{ARGIEF}

DIE UITDAGINGS VAN ARMOEDE, WERKLOOSHEID EN ONGELYKHEID

Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Teologiese dag, wat die amptelike opening van die akademiese jaar inlui, vind plaas op Maandag 2 Februarie 2015 van 09:00 – 13:00 in die Attie van Wijk Ouditorium by Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171, Stellenbosch. Die tema vir die geleentheid is: Teologie en die openbare lewe: die uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid.

Prof Nico Koopman, dekaan van die fakulteit, sal die tema inlei, waarna Dr Mamphela Ramphele as hoofspreker sal optree. Ds Malcolm Damon, uitvoerende direkteur van die Netwerk vir Ekonomiese geregtigheid, Prof Ronelle Burger van die departement Ekonomie, US en Prof Piet Naudé, direkteur van die US Nagraadse Bestuurskool (USB), sal aan die paneelbespreking deelneem.
In 2015 word die 100ste herdenking van Beyers Naudé se geboorte gevier, en die tema vir die Teologiese Dag is in lyn met sy oproep vir ‘n teologiese en profetiese reaksie ten opsigte van die openbare lewe, insluitend sosio-politieke en ekonomiese aspekte. Die 30ste herdenking van die Kairos dokument wat bekend is vir sy profetiese boodskap, word ook vanjaar gevier. Tydens verlede jaar se Teologiese dag het die voormalige minister Trevor Manuel gefokus op die Nasionale Ontwikkelingsplan, gevolg deur response deur teoloë. Hierdie jaar sit ons die gesprek voort: Hoe moet Christene, kerke en die ekumeniese beweging reageer op die reuse uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid? Hopelik kan die gesprek bydra tot ‘n proses van verdere mobilisering en teoretiese en teologiese diepte.
Bywoning is gratis en almal is welkom! Parkering by die fakulteit is beperk en gaste word aangeraai om te parkeer in die Laan of op die walle van die Eersterivier (oorkant Paul Roos Gimnasium). Laat ruim tyd toe vir verkeersdruk.
Die openingserediens van die fakulteit vind plaas op Sondag 1 Februarie 2015 om 19:00 in die Stellenbosch United Church, Van Riebeeckstraat 8, Stellenbosch. Die prediker by hierdie geleentheid is Dr Dion Forster. Ds David Hunter sal as liturg optree.
Navrae: Helette, e-pos hvdwest@sun.ac.za, tel 021 808 3255.