Lewe in gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees

Written by Frederick on . Posted in SAVGG

Lewe in gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees

Oor Missionêre Teologie

Danie Mouton

 
  • Die vroeë kerk

Lesslie Newbigin (1995:19-29) vertel hoe die teologie van die vroeë Christelike kerk gebou het op die lewe van Vader, Seun en Heilige Gees as die finale en hoogste werklikheid (“ultimate reality”). Die leer van die drie-eenheid vorm, byvoorbeeld, die fondament waarop Augustinus, biskop van Hippo, sy wêreldbeskouing ontwerp het. Sy verstaan van realiteit sou vir meer as ‘n millennium bepalend in die westerse kerk wees.
Vir die kerk van die eerste eeue is die finale werklikheid dus nié die Grieks-Romeinse onbeweeglike, onveranderlike godheid, wat  verhewe is bo alle tyd en ruimte, onkenbaar en passieloos nie. Nee, dit is gegee in die lewende drie-eenheid van Vader, Seun en Heilige Gees: ‘n sosiale God wat binne in God self in liefdevolle verhoudinge leef en verhoudinge skep met ‘n wêreld wat in ‘n intieme relasie tot God staan.
Die wêreld- en Godsbeskouing van teoloë soos Augustinus en Atanasius, trouens die hele Patristiek, neem die wyse waarop die vier Evangelies Jesus aan ons bekendstel as sleutel tot die verstaan van die werklikheid. Neem Markus 1 vers 1 tot 15 as voorbeeld:
1  Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
2  In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak.
3  Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.
4  Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.
5  Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.
6  Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.
7  Hy het gepreek en gesê: Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.
8  Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.
9  Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop.
10  Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal.
11  Daar was ook ‘n stem uit die hemel: Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.
12  Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in,
13  waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.
14  Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig.
15  Hy het gesê: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.

Hierdie trinitariese teks vertel van die handelinge van die drie-enige God as inhoud van die goeie nuus vir die kosmos. Jesus word onder meer aan ons bekendgestel as:
●  Die Een wat die regering (koninkryk) van God aankondig. Hierdie God is uit die Ou Testament reeds bekend as Heerser oor die hele aarde (vergelyk bv. Psalm 96:10).
●  Die Seun van God, draer van die koninkryk wat terselfdertyd in die Naam van die Vader as gehoorsame Seun handel;
●  Gesalf deur die Gees wat soos ‘n duif op Hom neerdaal, presies op die oomblik van sy identifisering met die sondige mensheid by die bediening van Johannes se bekeringsdoop.

In die Grieks-klassieke wêreld met sy oneindige afstand tussen die passielose, onkenbare, onbeweeglike en onveranderlike godheid en die veranderlike, verganklike wêreld was daar ruimte vir tallose semi-goddelike wesens wat die kloof tussen godheid en sigbare wêreld moes oorbrug. In teenstelling hiermee bely die vroeë Christelike kerk (in die heersende filosofiese taal van daardie tyd) dat Seun en Gees homo-ousios met die Vader was – een van wese, ware God in alle opsigte.
Die vroeg-Christelike teologie is ‘n vernuwende respons op die openbaring van die drie-enige God as Lewegewer, Verlosser en Voleinder van die wêreld. God self is intens betrokke by sy skepping, ‘n sosiale God met verhoudinge in God self wat ‘n wêreld in aansyn roep waarmee Vader, Seun en Heilige Gees in die nouste gemeenskap lewe.

  •  In die moderne era

Die Griekse denke het sterk invloed uitgeoefen in die moderne godsbeeld. Vir die moderne lewensgevoel is God óf die deïstiese verre, generiese God van die Natuur (“The Force”, Mother Nature), óf ‘n intieme, familiale, private God (“Jesus in ons harte”).

