons stad nie. Die ironie is dat daar nie van ons verwag word om politieke beloftes te maak nie, maar dat ons ons kan beroep op die waardes van die Koninkryk!

Ek hoor veels te veel slagoffer taal van kansels af, of ‘n kwasie pastorale stroopie oor hoe moeilik dit tye is waarin ons leef. Is dit dalk ‘n gereformeerde verstekposisies om in byna elke sitausie te dink ons moet waarsku of simpatie hê met die probleme in die samelewing? Word ons uitgevang dat ons eintlik geen werklike visie het vir ons samelewing nie, en maak daarom maar weer ‘n rugby grappie aan die begin van die erediens?

5. Die oorblyfsels van ou- en voorbeelde van nuwe sosiale onreg en ekonomiese uitsluiting het klaarblyklik groter inpak gemaak op die keuses wat uitgebring is as, swak dienslewering, korrupsie, nepotisme ens. As ‘n mens mooi daaroor nadink moet jy nie verras wees nie. Daar is funamentele probleme tov die uitsluiting van die jonger generasie uit die ekonomie. Daar word beweeer dat die generasie onder 35 van die hoogste vlakke van werkloosheid het in die wêreld en die stemme het dit gewys. Sg mainline kerke word so maklik deel van ‘n bestaande orde, en het daarom meer belang by die middel en hoër ekonomiese klasse dat hulle eerder neig om advokate te word van die ongemak wat die klasse beleef as wat hulle ‘n stem is vir dié wat uitgesluit is uit die ekonomie. Vir ons is dit belangrik dat daar stabiliteit moet wees in ons buurtes en die swak dienslewering ens ontstel ons so dat ons die foutlyne in die ekonomie nie raaksien nie.

6. Partye wat fokus op seksionele groeperinge in die gemeenskap, het byna almal gekrimp óf sywaarts beweeg. Die realiteit is dat ons ‘n mult-ikulturele, multi-talige gemeenskap is in Suid-Afrika. Die realilteit is dat meer en meer Suid-Afrikaners leef in geïntegreerde woonbuurte, hulle kinders gaan na skole wat geïntegreerd is en hulle werk in kantore wat geïntegreerd is vir besighede wat geld maak uit alle Suid-Afrikaners en nie net ‘n deel-groep in die samelewing nie, maar Sondag sit wit bruin en swart dikwels steeds in monokulturêle eredienste. Enige persoon wat ‘n bietjie probeer vooruit kyk maak die som en verstaan dat monokulturele gemeentes in Suid-Afrika eerder sal krimp as groei, soos wat die verkiesing vir ons uitwys. Dit wil lyk assof die partye wat ‘n spesfieke waardesisteem bevorder oor ‘n langer termyn stabiele steun kry of groei. Sommer ‘n kantaantekening- meeste koerante sit hier die pot mis. Bedank daar nou ‘n swart persoon uit die DA, of ‘n wit persoon loop uit die ANC, dan blaas hulle op die vuvuzela van rasverdeling.

 

Die feite is die volgende, meer kiesers het gestem vir partye wat nie noodwendig aan hulle kulturele groep verbind is nie as ooit in die verlede, en ek dink dit is ‘n proses wat na die volgende verkiesingen in ons samelweing in die algemeen  gaan versnel.

7. ‘n Laaste waarneming. Dit wil lyk asof openlike leierskapstryde in die leierskap van ‘n party van die belangrikste faktore is wat veroorsaak dat die steunbasis van ‘n party krimp. In die turbulensie van die transformasie kom daar geweldig baie druk op leiers en hulle vermoë om te kan saamwerk en nie terug te val binne die bekendheid van vorige verdelingslyne nie. Dit vra baie hoë vlakke van self-diffirensiasie, emosionele volwassenheid om kalm te bly wanneer die druk groter raak en die risiko’s verhoog.

 

Om te midde van sulke druk die oog te kan hou op die doelwit en nie fokus te verloor en die spreekwoordelike bal te laat val nie, sal vra vir volwasse leiers. Gemeenteleiers en predikante gaan nie hierdie soort druk kan vryspring nie.

Trackback from your site.

Leave a comment