‘N JAAR SE REÉNVAL IN EEN WEEK

Written by webmeester on . Posted in SAVGG Artikels

Dit was lekker om verlede week na die wêreldbekende gespreksgenoot in die emergent church beweging in die VSA, Brian McLaren
te luister. In ‘n gesprek met hoofsaaklik jongmense en studente in die
Stellenbosse Moederkerk, het hy gebeure in Honduras toe ‘n jaar se
reënval in een week geval het, as metafoor vir die groot oorgange in
die wêreld se geskiedenis gebruik. Die hoë reënval het bv. tot gevolg
gehad dat ‘n rivierloop totaal verander het, sodat die voormalige brug
oor die rivier op droë grond langs die rivier beland het. Die struktuur
– wat voorheen as ‘n brug bekend was – het behoue gebly as blote
toeriste-attraksie.

Histories het dit verskeie kere in die wêreldgeskiedenis gebeur dat
verandering net so gekonsentreerd as ‘n jaar se reënval in een week
“gebeur” het. Vir die kerk het dit telkens geweldige implikasies gehad.
Ons leef ook tans in so ‘n tyd. Opvallend genoeg het die studente byna
letterlik aan “die middeljarige kaalkop-ou met sy Buddha-magie” (soos
hy homself beskryf) se lippe gehang. Ten spyte van groot veranderinge –
tsunami’s – het die Christelike geloof altyd merkwaardig soepel gebly
en voortgeleef. Hierdie soepel skuiwe is gefasiliteer deur mense wat óf
jonk óf relatief nuut binne die heersende (ou) paradigma was. Johannes
Calvyn, wat sy Institusie tussen 19 en 25-jarige leeftyd geskryf het,
is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Mense wat tuis is in een gestalte
daarvan, het telkens die ergste verwag, en is verkeerd bewys.

McLaren is krities oor die sake wat die sentrale aandag op kerklike
agendas haal. In die VSA word die kerk bv volgens ‘n ondersoek verbind
aan ‘n anti-gay standpunt. Maak nie saak wat jou standpunt oor
homoseksualiteit is nie, sê McLaren, die rooi ligte flikker wanneer
mense buite die kerk jou primêr as ‘n instansie begin sien wat teen
persone met ‘n homoseksuele oriëntasie gekant is.

Hy is ‘n voorstander van ‘n “generous orthodoxy” – ‘n posisie van
‘n waarderende houding teenoor die hele Christelike tradisie in al sy
gestaltes. A generous orthodoxy is ook die titel van een van sy nuwer
boeke waarin McLaren verduidelik: Why I am a missional + evangelical +
post/protestant + liberal/conservative + mystical/poetic + biblical +
charismatic/contemplative + fundamental/calvinist + anabaptist/anglican
+ methodist + catholic + green + incarnational +depressed-yet-hopeful +
emergent + unfinished CHRISTIAN. Klink dit na ‘n vreeslike
ondeursigtige potjiekos-roesemoes van verwardheid? Dit is nie, hoor.
Lees die boek.

Brian is waarskynlik meer as enigiets anders ‘n gelowige kerkleier
wat deur die Here gestuur word na ‘n nuwe soort Christen, ‘n na-moderne
/ post-moderne konteks. Hy het telkens verduidelik dat almal nie na
hierdie konteks gestuur word, maar sommige wel. Die gestalte wat geloof
in so ‘n konteks praktiseer lyk vir ander vreemd. En na-moderne mense
gooi vir elke klip wat die kerk na hulle slinger dikwels ook maar een
terug. Hy pleit vir begrip en goeie verhoudinge.

McLaren is dus veral ‘n missionele Christen. Dit gaan oor
gestuurdheid. Die karakter van God is dat Hy as Vader, Seun en Heilige
Gees op ’n missie na die wêreld is. Hierdie karakter moet ook in die
kerk gesien word: die kerk is missioneel, gestuurd, na mense in welke
tyd en omstandigheid hulle hul ook al bevind. Die kerk is daar om mense
te dien en lief te hê – of hulle as gevolg daarvan Christene word, of
nie; of hulle goed is en dit verdien, al dan nie.

Hoofsaak is nie dat ons na-moderne kerke moet wees nie. Hoofsaak is
dat die kerk trou aan die evangelie van Jesus Christus moet wees – in
welke konteks die kerk ook al geroep is om te werk, bv: voor-modern,
modern, of na-modern.

Ek is veral getref deur die diepte van die vrae wat die jongmense
hom in die Moederkerk gevra het – veel dieper as bv die vrae van mense
uit my eie geslag by ander geleenthede. Veral die vraag oor
hoop-loosheid by jonger mense was aangrypend. McLaren het in sy
antwoord ‘n sentrale kenmerk van die emergent church-beweging uitgelig:
‘n her-sentrering van kerk-wees op Jesus Christus en die boodskap van
die koninkryk van God. Hy het ook beklemtoon dat die jonger geslag nie
die kwessies wat sy geslag se aandag trek klakkeloos moet oorneem en
die wêreld in terme daarvan moet definieer nie.

Trackback from your site.

Leave a comment