Veralgemenend gesê, is die lewende, aktiewe, handelende, trinitariese God van die Bybel – so helder deur die vroeë Christelike kerk bely – vir talle gelowiges afwesig. Uit die taalgebruik van kerkmense, soos beskryf deur luisterspanne in gemeentes, blyk hoe selde gelowiges God direk as handelende subjek met ‘n werkwoord verbind. Eredienste, lofprysing en aanbidding word beskryf as iets wat “ons doen”. “Ek aanbid God. Ek beoefen geestelike gemeenskap. Ons sing liedere en bid saam.” So bly God slegs die Objek van menslike handeling. Selde verneem ons dat God iets doen in aanbidding, of in die gemeenskap rondom ons.
Natuurlik glo gelowige mense dat God handel. Die kortsluiting lê by ons vermoë om in die daaglikse ervaring met God se werke rekening te hou en God se handelinge raak te sien. Die hermeneutiese vermoë van geloofsgemeenskappe om God te herken in die gebeure rondom ons, en verbeeldingryk daaroor na te dink – op grond van die Skrifte – is die uitdaging wat voor ons staan (Keifert 2005:30-33).

  •  Missio Dei

God handel in die wêreld rondom ons. Hy is aanwesig, hou die wêreld van oomblik tot oomblik in stand, en oefen sy heerskappy uit. God het ‘n missie of sending in die wêreld.
Dit is werklik belangrik om hierdie beskrywing van missie of sending te onderskei van die heersende sienings daaroor.
Sending is in die afgelope eeue op verskillende maniere beskryf, byvoorbeeld:
●  soteriologies as die redding van spesifieke indiwidue van die ewige oordeel en verlorenheid;
●  kultureel as die uitdra van ‘n Westerse waardestelsel en die voordele van ‘n moderne lewenswêreld aan agtergeblewe mense van die suide en ooste;
●  ekklesiologies as die uitbreiding van die kerklike instituut of spesifieke denominasies;
●  heilshistoriese as die transformasie van die wêreld deur oordeel en vernietiging na die koninkryk van God.
‘n Gemene deler in hierdie beskrywings is dat sending iets is wat dáár, ver van ons gebeur, en deur ‘n paar mense gedoen word wat spesiaal daarvoor afgesonder word. Sending word dan ook ekklesiologies begrond: dit is iets wat die kerk doen ten behoewe van bepaalde mense.
Karl Barth was een van die eerste teoloë wat missie of sending nié in die konteks van die ekklesiologie of soteriologie beskryf het nie, maar in terme van die leer van die drie-eenheid. Missie is ‘n aktiwiteit van God self, dit vloei voort uit die wese van God. Die klassieke verstaan van die missio Dei as die Vader wat die Seun stuur, en die Vader en Seun wat die Gees stuur, is uitgebrei om ‘n verdere beweging in te sluit: Vader, Seun en Gees stuur die kerk na die wêreld.
Sending is deelname aan die sending of missie van God. Sending is nie primêr ‘n aktiwiteit van die kerk nie, maar ‘n eienskap van God. “It is not the church that has a mission of salvation to fulfil in the world; it is the mission of the Son and the Spirit through the Father that includes the church” (Moltmann 1977:64). Sending is die beweging van God na die wêreld.
The primary purpose of the missiones ecclesia can therefore not simply be the planting of churches or the saving of souls; rather, it has to be service to the missio Dei, representing God in and over against the world, pointing to God, holding up the God-child before the eyes of the world in a ceaseless celebration of the Feast of Epiphany. In its mission, the church witnesses to the fullness of the promise of God’s reign and participates in the ongoing struggle between that reign and the powers of darkness and evil (Bosch 1991:391)
Die inkarnasie (die lydende en gekruisigde Christus) bly deurslaggewend in die nuwe trinitariese verstaan van missio Dei. Die kruis staan teenoor menslike triomfantalisme, selfversekering, sukses en magsaansprake.

