11 Julie – 6de Sondag in Koninkrykstyd Kol 1:1-14

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Voordat ons verder gaan met hierdie storie, net die volgende. In hfst 2 (lees ook hfst 2:16-23 saam met hierdie gedeelte: dit gee belangrike agtergrond wat Paulus uiteraard reeds hier in sy inleidende opmerkings asook in sy gedagtes rakende die aard en werk van Christus, in gedagte gehad het) praat Paulus teen ‘n bepaalde godsdiens – wat oa fokus op vernedering, wat gepaardgaan met ‘n asketiese leefwyse en waar die vernuwingsproses te doen gehad het met nuwemaansfeeste. Hierdie soort godsdiens(te) het skynbaar ‘n groot aantrekkingskrag in daardie tyd gehad.

Normaalweg het dit soos volg gewerk. As die maan begin kleiner word, het die proses van vernedering begin. Die “groentjies” is uit die slaap gehou, het min kos gekry en is ook pak gegee (daar is bewyse dat hulle selfs met ‘n sweep geslaan is!).

Dit wil lyk of ontgroening (doop) soos ons dit destyds in universiteitskoshuise geken het, hierop geskoei was. Ek wil interessantheidshalwe op enkele ooreenkomste wys. Miskien help dit ons om (die “dwase” van) daardie godsdiens(te) beter te verstaan.

Eerstejaars (groentjies) destyds het “tekkiepaarties” goed geken. Die seniors het wydsbeen gestaan met ‘n tekkie in die hand. Die eerstejaars moes so vinnig as moontlik deur hul bene kruip, terwyl hulle geslaan word. Daar is dikwels vir allerhande oortredings onder eerstejaars gesoek, net sodat hulle met ‘n tekkie geslaan kon word. Party seniors het sekere eerstejaars tussen hul knieë vasgeknyp sodat almal ‘n paar ekstra houe kon kry! Seniors het hul bes gedoen om eerstejaars te verneder.

Ontgroening in daardie jare is ook aan min slaap en voedselinname gekenmerk. Eerstejaars moes bv ‘n “pil” of ander “konkoksie” sluk – wat natuurlik uit die slegste denkbare bestanddele bestaan het. Dit is gelukkig later met goeie rede verbied!

Maar goed, tydens hierdie afbreekproses in die Bacchiese godsdiens, moes die nuwelinge ook sekere goed leer. Formules, rituele, liedjies, asook geheime kennis van Bacchus se dood en wedergeboorte.

Ons onthou nog die koshuisliedere en -krete asook allerlei tradisies/geheime kennis wat by eerstejaars ingeprent is/word. Jy moes die storie van jou groep ken. Jy moes dit jóú storie maak. Jy is behoorlik afgebreek, veral as jy ‘n bietjie hardekwas was. Jy moes jou sitvlak soms op die grond stamp. Saam hiermee moes jy gewoonlik iets sê soos: Sitvlak word sag …

Nadat jy in die Bacchiese godsdiens goed afgebreek is, of dan simbolies gesterf het, was dit gewoonlik die tyd wat die nuwe maan begin uitkom het. In die Bacchiese godsdiens was dit ‘n soort doopritueel. Na die slae is die naakte persone gedoop en het hulle nuwe klere ontvang. Amper soos in die ou dae toe die eerstejaars deur ‘n modderbad gejaag is, daarna skoon gewas is en nuwe klere moes aantrek!

In hierdie misteriegodsdienste het hierdie handelinge uitgeloop op ‘n visioen van Bacchus. Die sg epifanie. Jy kon hiervolgens selfs sien hoe die engele aanbid, vertel Paulus. Die god se identiteit het jóú identiteit geword. Dit was simbolies jou wedergeboorte. Nuwelinge het ‘n nuwe naam ontvang. Beloftes is afgelê. Jy het ‘n volwaardige lid geword. (Klink dit nie bekend nie!)

Die kultiese rituele is afgesluit met ‘n partytjie van eet en drink. (Paulus praat van ‘n versadiging van die vlees). Net soos dit vandag nog gebeur na ontgroening/doop. Gewoonlik met ‘n braaivleis, wat gepaardgaan met “bonding” van die groep.

Watter effek het hierdie soort godsdiens op mense gehad? Dit het die beginsel van eksklusiwiteit en vernedering versterk. Sterk groepe is gevorm. ‘n Sekere groep was in, ‘n ander uit.

En nou kom sê Paulus dat hy hierteen is! Teen hierdie manier van groepvorming en vernedering (hy praat van danige nederigheid). Dit het gelei tot die onderdrukking van slawe, vroue en kinders. Die groter samelewingstendense word maar net deur hierdie kultus weerspieël. Dit het geen veranderingsinvloed op die wêreld daarbuite gehad nie.

Vroeër jare in koshuise het bogenoemde handelinge normaalweg gelei tot die onkritiese aanvaarding van gesag. Tradisie was alles (natuurlik is tradisie ook goed, net nie ten koste van nie …). Kreatiwiteit is nie eintlik geduld nie. Baie van ons is verlig dat ontgroening, of liewer verwelkoming, vandag ‘n bietjie anders werk!

Wat stel Paulus voor? Hy vra dat ons Jesus se storie óns storie sal maak. Hy nooi ons uit om deel van ‘n nuwe liggaam te word – Christus se liggaam. Dit gaan ook oor sterf en herlewing. Daarom kan Paulus sê: Nou leef ek nie meer nie, maar Christus leef in my.

Hierdie “inlywingsproses” wat Paulus bepleit, word nie deur eksklusiwiteit en vernedering gekenmerk nie. Paulus skryf: Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier kom mense onder die heerskappy van Christus. Hier is Christus alles in almal!

Dit was eintlik ‘n rewolusionêre storie. Is ons samelewing vandag nie juis stukkend en verwond omdat dit in die verlede deur valse narratiewe (of mites, rituele) gedra is nie? Wat sekere mense se identiteit ontken en van ander tropdiere gemaak het nie?

Ons moet ‘n brawe, nuwe wêreld in Christus help vestig. Geloof, hoop, liefde, inklusiwiteit, eerbied, menswaardigheid moet herbore word. Dít sal genoeg rede vir oorvloedige blydskap en dank wees.

[Bron: Lewende Woorde: Vol 6/4 1998]

Chris Jones

 

 

 

 

 

 

Trackback from your site.

Leave a comment