{ARGIEF}

 

Gemeenteleiers ervaar toenemend dat hulle lidmate in ‘n ander wêreld leef as die een waarin “kerkmense” leef. Dit is byna soos twee verskillende kulture. Daar is baie maniere om hierdie verskuiwing te probeer verstaan- een hiervan is om te verstaan dat die Christendom-tydperk wat sedert die 4de eeu wêreldtyd gegeld het,  besig is om tot ‘n einde te kom.

Dit beteken konkreet dat die kerk nie meer in die sentrum van ons gemeenskappe en mense se lewens is nie.  Ons voel dit elke dag aan ons lyf in die gemeente en is nie altyd seker wat is besig om te gebeur nie, en of dit nie einde van die kerk is nie.  Ek dink soms dat baie Christene sekerder is van daarvan dat die kerk sterf as wat hulle glo dat God besig is om iets nuuts te doen.

Hier is ‘n paar prentjies van wat gebeur as mense uit die post-christendom wêreld kontak maak met die kerk:

  • Mense daag by die kerk op wat Bybels ongeletterd is.  Jesus en Moses is vir baie dalk broers!  Hulle ken eenvoudig nie die verhale van die Bybel nie, laat staan nog die Belydenisskrifte!
  • Hulle is kerklik onbekend en weet nie lekker hoe om hulle te gedra in die kerk nie- ons tree vir hulle vreemd op, sing vreemde liedere en dit alles laat hulle so ongemaklik voel by ons dat hulle liewer wegbly. Geen mens hou daarvan om aanmekaar te voel ek is nie goed genoeg nie.
  • Hulle wantrou die kerk as instelling want hulle enigste bron tot inligting oor die kerk is die wat hulle in die openbare pers van ons lees. (Terloops, die sekulêre pers het klaar besluit het dit is klaar met die kerk en dat die gemeenskap beter daaraan toe is sonder die kerk en daarom verkies  hulle om slegte nuus oor die kerk te  publiseer.)  As hulle  ‘n erediens bywoon sal hulle wonder wie van die leiers steel die geld en watter ouderling loop waar rond wat niemand van weet nie.
  • Hulle voel skaam, want sonder dat ons dit bedoel, laat die kerk hulle skaam voel omdat hulle so min weet van die Bybel en hoe die kerk werk. As hulle kerk toe kom voel dit asof almal net vir hulle kyk!
  • Hulle kom wel nou en dan kerk toe omdat hulle baie stres in hulle lewe ervaar en hoop dat die kerk vir hulle sal help, maar dan stuur ons ‘n diaken wat by hulle kollekteer en vertel by watter wyk hulle ingedeel is. Die misverstand is enorm.
  • Hulle geestelike honger is on-gedefenieer en hulle sal geneig wees om enig-iets wat geestelik lyk te aanvaar as die waarheid en voel dan gou verward deur die verskille tussen christene.

As die prentjies hierbo bekend lyk(dalk het ek hierbo jou kind of jou man of vrou beskryf) en jou moedeloos laat voel oor die toekoms van die gemeente, is daar goeie nuus.  Daar was ‘n tyd wat die kerk nie mag gehad het en nie in die sentrum van die gemeenskap geleef het nie.  Die eerste 4 eeue was so ‘n tyd.  In hierdie tyd was die kerk oral ‘n minderheidsgroep wat geen mag gehad het nie.  Hulle kon nie vir die burgermeester of skoolhoof of regering vra om hulle goedgesind te wees nie, maar hulle kon wel en het hierdie mense liefgehad en gedien.  Hierdie tyd word allerweë beskou as een van dié mees merkwaardige tye van die kerk se geskiedenis.  Die kerk het in hierdie periode geweldig gegroei! Sien God werk nie deur mag en geweld nie, maar deur dissiples wat in liefde mense dien.  Dit is so eenvoudig soos dit.  Ons sien vandag God nie meer werk nie, omdat ons dit graag wil sien in die mag-strukture van die kerk, soos getalle by ‘n erediens, of geld in die bank van die gemeente, of kinders by die kategese of vroue by die vrouediens. As ons  die bril opsit van die eerste gemeentes sal ons God oral in ons gemeenskap aktief sien werk!

Die einde van die christendom is nie die einde van die kerk en jou gemeente nie, daar is ‘n lewe vir die gemeente en christene moontlik maar dan sal ons bereid moet wees om weer sout, lig en suurdeeg in die gemeenskap te wees sonder om weer ‘n eie magsposisie te probeer opbou in die gemeenskap.

‘n Eerste tree is om met onvoorwaardelik liefdes-verhoudings te bou met mense buite die gemeente sonder om van hulle te verwag om iets vir die kerk te doen.  Jy sal verbaas wees watter nuwe moontlikhede na vore kom?

‘n Tweede tree is om eenvoudig vir God te vra- Here na wie toe stuur u my/ons.  As jy meer hieroor wil weet lees Lukas 10:1-11.