{ARGIEF}

As verwysings na die rol van die Heilige Gees dalk ietwat ontbreek het in die ander drie ASM aanbiedings (sien http://www.communitas.co.za/tussenin/ vir ‘n oorsig van hierdie aanbiedings), dan het Inagrace Dieterrich opgemaak daarvoor in die vierde (en laaste) ASM aanbieding oor “A Vision for the Sending of the Church in North America – Ten Years On”.  En dit het alles te make met haar basiese vertrekpunt dat daar nie ‘n model vir “missional church” is wat net so oorgedra kan word van een geloofsgemeenskap na ‘n ander nie, maar dat gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding nodig is vir gemeentes om hul unieke deelname aan God se sending in die wereld te ontdek.  Haar basiese definisie van missional church is “Faith communities of God’s people faithfully discerning their participation in God’s mission”.  In so ‘n definisie is die fokus op die primere agentskap van God in die wereld d.m.v. die teenwoordigheid en aktiwiteit van die Heilige Gees, en meen sy tereg dat die kerk eerder die lokus van sending is (die plek waar die Gees praat en werk) as die agent van sending is (sy haal Lesslie Newbigin aan in die verband).  Op die manier maak sy die belangrike konneksie tussen sending en doksologie:  “Mission as acted out doxology… the purpose of mission not to enlarge the church or to extend its purpose, but to glorify God as the present and acting Agent in the world”.

In haar aanbieding oor die persoon en werk van die Heilige Gees het sy veral gefokus op “the missional Spirit as Creator Spirit, Eschatological Spirit, and Koinonia Spirit”. Elkeen van hierdie drie beklemtonings bring ‘n noodsaaklike perspektief op geloofsgemeenskappe se deelname aan God se sending in die wereld:

  • Skepping:  “The Spirit of life is at work in the entire creation… continuing to recreate… creation and redemption belong together.  False distinctions between spiritual and material… realistic understanding of the work of the Spirit in all of creation.” So ‘n pneumatologie verhoed gemeentes om hul verstaan van kerk-wees te vergeestelik in verhouding tot die alledaagse lewe en die materiele wereld waarin ons leef.
  • Eskatologie:  “Spirit as transcending immanence (involved in reality, but beyond our capacity to imitate)… we are drawn beyond ourselve.  The beyond draw human persons out of themselves into an eschatological openness to God’s transforming presence and activity.  The power of God’s future is active in our midst… a future beyond our imagination.  The church has its roots in the future and its branches in the present.” So ‘n pneumatologie verhoed dat die Gees geidentifiseer kan word met die self of die materiele wereld, en beklemtoon juis die noodsaaklikheid vir voortdurende prosesse van geloofsonderskeiding met ‘n openheid vir die Gees om ons voortdurend buite ons gemaksones te beweeg.
  • Koinonia:  “Koinonia is not a romantic idea but the messiness of concrete real life relationships”. So ‘n pneumatologie beweeg ons ook buite die self na die sentraliteit van verhoudinge met God, mekaar, en die vreemdeling, as die manier waarop gemeentes geloofsonderskeiding beoefen te midde van al die moeilike dinamikas en grys areas teenwoordig in verhouding met die Ander en ander.

Inagrace het die ASM gehelp met ‘n bruikbare missionaal-teologiese raamwerk waarin die agentskap van God tot die reg kom.  ‘n Mens wonder hoe dit in die alledaagse roetines van geloofsgemeenskappe lyk.  Die konferensie was bevoorreg om ten minste een so ‘n storie te hoor… wat ek graag more in ‘n volgende blog bydrae wil vertel.