  • Deelname aan die lewe van die Triniteit (‘n Trinitariese ekklesiologie)

Wat beteken dit vir ‘n geloofsgemeenskap om prakties deel te neem aan die sending van God? Lesslie Newbigin, Britse sendeling en teoloog, beskryf dit as volg (1995:30-65):
4.1  Verkondig die Koninkryk van die Vader: Sending as geloof in aksie
Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin by Jesus wat na Galilea gaan en sê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14,15)
Die aankondiging gaan oor die regering van God, die Een aan wie die skepping en die geskiedenis haar bestaan te danke het. Die Een wat hierdie aankondiging maak, was by God, ja, was God van ewigheid af, die Woord waardeur alles tot stand gekom het (Johannes 1). Daarom raak Jesus se aankondiging die bron en doel van die hele kosmos.
Wanneer mens Jesus se aankondiging oor God se regering spieël in die Bybel, wat die struktuur het van ‘n geskiedenis van die kosmos, en jy verstaan dat die Bybel handel oor die voltooiing van God se doel met die skepping van die wêreld, die werke van God om die skepping tot haar finale doel te bring, word dit duidelik dat die koninkryk van God nie maar ‘n nuwe beweging is waarby mense kan aansluit nie. Dit is nie ‘n nuwe krag of mag wat mense natuurlikerwys kan raaksien en wat progressief en self-evident alle opponerende magte deur groeiende voorspoed uitwis nie. Die koninkryk is ook nie ‘n manier waarop die “verloste siel” van die wêreld gered word nie – uit die wêreld ontsnap nie.
Wat is die aankondiging van die koninkryk in ‘n positiewe sin? Die regering van God is ‘n publieke feit van belang vir alle mense:
…the coming of Jesus has introduced into history an event in which the reign of God is made known under the form of weakness and foolishness to those whom God has chosen to make it known, and that is made known to them so that it may be proclaimed to all. Because it is the reign of God that is proclaimed, it is the true secret of universal and cosmic history. It is not a program for private deliverance but is the hidden reality by which the public history of humankind is to be understood (1995:37).
Die kerk neem deel aan God se missie om die wêreld tot voltooiing te bring deur te getuig dat God in Jesus beslissend gehandel het, dat sy regering teenwoordig is. God is aktief besig in die geskiedenis, maar sy werke is verborge onder die oënskynlike teendeel daarvan: lyding en verdrukking. Die geheim van God se werk is toevertrou aan diegene wat God gekies het om getuies daarvan voor die nasies te wees. Dit is die Gees self wat hierdie getuienis bewerk deur die kerk. Die getuies is geroep om getrou te bly tot die einde toe. Deur geloof weet hulle dat die regering van God die magte van boosheid oorwin het. Hul roeping is om hierdie feit aan al die nasies te verkondig. Die kragtige getuienis van die Gees is teenwoordig in die kerk se getuienis, die Gees wat juis hul lyding en verwerping sal gebruik as geleentheid om die Gees se getuienis af te lê.
4.2  Deel in die lewe van die Seun: Sending as liefde in aksie
Jesus doen meer as om net die koms van die regering van God aan te kondig: Jesus beliggaam die teenwoordigheid van die koninkryk van God in sy persoon en bediening. Dit word duidelik uit die wyse waarop Jesus die Ou Testamentiese verwagtinge oor God se regering in sy optrede teenwoordig stel: Hy bring vergifnis, genesing, oordeel, oorwinning oor die bose – shalom.
Het die aanwesigheid van die regering van God in Jesus met sy hemelvaart geëindig? Newbigin verwys na die instelling van die nagmaal (sinoptici) en die laaste gesprekke tussen Jesus en sy dissipels (Johannes) om aan te toon dat die regering van God nie net deur die geloofs¬gemeenskap verkondig moet word nie, maar ook in die lewe van die kerk teenwoordig is.
Tydens Jesus se verskyning aan sy dissipels na sy opstanding (Johannes 20:19-25) hoor die dissipels: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Hulle ontvang die opdrag en gesag om die vergifnis van sonde deur hul getuienis in die konkrete situasies van mense moontlik te maak. Op hierdie manier maak hulle vrede (shalom) moontlik, en is die regering van God in die lewe van die kerk teenwoordig.
The church represents the presence of the reign of God in the life of the world, not in the triumphalist sense (as the “successful” cause) and not in the moralistic sense (as the “righteous” cause), but in the sense that it is the place where the mystery of the kingdom present in the dying and rising of Jesus is made present here and now so that all people, righteous and unrighteous, are enabled to taste and share the love of God before whom all are unrighteous and all are accepted as righteous. It is the place where the glory of God … actually abides among us so that the love of God is available to sin-burdened men and women (John 17:22-23). It is the place where the power of God is manifested in a community of sinners. It is the place where the promise of Jesus is fulfilled: “I, when I am lifted up from the earth, will draw all men to myself” (John 12:32). It is the place where the reign of God is present as love shared among the unlovely (1995:54).

