{ARGIEF}

My storie is een van ‘n klomp  “los drade” wat net op ‘n dag onverwags bymekaar gekom het en ‘n betekenisvolle prentjie begin vorm het.   ‘n Voorbeeld van hoe die God wat ons aanbid tot vandag toe op die verrassendste maniere ons geloofsoë oopmaak om te sien waar Hy aan die werk is en te verstaan waarheen Hy ons roep om by sy aktiwiteit aan te sluit.

Die los drade was in my lewe die volgende:

  1. Die afgelope 9 jaar het ek saam met my man, Ben, elke jaar met ‘n span uit ons gemeente uitgereik na ‘n afgeleë Boesman nedersetting in Botswana.  Mettertyd het die Tswanasprekende gereformeerde gemeente in Ghanzi met ons begin saamwerk, en spoedig die verantwoordelikheid en inisiatief op hulle geneem, terwyl ons hulle net heelhartig daarin ondersteun het.  Vanjaar het hulle en ons onafhanklik van mekaar besef dat omstandighede op die nedersetting intussen so verander het, dat ons as bedieningsvennote – in plaas van ‘n volskaalse uitreik – net eers moet beraadslaag en die wil van die Here moet soek oor die aard, doel en voortsetting van die uitreik.  (Intussen probeer ons twee ook al geruime tyd vergeefs om aan die uitreikspan te onttrek sodat jonger mense die leiding kan oorneem.)
  2. Nadat ons twee aktief deel was van ‘n lang proses van visionering wat in ons gemeente plaasgevind het, is die Netwerk-kursus aangebied en het ons dit (uit lojaliteit ?) ook bygewoon.  As afgetredenes wat teen wil en dank moet erken dat ons nou deel van die senior lidmate uitmaak, het ek gedink dat ek darem na ‘n leeftyd in die kerk en jare in die onderwys ‘n redelik goeie idee het van wat die gawes is wat die Here deur sy Gees vir my gegee het en wat Hy daarmee wil doen.    Tot my algehele verbasing het ander mense die gawe van gasvryheid by my geïdentifiseer.  Om alles te kroon, het die MB-toets gewys dat ek ‘n definitiewe ekstrovert en gevoelsmens is, presies die teenoorgestelde as die beeld wat ek van myself gehad het, of in elk geval wat ek as kind en jongmens was! Dit alles het my skielik “oop” gemaak vir nuwe moontlikhede…
  3. Die afgelope paar maande loop ek my kort-kort vas teen nuusbriewe of verwysings na Jurie en Magdaleen Goosen se bediening aan internasionale studente hier op Stellenbosch, selfs ‘n nuusberig in die Eikestadnuus oor die sowat tweeduisend buitelandse studente wat tans hier studeer.   Die styl van Jurie-hulle se bediening  is veral om vriendskap en gasvryheid te bewys, praktiese hulp te verleen en ‘n warm tuiste te help skep vir veral die senior (baie van hulle getroude)studente en hulle vrouens.   Baie van hulle kom uit lande wat geslote is vir die evangelie, die sg. 10/40-venster. Ek het dadelik besef wat dit kan beteken as hierdie jong volwassenes, wat dikwels die room van hulle land se nagraadse studente is, hier in my dorp met die praktiese liefde van die Here Jesus kan kennis maak voordat hulle teruggaan na hulle eie land….
  4. Ons het in die afgelope paar maande die onbeskryflike vreugde beleef van die geboorte van ons eerste twee kleinkinders.   Enkele dae voordat ons seun-hulle se dogterjie in April gebore is, het die vroutjie van ‘n Chinese student hier in dieselfde Medi-Clinic geboorte gegee aan hulle eerste dogtertjie – terwyl sy feitlik nog geen woord Engels kan praat nie.  Ek het gedink ‘n surrogaat-ouma kan dalk aanvaarbaar wees, en het onmiddelik nog truitjies begin brei vir die klein Chinesie.   Wat was my verbasing groot toe ek die eerste keer Magdaleen se weeklikse vrouegroep gaan besoek om my nuwe “aangenome” kleinkind te ontmoet en die groot klomp klein kindertjies onder twee, drie jaar sien wat lustig saam speel en skree terwyl hulle ma’s kuier en die mengelmoes van kultuurgrense oorbrug. Daar was die pragtigste jong vroue uit Libië, Marokko, Bangladesh, Eritrea, Malawi, Indië, China, Korea, Kanada, Duitsland – om maar net dié te noem wat ek in ‘n kort oggend leer ken het.
  5. Die Here het my van jongs af ‘n “hart vir die sending”gegee – ek het selfs my lewensmaat op ‘n Transkei-werkerskamp gevind.  Ver lande, tale en kulture het my nog altyd geboei, ook geestelik.  Maar die half romantiese idee van ‘n roeping en  geleentheid om ver land-uit die evangelie te gaan bring, het nog nooit gematerialiseer nie, en ek was heel tevrede om my geloofsroeping net hier uit te leef waar ek my bevind.   Maar dat God op hierdie tydstip die wêreld so gerieflik op ons drumpel hier in Stellenbosch sou kom neersit, het ek nooit verwag nie.  Dis so verrassend, dis eintlik amusant!
  6. Jurie Goosen-hulle het vanjaar binne ons gemeentegrense in hulle eie huis ingetrek, en op presies dieselfde Sondagoggend (onbeplan!) dat die gemeente in die eredienste die aankondiging hoor dat daar vanjaar nie ’n uitreik Botswana toe (met die gebruiklike golf van energie,  aktiwiteit, donasies en meelewing wat elke jaar daarmee gepaard gegaan het) sal plaasvind nie, en dat ons nuwe gemeentevisie en  –missie aan die gemeente bekendgestel word (hoor hier: Geroep, gewillig, gestuur ) kry Jurie ná die preek‘n geleentheid om in ‘n kort  PowerPoint-aanbieding hierdie bediening aan buitelandse studente bekend te stel.   Ek weet nog nie wie anders in die gemeente almal die konneksie gemaak het nie, maar dis so goed of ek sit in Paulus se plek blindgeslaan in ‘n huis in Reguitstraat en Ananias kom daar in  met die Here se boodskap: meteens val die skille van my oë af en sien ek die groter prentjie.

Los drade?  Nee, eerder ‘n meesterlike Weefkunstenaar, as jy my vra.

Corrie du Toit

Ns. En as jy nog altyd geneig was om God se teenwoordigheid veral in die erediens en ander samekomste van jou gemeente te verwag en te ervaar, gaan dink weer.   Dalk moet ons almal ‘n bietjie meer rondkyk buitekant die kerk se hoë mure. Mure en drumpels wat so hoog is dat die wat buite is, Hom nie daarbinne kan sien nie, en ons wat binne is, nie kan sien waar Hy daar buite in die strate en geboue van ons eie dorp doenig is nie.