4.3  Draers van die getuienis van die Gees: Sending as hoop in aksie

Indien sending:

•  die verkondiging van God se koningskap oor die volle menslike geskiedenis en die hele kosmos is, en alles wat God  begin het tot voltooiing bring;

•  die teenwoordigheid van God die Seun in die kerk is;
moet ons vra waar die energie en dryfkrag vir sending vandaan kom.
Newbigin wys daarop dat sending nie die eiendom van die kerk is nie. Dit is nooit tuis, domesticated in die kerk nie. Sending is nooit die self-vermenigvuldiging of self-voortsetting van die kerk nie. Die aktiewe Bewerker van sending is die Gees van God. “Mission is … something that is done by the Spirit, who is himself the witness, who changes both the world and the church, who always goes before the church in its missionary journey” (1995:56). Naas die proklamasie en die presensie van die koninkryk noem Newbigin dit die prevenience of die previousness van die koninkryk.
Wanneer die Bybel na die werk van die Gees deur die getuienis van die kerk verwys, is dit opvallend dat die kerk nie as magtig, oorweldigend, effektief of suksesvol geteken word nie. Dit is nie asof van kerklike mag en wysheid verwag word om die magte en wêreldse wysheid te oorwin nie. Inteendeel: dit is die Gees wat die kerk tegemoetkom, leer, vorm, en die woorde gee wat gespreek moet word. Die werklike oorwinnings van die evangelie kom dwarsdeur die geskiedenis voor wanneer die kerk nié wêrelds sterk is nie, maar getrou gebly het aan die evangelie te midde van swakheid, minagting en verwerping. Daarom is sending hoop in aksie.
The church is … not in control of the mission. Another is in control, and his fresh works will repeatedly surprise the church, compelling it to stop talking and listen. Because the Spirit himself is sovereign over the mission, the church can only be the attentative servant. In sober truth the Spirit is himself the witness who goes before the church in its missionary journey. The church’s witness is secondary and derivative. The church is witness insofar as it follows obediently where the Spirit leads (Newbigin 1995:61)

As hoopvolle getuienisgemeenskap is die kerk daarom ‘n gebedsgemeenskap. Afhanklikheid van die drie-enige God, soos dit blyk uit ‘n lewe van gebed, kenmerk ‘n missionêre geloofsgemeenskap.

  • Kerk en koninkryk

Die kerk is nie identies met die koninkryk nie, maar verteenwoordig die koninkryk as teken, voorsmaak en instrument. As missionêre gemeenskap van die koninkryk word die kerk gestuur om deur haar bestaan (wees-funksies) en handel (doen-funksies) die koninkryk te dien as:
•  Teken: Die kerk is ‘n stad op ‘n berg wat die wêreld aan die komende ryk    van God herinner.
•  Instrument: die kerk word medewerkers van die koninkryk van God genoem (Kol 4:11).
•  Voorsmaak: die kwaliteit van die verloste lewe in die kerk gee ‘n voorsmaak van die komende ryk van God.

Trackback from your site.

Leave a comment